Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
In die vallei van wyn en heuning

Op die laaste besoek aan Stellenbosch het Suzaan Potgieter die wyk Bottelaryheuwels verken en nie net topklas-pinotage ontdek nie, maar ook ander verrassings.

Die pinotageburger en Beyerskloof- pinotage is ’n onvergeetlike kombinasie wat jy móét probeer.Foto’s: VERSKAF

Die Bottelaryheuwels-wyk van die Stellenbosch-wynroete is ’n onvergeetlike roete wat jy self sal moet ontdek en uittoets.

As die eerste een van dié dorp se wynroetes wanneer jy van die N1-snelweg afdraai op die R304-pad, sal jy waarskynlik jou Stellenbosch-reis hier begin – of selfs afsluit. Waarna jy kan uitsien, sluit meer as goeie wyn en kos in, want elke plek bied iets anders en selfs meer interessant as die vorige.

Jou roosterkoek-stop

’n Vinnige afdraai na Koelenhof is ’n moet as jy in Stellenbosch is, want waar anders gaan jy vars roosterkoek kry?

Hier bederf hulle jou met roosterkoeke met al die gunstelinge daarby: konfyt, kaas, salami en biltongpatee.

En natuurlik kan dit gepaardgaan met ’n wynproe.

Keuses is ook aan die orde van die dag en jy kan self meng en pas. Roosterkoeke kos R12 een en dan betaal jy per item wat jy daarmee saam wil hê, terwyl wynproeë R25 vir vyf wyne kos.

Probeer gerus die Koelenbosch-reeks se pinotage (R80) en merlot (R80). ’n Soete bederf is ook die Koelenhof-reeks se Pinorto (Cape Ruby) wat teen R85 ’n bottel beskikbaar is.

Hulle bied ook ’n sjokolade-enwynproe-passing (R65) vir die suikertande. Vir die kleinspan is ’n sapproe van Koelenhof se druiwesap beskikbaar. Dit kos R20 en sluit twee sappe en lekkernye in.

Hier kan jy as’t ware iets vir die hele familie se voorkeure vind en boonop ’n prettige ervaring daarvan maak.

Koelenhof is van Maandae tot Saterdagmiddae oop.

  • Kontak: 021 865 2020

Pinotage se baas

Die naam Beyerskloof is deesdae sinoniem met pinotage en jy kan uit die aard van die saak hier uitsien na topklas-pinotagewyne.

Vier wyne en vier pizzas wat mekaar komplementeer is by Bellevue beskikbaar. Die pizzas is selfs na die wyne genoem.

Hier kan jy jou keur van pinotage geniet – van die Beyerskloof Pinotage 2017 (R75) en die Pinotage Reserve 2016 (R155) tot die bekroonde Diesel Pinotage 2015 (R750). Hulle is almal heerlik, soos ’n eg Suid-Afrikaanse pinotage behoort te wees.

Beyerskloof maak egter steeds ander wyne soos ’n chenin blanc/pinotage-versnit én ’n droë pinotagerosé.

Jy sal egter self moet probeer en kyk watter jou gunsteling is. Die proelokaal bied verskillende proe-opsies aan wat tussen R30 en R60 kos.

Moenie vergeet van die Red Leaf Bistro wat ook daar is nie. Hier kan jy jou liefde vir pino­tage verder neem deur die kenmerkende pinotageburger (R135) te beproef. Hulle bedien ook voorgeregte, ander hoofgeregte, pizzas en nagereg.

Beyerskloof is van Maandae tot Sondae oop.

  • Kontak: 021 865 2135

Rooiwynhemel

Vir rooiwynliefhebbers is Kaapzicht net die plek waar jy wil aanklop.

Van pinotage (R142) tot cabernet sauvignon en shiraz. Daar is ook ’n cinsaut, pinot noir, merlot en ’n paar rooiwynversnitte – iets van alles.

Hulle het egter ook witwyne en die chenin blanc is die probeer werd. Op warmer dae kan jy gerus ’n bottel koop en buite sit en dit geniet.

Wynproeë kos R20 vir vyf wyne van jou keuse.

Wees ook op die uitkyk vir die Steytler Pinotage 2015 (R450), wat ’n bekroonde wyn is.

Hulle is van Maandae tot Saterdae oop.

  • Kontak: 021 906 1620
Villiera se proe-en-passing sluit MCC en nougat in. Spesiaal vir borrelliefhebbers en suikertande.

Pizza plus wyn

Met ’n pizzaoond wat altyd gereed is om te bederf, is Bellevue net die plek vir informele kuier met dié lekkerny en wyn.

Onder die dak óf op die gras – hier kan jy uitsien na ure se gesels terwyl jy heerlike wyn drink en peusel aan pizza.

Bellevue se uitsonderlike wyne sluit die pinotage (R110), sauvignon blanc (R75) en chardonnay (R50) in.

Die pizza-en-wynproe-passing (R80) is ’n kombinasie van vier pizzas wat elk spesiaal gemaak is om ’n wyn te komplementeer. Daar is ’n paar interessante kombinasies, maar alles werk goed saam.

Die pizzas is almal genoem na die wyn wat die beste daarby sal pas. Kies dus tussen die Pinotage Pizza, Chardonnay Pizza, Shiraz Pizza en nog meer. Dit kos tussen R100 en R135 per pizza.

Behalwe die pizzas is daar ook kaasborde, ander hoofgeregte, nagereg en ’n kinderspyskaart.

Hulle is van Dinsdae tot Sondae oop en besprekings oor naweke word aanbeveel.

  • Kontak: 021 865 2054

Gemak en genot

Goeie wyn, goeie kos en ’n warm atmosfeer is deel van Hartenberg se aanbiedinge – dít alles in ’n gemaklike en snoesige proe­lokaal en omgewing.

Hier maak hulle riesling in drie verskillende style, wat ’n droë-styl en ’n edel laatoes insluit. Al drie moet beslis op jou proelysie wees. Jy moet ook Hartenberg se shiraz (R190), cabernet sauvignon (R190) en die versnit van dié twee druifsoorte (R92) uittoets.

Wynproeë kos R50 of R150 afhangend van die wynreeks wat jy wil proe.

Hulle bied ook middagetes, wat insluit ’n kaasbord (R160) vir peusel, slaai, sop en burgers. Jy kan ook chardonnay-hoender (R120) en steak-en-shiraz (R230) bestel. Laasgenoemde sluit ’n glas shiraz in en is net Vrydae en Saterdae beskikbaar.

In die somer bied hulle ook pieknieks op die grasperk.

Hulle is van Maandae tot Saterdae oop, en is van Oktober tot Paasnaweek ook Sondae oop.

  • Kontak: 021 865 2541

Borrels en bakkies

Of jy Villiera nou besoek om borrels te geniet of op die bakkie te spring en die wild te gaan kyk, dit bly steeds ’n bestemming vir hope pret.

Wynproeë, wildkykritte, proe-en-passings, MCC en stilwyne – met só ’n groot verskeidenheid sal jy heerlik kuier.

Die MCC-proe met nougat (R110) is ’n treffer wat die MCC se beste smake na vore bring.

Gewone wynproeë kos R35 vir sewe wyne. Probeer die Tradi­tion Brut NV (R116) en Monro Brut 2011 (R222) MCC’s. Behalwe die reeks MCC’s is daar ook rooi- en witwyne wat jy op die proef kan stel.

Die wildkykritte behels ’n rit deur die 220 ha waar die wild loop en neem ongeveer twee uur. Jy kan uitsien na onder meer kameelperde, springbokke, koedoes en nog meer.

Daar is ook baie voëlspesies om te sien, so neem gerus die verkyker saam!

Dit kos R240 per volwassene en sluit ’n wynproe en keldertoer in. Kinders onder 15 jaar betaal R120.

Hulle is van Maandae tot Saterdae oop.

  • Kontak: 021 865 2002
Meer oor:  Stellenbosch  |  Doendinge  |  Kos En Wyn  |  Restaurante  |  Wynproe  |  Wynroete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.