Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
In die land van ang(el)s en heuning

Dis hoe ’n tap-heuningkorf (flow-honey hive) lyk. Dié korwe word toenemend gewild.
Byeboerdery is soet, maar uitdagende werk. Gerda-Marié van Rooyen vind meer uit.

Om ’n byeboer te wees verg ’n balanseertoertjie wat met wysheid, werskaf en soms angels gepaardgaan, maar laasgenoemde is nie die ding waarvoor Jaco Swanepoel, van die plaas Mooiplaas in die Vredefort-koepel, die bangste is nie.

Sy grootste vrees is dat sy bye eensklaps ’n ander tuiste kan soek.

Sy grootste vrees is dat sy bye eensklaps ’n ander tuiste kan soek. Twee ander byeboere, Alta Grobler van Parys en Linde de Jager van Bloemfontein, is dit eens met Jaco – ondanks die uitdagings bly dit lekker om ’n byeboer te wees.

Die heuningmaker

Daar word gewaarsku die mensdom se langtermyn-oorlewing sal baie onseker wees sonder bye, aangesien 30% van ons kos afhanklik is van direkte bestuiwing deur bye, sê Linde.

Jaco voeg by: “Sekere gewasse se bestuiwing hang 80% net van bye af. Hulle dra ook baie by tot die produksie van saad en daarsonder sal sekere gewasse se saad moeiliker bekombaar wees en minder geplant kan word.”

Hy sê afgesien van omgewingsfaktore bedreig die spuit van insekdoder op lande en verskeie diere ook byekorwe.

“Die byekorfkewer en wasmot infesteer ook soms kaste, maar as die swerm sterk en in ’n goeie kondisie is, kan die bye die indringers beheer of selfs verdryf.

“Bobbejane en ratels is ’n ander storie. Bobbejane gooi die kaste om en die swerm trek weens die versteuring. Ratels verwoes kaste om by die heuning uit te kom en steur hulle boonop nie aan die bye se steek ter verdediging nie.”

Om ’n sterk swerm te hê én te behou moet die bye toegang tot genoeg water en kos hê en die temperatuur moet reg wees.

Hy sê bye trek soms vir duistere redes en dít laat menige byeboer angstig. “Bye kan maklik trek en hoewel dit ’n interessante komponent van byeboerdery is, is dit ook vreesaanjaend.”

Om ’n sterk swerm te hê én te behou moet die bye toegang tot genoeg water en kos hê en die temperatuur moet reg wees. “Hoe meer nektar hulle gebruik vir energie om warm of koel te bly of lang afstande af te lê, hoe minder heuning is daar vir ons om te oes.”

Bye aan die werskaf om heuning te maak.

Plant liewer kos

Jaco sê hoewel baie mense wil help deur bye suikerwater te gee, is dit nie die beste manier nie.

“Suikerwater is baie sleg vir bye, want dit maak hulle siek,” waarsku Alta.

Suikerwater is baie sleg vir bye, want dit maak hulle siek.

“Suiker is deur baie prosesse wat onnatuurlik vir bye is en waarskynlik ’n negatiewe effek op hulle kan hê as hulle lang en aanhoudende blootstelling daaraan kry,” beaam Jaco. “Ek sou eerder mense aanmoedig om blomme, en veral bome, te plant waaruit bye kan voordeel trek.”

Hy sê bome het heelwat meer bloeisels as wat mens besef en hul blomtyd duur lank.

Maar hoe gemaak met ’n enkele, moeë by wat verdwaald lyk?

“Sit die by in ’n sonnige plekkie. Hoewel die by waarskynlik sal sterf, kan jy ’n druppel heuning vir die by gee, omdat sy waarskynlik haar energie opgebruik het,” sê Linde. “Onthou dat ’n werker ongeveer 40 dae lank lewe. So, die kans is goed dat so ’n by aan die einde van haar lewe gekom het.”

’n Swerm kan binne een maand uitsterf as daar nie geboortes is nie. Juis daarom hanteer boere hul bye met ontsag.

Hy sê hoewel werkerbye ’n kort lewensduur het, leef die koninginby gewoonlik langer. ’n Swerm kan wel binne een maand uitsterf as daar nie geboortes is nie. Juis daarom hanteer boere hul bye met ontsag.

“Ons kan slegs die heuning oes wanneer dit gereed is en dít is wanneer die persentasie vog laag is en die sel met was geseël is. Andersins gebruik ons die bye se kosbron wat hulle nodig het om heeltyd te bestuif, heuning te maak en te teel,” sê Jaco.

Alta voeg by: “As ons heuning oes, haal ons net die boonste gedeelte, wat die ‘super’ genoem word, af en ons los die bye in hul korf, waar hul eiers en voedselreserwe is.”

Lopende goud

Linde sê ’n korf met ’n sterk swerm, wat tussen 50 000 en 100 000 bye het, kan tot twee keer per seisoen tien 500 g-bottels heuning lewer. Omdat bye die kortste pad na hul voedselbron kies, sal hierdie natuurlike beginsel bepaal watter soort heuning gemaak word.

“By ons is akasia- en bloekombome en dus sal die nektar van die bome se blomme gemaak word. Ek poog vir ’n vlak 4- voedselbron, wat beteken dat die bron goeie nektar en ’n hoë stuifmeelpersentasie lewer.”

Albei moet volgens Linde in balans wees, aangesien stuifmeel proteïen bevat wat die kleintjies benodig, terwyl die nektar in heuning omgeskakel word.

Omdat verskillende plante op verskillende tye blom, is “ryp” heuning op verskillende tye van die jaar beskikbaar.

Hy sê omdat verskillende plante op verskillende tye blom, is “ryp” heuning op verskillende tye van die jaar beskikbaar. Hierdie boer, wat hoofsaaklik heuning van bloekom- en soetdoringbome se nektar verkoop, sê sy bloekomheuning is veral in die Vrystaat gesog.

Alta, wie se gunstelingheuning van kosmos kom, is so lief vir haar werk dat sy vies word as verbruikers verkul word.

“Mense sal heuning van China invoer en dit met Suid-Afrikaanse heuning van topgehalte meng of selfs heuning met stroop meng. Dit is dan waardeloos – net soos wanneer dit in ’n mikrogolf verhit word. Dit (die kullery) sal maak dat suiwer heuning nog so waardevol soos goud raak.”

Daar is min maniere waarop ’n verbruiker kan bepaal of die heuning suiwer is. Die maklikste, volgens Linde, is om die botteltjie lopende heuning onderstebo te draai. “As daar ’n lugborrel vorm wat stadig na bo beweeg, is dit ’n teken van suiwer heuning. Die enigste betroubare, wetenskaplike toets is ’n sukrose-toets, maar dis baie duur en word oorsee gedoen. Die watertoets (wat daarop neerkom dat kunsmatige heuning maklik oplos en suiwer heuning nié) is nie ’n betroubare toets nie.”

Die boer agter die by

Hoewel dit die bye is wat heuning produseer, is dié soort boerdery allermins ’n passiewe werk. Jaco sê dit verg baie meer tyd, moeite en aandag as wat mense dink. “Dit is baie arbeidsintensief. Ek moet gereeld die kaste nagaan om peste en plae te identifiseer of te bepaal of die kondisie van die swerm gunstig is.”

As ek nie oes afhaal nie, herstel ek korwe of berei ek vir die komende seisoen voor.

Linde, wat 120 korwe besit en alleen daarna omsien, sê die boerdery verg regdeur die jaar sy aandag. “As ek nie oes afhaal nie, herstel ek korwe of berei ek vir die komende seisoen voor.”

Alta beaam dit: “Daar is nie beperkte ure nie en dis fisiek harde werk. Party mense dink dis ’n maklike manier om geld te maak, maar soms kom ’n kouefront en vernietig die aalwyne waarop bye teel of die bye dra stuifmeel in die korf in nadat hulle op ’n land was waar gewasse bespuit is.”

Misdaad is ook ’n faktor en sy het verlede jaar meer as R600 000 se skade gely weens diefstal en vandalisme. “Sommige mense steel die korwe, en as ’n by hulle steek of dit (die boerdery) moeiliker is as wat hulle gedink het, los hulle die bye (in ongunstige toestande) agter.”

Al drie boere pleit dat byeboere eerder genader word voordat daar korte mette van onwelkome byneste gemaak word.

Jaco, wat die laaste vier jaar met bye boer, sê van sy 70 kaste se bye bestaan juis uit trekswerms, wat gevang en verskuif is. Die koste om bye te laat verwyder, wissel tussen R300 en R2 000 afhangende van die moeilikheidsgraad om die swerm te bereik en reiskoste.

“Ons probeer binne ’n week reageer op swerms wat reeds ingetrek het, maar as dit ’n trekswerm is, is daar gewoonlik nie meer as ’n dag of twee tyd nie.”

Linde vertel hy was al onder houtvloere en by komposhope in om ’n swerm te vang, maar dit skeel hom min. “Ek geniet dit vreeslik. Ek sien interessante plekke en ontmoet interessante mense.”

Daar is toenemend ’n vraag na tapheuningkorwe (flow-honey hives). “Hierdie korwe is ontwerp sodat heuning direk uit die korf afgetap kan word,” sê hy. Die lekkerste heuning, sê Jaco, is “enige heuning wat net so uit die heuningkoek kom - veral as dit uit my omgewing met doringbome en bergaalwyn is”.

Meer oor:  Vredefort
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.