Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kap dit uit in Baaise biertuin

Suid-Afrikaners sal gewis nie sommer vergeet waar hulle verlede naweek na die Wêreldbeker-eindstryd van die Springbokke teen Engeland in Japan gekyk het nie.

Daarvan kan die groep mense wat die Springbokke se oorwinning ook daarna in Tamz, ’n restaurant en biertuin in Richmond Hill, gevier het ook heelhartig getuig!

Die plekkie het byna uit sy nate gebars van entoesiastiese rugbyondersteuners wat natuurlik daarna tot laat saamgekuier het om nog so ’n rukkie te kon vasklou aan die euforiese gevoel ná die oorwinning.

Bestel ’n pizza en koue bier en gaan luister na plaaslike musikante wat elke tweede Vrydagaand by Tamz optree.

Die pragtige ou huis met sy sinkdak was jare gelede onder andere ook die kantore van ’n argiteksfirma totdat Mark en Tania Barwick ’n restaurant en biertuin ses jaar gelede daar begin het.

“Daar is nog baie veranderinge wat in die toekoms hier sal gebeur, maar ek wil die atmos­feer behou,” sê Mark.

“Die dames kry nou eers ’n splinternuwe kleedkamer en volgende is die spyskaart aan die beurt.”

Binne en buite is daar verskeie banke en tafels met kroegstoele. Jy kan jou drankies en kos by die kelners of by die kroeg self bestel.

Bacon-bombs en Jalapeno-poppers met ’n doopsous is ’n slim keuse vir ’n vinnige snoephappie as jy op die rugby moet konsentreer!

Besoekers hou veral daarvan om buite by die kroeg, wat na binne en buite bedien, te sit en kuier.

Daar kan jy ook buite op die stoep of onder die bome sit, waar dit veral in die somer gou-gou stampvol raak.

“Daar is braaigeriewe onder die prieel en besoekers kan ook hier hulle braaipakke koop,” sê Mark.

“Die mense is ook welkom om hul eie vleis te bring om hier te braai, solank hulle die kroeg ondersteun.

André Oosthuizen hou Hanelie van Zyl die bestuurderes van Tamz by die kroeggedeelte geselskap.Foto: Willemien Green

“Dit is eintlik ’n baie bekostigbare manier om jaareindfunksies te hou of om verjaarsdae en herdenkings te vier.

“Tamz het ook ’n karwag wat seker maak dat die voertuie in die straat veilig is, so besoekers hoef nie kort-kort op te spring om te gaan kyk of hulle voertuie nog daar is nie.”

By Tamz is jy welkom om net ’n drankie te geniet en hoef jy nie noodwendig ’n maaltyd te bestel nie.

Tamz is verlede Saterdag tydens die rugby-eindstryd tussen die Springbokke en Engeland propvol, maar rugbyentoesiaste het nie omgegee om buite onder die prieel saam te kuier en die wedstryd op ’n kleiner skerm te volg nie.Foto’s: Willemien Green

Daar is verskeie disse op die spyskaart om van te kies en die porsies is groot en bekostigbaar.

As jy net aan iets wil peusel, kan jy ’n voorgereg of een van die peuselmandjies bestel.

Daar is ’n Meaty Basket (R120) vir die vleiseters.

Die Fire Bucket met Jalapeno-poppers, Bacon-bombs en aartappelwiggies (R75) is ’n gunsteling onder die waaghalsiges!

Mark spog ook graag met die sappige ribbetjies wat by Tamz bedien word.

As jy daarvoor lus het, kan jy ’n peuselmandjie met ribbetjies en hoendervlerkies (R80) of een met garnale (R120) bestel.

Of sorg dat jy op ’n Woensdagaand daar is wanneer jy kan weglê aan ’n bodemlose bord ribbetjies en hoender teen net R129 per persoon!

Daar is ook verskeie pasta-en pizza-disse, vleisgeregte soos T-been en espitada asook burgers op die spyskaart.

Tamz bedien ook heeldag ontbyt.

Bestel die Tamz-spesialiteit (R35) met twee eiers, twee repies spek, gebraaide tamatie en skyfies of voeg daarby ’n varkworsie, steak en sampioene en jy kan aan die Big Brekkie (R70) smul.

By Tamz is daar nie veel fieterjasies nie en jy is welkom om met jou kortbroek en flip-flops soontoe te gaan, maar, benadruk Mark, dit is nie net ’n jolplek vir studente nie.

Ouer mense besoek ook graag dié kuierplek.

Jy hoef dus ook nie te wag vir die volgende rugbywêreldbeker voordat jy daar gaan inloer nie!

Tamz het ’n lieflike stoep waar jy ook kan kuier.Foto: Willemien Green
Meer oor:  Tamz  |  Richmond Hill  |  Restaurant  |  Restaurantbesoek  |  Kos En Wyn  |  Biertuin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.