Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kalahari-wortels syfer deur

Herman Lensing, ’n boorling van Upington het sy nuutste resepteboek, Dit proe soos huis, aan sy ma, Susan, opgedra wat in Januarie skielik oorlede is. Dié boek het nie net die heerlikste resepte in nie, maar vat die leser op ’n kosreis van sy grootwordjare in Upington tot in die Kaap waar hy nou woon. Karen Herbert het met hom gesels.

“Die Kalahari is diep in my hart. As ek terugdink aan my grootwordjare daar, is dit definitief die mense wat ek altyd sal saamdra. Daar is ’n eerlikheid in die manier van lewe wat jy op geen ander plek kry nie”.

Herman Lensing gesels oor sy nuutste resepteboek, Dit proe soos huis. Die 32-jarige het geen bekendstelling in kosskrywerskringe nodig nie.

“Ek hoor gereeld mense sê dit moet seker frustrerend gewees het om met so min groot te word, teenoor mense in die stad wie se wêreld so groot was,” sê Herman

“Vir my is dit juis die min wat my so geïnspireer het. Jy leer om met ander oë na die lewe te kyk. Jy leer om met die niks of min baie te doen. Jy leer om dankbaar te wees en om elke dag as ’n nuwe leerskool te sien. Ek is trots op my Kalahari-wortels.”

In Dit proe soos huis, waarvan daar ’n gelyknamige reeks op die gewilde Afrikaanse TV-kanaal Via is, eer Herman sy ma, Susan wat skielik in Januarie in Upington oorlede is. Herman se pa, Harry, woon steeds in Upington.

Herman neem lesers in Dit proe soos huis op ’n kosreis – van sy grootwordjare in Upington waar sy passie vir kos ontvlam het, tot Hartenbos se jaarlikse kamp-ritueel (met hope padkos) en eindig rondom sy eie Kaapse kombuistafel waar hy sy ma ’n resepkinkel of twee kon leer.

Volgens Herman het sy ma almal gevoer wat kom kuier of net aan die deur geklop het. Meer nog, sy het vir hulle padkos vir die siel gebied. Haar leuse was: “My kind, kos is nie kwaad nie. Nooit nie. Kos vergewe en bring mense saam. As ons net aanhou kook, sal ons die wêreld een bord op ’n slag mooier maak.”

Herman Lensing saam met sy ouers, Harry en Susan Lensing

Op die voorblad van die boek pryk ’n foto van sy ma se pampoenkoekies.

“My ma se pampoenkoekies is ongelooflik. Sy het hulle by elke geleentheid gemaak – net soos sy kon. Ek is so mal daaroor en dit is hoekom juis dit op die voorblad pronk.

“My ma kon kook, maar sy kon kook met emosie. Sy het die waarde van goeie kos verstaan.”

Herman is al ’n dekade in die kollig nadat hy in 2009 op 22-jarige ouderdom as die kosredakteur van die glanstydskrif Sarie aangestel is. Dit kom nadat hy as sjef by die Institute of Cullinary Arts in Stellenbosch kwalifiseer het.

Sedertdien het Herman vir hom ’n naam gemaak as een van Suid-Afrika se toonaangewendste kosskrywers en is hy ook die afgelope paar jaar die redakteur van Sarie Kos. Boonop het die Mail & Guardian hom in 2016 as een van Suid-Afrika se 200 invloedrykste jong mense aangewys.

Verder het Herman al talle TV-reekse en -optredes op sy kerfstok, terwyl hy sy eerste boek, Voorskoot, op 26-jarige ouderdom in 2013 bekend gestel het. Dié topverkoper is in 2015 gevolg deur Nóg ’n Voorskoot en in 2017 het 30 die lig gesien om sy 30ste verjaardag te vier.

Sy raad aan jong mense, wat sjef as loopbaan wil oorweeg, is: “Wees altyd eerste en loop ná die laaste mens huis toe is. Wees nuuskierig en bedagsaam. Werk hard, en as jy dink jy werk hard, werk nog harder. Niks kom vanself nie. Wat jy sien in die oog is maar net ’n flits van wat eintlik gebeur. Niemand gaan pa staan vir jou nie, terwyl jy moet beheer neem oor elke besluit en elke detail. As jy dit met oorgawe lewe en doen sal mense inkoop op jou. Moenie iemand anders probeer wees nie, want as jy wil uitstaan, moet jy uniek wees”.

Meer oor:  Herman Lensing  |  Upington  |  Resepte  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.