Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Kaapse Vlakte se lekker kerries

‘Dit was die somer van 1980 in die hart van Manenberg, wat baie mense die Kaapse Vlakte noem en ander die bendegebied. Rye en rye drieverdieping-woonstelle opmekaar. Wasgoedlyne met ’n kleurvolle tapisserie van skoon wasgoed so ver soos die oog kan sien . . . Ja, dit was Manenberg. Ons woonplek. Ons het in die onderste hoek van Noel Court gewoon, in nommer 20. Ek kan van die slegte dinge onthou wat in die Court en rondom ons gebeur het, maar alles is oorskadu deur ons hegte en liefdevolle gesinslewe,” vertel Fatima Sydow, medeskrywer van Kaap, kerrie & koesisters.

“Die hart van ons gesin was ons geliefde mammie en pa, Wasiela en Abduragmaan Sydow, ook liefderik bekend as Siela en Maanie. Ons was ses kinders, en dit was moeilike tye. Soos by baie van ons bure was middagete dikwels ’n sny droë brood met suiker of ’n bietjie kondensmelk daarop. Maar saam met ’n beker flou tee, baie keer gemaak met ’n gebruikte, uitgedroogde teesakkie, was dit goed genoeg. Dit was die lewe. En ek kan nie onthou dat ek ooit ongelukkig was daar nie . . . want dit is waar alles begin het – my liefde vir kook, en die reis wat my gelei het na kulinêre hoogtepunte waarvan ek nooit eens kon droom nie.”

‘Kaap, kerrie & koesisters’ – deur Fatima Sydow en Gadija Sydow Noordien

In Kaap, kerrie & koesisters neem die tweelingsusters Fatima en Gadija ons op ’n tradisionele Kaaps-Maleise kosreis wat terselfdertyd ook ’n lewensreis is. Die resepte word saamgesnoer met herinneringe aan hul grootwordjare op die Kaapse Vlakte en die vroue wat so ’n groot rol gespeel het om ’n liefde vir kook en bak by hulle te kweek.

Gadija las by: “Ook my oorlede ouma Gadija Jabaar, en my oorlede tantes Faldela Kamalie, Nazlie Jabaar, Fatima Salie (Mamma Tiempo) en ons ant Shireen Gabier het ’n groot rol gespeel. Ons het dikwels by hulle gekuier en hul manier van kook en bak het ons beïnvloed. Shukran (dankie) daarvoor!”

Die susters glo aan lekker huiskos en resepte wat vinnig, maklik en bekostigbaar is – soos wat hul geliefde oorlede moeder se kookstyl ook was. Maar die boek bevat ook uithangresepte vir daardie spesiale geleenthede. Wat is dan nou lekkerder as ’n pot tradisionele gheema-kerrie, of Fatima se alombekende kerrievis, akni, dhaltjies en piesangbrood? En probeer gerus Gadija se sambals, smoortjies en bredies met die geurigste speserye.

Hoendernekkie-kerrie (fluitjies)

Mense noem hierdie gereg baie keer armmanskos omdat hoendernekkies gewoonlik weggegooi of baie goedkoop verkoop word. Fatima en Gadija het grootgeword met hoendernekkies in ’n kerrie, ’n bredie of ’n smoortjie.

Hul oorlede ma kon hoendernekkies in ’n wonderlike dis omskep en hulle maak die gereg steeds dikwels, veral op koue wintersdae, en bedien dit met varsgebakte brood.

Gheema-kerrrie

Gheema-kerrie is ’n beesvleiskerrie wat gemaak word met vleis wat in baie klein blokkies gesny is, byna soos maalvleis, en dan stadig oor lae hitte gaargemaak word. Die speserye vir hierdie kerrie hang af van persoonlike smaak en verskil van familie tot familie, maar die mengsel speserye in die resep is wat die Sydow-susters en hul families gebruik.

Kaap, kerrie en koesisters is ’n glinsterende kosjuweel en ’n moet vir elke Kaaps-Maleise lekkerbek – en elkeen wat nog altyd meer wou weet van die Kaaps-Maleise kookkuns.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Hoendernekkie-kerrrie

Bedien 6 - 8

60 ml (¼ k) kookolie

2 uie, fyngekap

3 kardemompeule

2 kaneelstokkies

2 brandrissies, in dun sky?es gesny

1 kg hoendernekkies, skoongemaak, besprinkel met sout na smaak

22,5 ml (1½ e) fyngerasperde knoffel

15 ml (1 e) gerasperde vars gemmer

5 ml (1 t) borrie

30 ml (2 e) geroosterde masala

30 ml (2 e) rooi blaar-masala

5 ml (1 t) fyn komyn

5 ml (1 t) fyn koljander

6 aartappels, geskil en in kwarte gesny

250 ml (1 k) gekapte vars koljander

Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige tot hoë hitte, voeg die uie, heel speserye en brandrissies by en braai vir 3 tot 5 minute, of totdat die uie deurskynend en goudbruin aan die randjies is.

Voeg die hoendernekkies, sout, knoffel en gemmer by en braai vir 5 minute. Voeg die res van die speserye by en roer goed. Voeg 375 ml (1½ k) warm water by, sit die deksel op die kastrol en laat kook vir 10 tot 15 minute oor matige hitte. Roer af en toe. Voeg die aartappels en 250 ml (1 k) warm water by en laat prut oor lae hitte totdat die aartappels sag is. Voeg die koljander by en die gereg is gereed om voor te sit. Dit is heerlik saam met basmati-rys en ’n uiesambal.

Variasie:

Jy kan die hoendernekkies met 8 tot 10 hoenderporsies vervang vir ’n voedsame en meer vullende kerrie.

Gheema-kerrie

Bedien 6 – 8

60 ml (1/4 k) kookolie

3 groot uie, fyngekap

1 groen soetrissie, fyngekap

3 kardemompeule

3 kaneelstokkies

3 lourierblare

3 heel naeltjies

3 wonderpeperkorrels (piment)

1 kg biefstukblokkies

30 ml (2 e) fyngemaakte knoffel

30 ml (2 e) fyngemaakte vars gemmer

10 ml (2 t) borrie

30 ml (2 e) fyn komyn

45 ml (3 e) blaar-masala

5 ml (1 t) brandrissiepoeier

15 ml (1 e) tamatiepasta

10 ml (2 t) suiker

sout na smaak

125 ml (1/2 k) gekapte vars koljander

Verhit die olie in ’n groot kastrol oor matige hitte, voeg die uie, soetrissie en al die heel speserye by en braai totdat die uie goudbruin is.

Voeg die vleis, knoffel en gemmer by en laat stowe vir 15 minute oor matige hitte. Voeg die res van die speserye, die tamatiepasta, suiker en sout by en laat stowe vir 30 tot 40 minute totdat die vleis sag is – voeg net ’n klein bietjie water op ’n slag by indien nodig. Garneer met vars koljander en sit voor met witrys of roti.

Wenke: Wanneer jy biefstuk gaarmaak, is dit belangrik om nie groot hoeveelhede water tydens die kookproses by te voeg nie, want dit sal die vleis laat saamtrek en taai word. Maak dit altyd oor lae tot matige hitte gaar vir ’n stadige, tydsame kookproses wat die vleis lekker sag sal maak.

Jy kan aartappels byvoeg om die gereg te rek, maar hierdie gereg word tradisioneel sonder aartappels voorgesit.

Kaap, kerrie & koesisters
Kaap, kerrie & koesisters word uitgegee deur Human & Rousseau

WEN

Kaap, kerrie & koesisters word uitgegee deur Human & Rousseau en kos R330. Drie lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS “kerrie” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 3 Mei 2019.

Meer oor:  Kerrie  |  Resepte  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.