Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kaapse restaurant spog met meeste melkskommels ter wêreld

Sjokolade is sekerlik min mense se vyand, maar jy moet ’n ernstige suikertand hê as jy kans sien vir die Chocolate Nemesis Freek-melkskommel van 850 ml.

Dis een van 207 melkskommelkeuses by die restaurant wat die Guinness World Records-titel gewen het vir die restaurant in die wêreld met die grootste verskeidenheid melkskommels. Die beste van alles is, die restaurant is hier in Suid-Afrika!

Doron Duveen, mede-eienaar van Gibson’s Gourmet Burgers & Ribs in die V&A Waterfront in Kaapstad sê dit was nie die aanvanklike plan om so baie melkskommels op die spyskaart te sit nie.

“Ons het idees vir verskeie geure gehad en ons wou voorbly wat mense se voorkeure betref. Toe ons weer sien was daar 207 melkskommels op die spyskaart!” sê Duveen.

Gibson’s hou die Guinness World Records vir die grootste verskeidenheid van melkskommels in ’n restaurant. Foto: Facebook/ Gibson’s

Guinness World Records het eers doodseker gemaak die restaurant voldoen aan al sy vereistes. ’n Klomp papierwerk is oor en weer tussen Kaaptad en Londen gestuur en die spyskaart en bestanddele is deeglik nagegaan. Bekende koskenners soos Jenny Morris, Pete Goffe-Wood, Justin Bonello, Giorgio Nava en Clarice Gomes is gekeur om as beoordelaars op te tree.

Proe is glo, dus moes die restaurant se personeel om 06:00 op die oggend van 17 Oktober verlede jaar aantree om elk van die 207 melkskommels op die spyskaart te maak.

“Die beoordelaars het gekyk hoe die melkskommels gemaak word en elkeen geproe om seker te maak dit stem ooreen met wat op die spyskaart staan, dat dit werklik beskikbaar is en dat elk uniek proe.”

Dié hele proses het van 06:00 tot 11:20 geduur, terwyl die personeel melkskommels soos Cinnamon Doughnut, Smarties, Malva & Custard, Sweet & Salted Popcorn en Nutella vir die beoordelaars opgedis het.

Gibson’s het daarna die video van die proses na die Guinness World Records in Londen gestuur, waarna die inligting geverifieer is en die prys toegeken is.

“Ons is oor die maan oor die prys. Ons is eerste in Kaapstad, in Suid-Afrika, in Afrika en in die wêreld hiermee en dit het wonders gedoen vir ons spangees,” sê Duveen.

Op ’n vraag oor watter melkskommel die gewildste op die spyskaart is, sê Duveen klante is mal oor enigiets met sjokolade in.

Daar is ook vetvrye melkskommels, melkskommels vir veganiste en melkskommels wat alkohol bevat vir diegene ouer as 18.

Daar is 207 melkskommels om van te kies by Gibson’s in die Waterfront. Foto: Facebook/ Gibson’s

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.