Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kikker dit op met roomkaas

Hap aan ’n bagel mildelik gevul met roomkaas en gerookte salm, of aan ’n stewige sny gebakte New York-kaaskoek en jy verstaan hoekom roomkaas opgeneem is in die ensiklopedie 1001 Foods – The Greatest Gastronomic Sensations on Earth.

Roomkaas is ’n veelsydige bestanddeel wat jy in 2020 sommer heelwat meer in jou kombuis kan inspan. Foto: iStock

Roomkaas het net die vermoë om alles waarmee dit in aanraking kom te verhef. Dis deels die fluweelgladde tekstuur – sag, glad en romerig maar ferm; deels die subtiele smaak en aangename sweempie surigheid wat die vars wit kaas so geskik maak vir sout en soet geregte.

Ek hou van kos met ’n storie – en dit het roomkaas ook. Frank­ryk se kaaskundigheid is so legendaries ’n mens sou reken dis roomkaas se geboorteland. Die roomkaas wat ons vandag ken, is egter ’n Amerikaanse uitvindsel en die storie daaragter is dat ’n Amerikaanse kaasmaker van die staat New York dit “per ongeluk” in die 1870’s ontdek het terwyl hy eintlik probeer het om die sagte, krummelrige Franse kaas Neufchâtel na te maak. Die Franse het wel die kuns van roomkaas vervolmaak en te oordeel aan hoe geesdriftig hulle daaraan smul, dit deel van hul kaasidentiteit gemaak.

Noudat die Franse suiwelmaatskappy die Bel Group sy 200 g-bakkies roomkaas in ­George op die Tuinroete maak, kook ek geesdriftig daarmee, wetende dat dit uit ’n streek van ons land kom wat self spog met ’n ryk suiwelgeskiedenis.

As iemand wat altyd op die uitkyk is vir maniere om weeksaand-familiegunstelinge op te kikker of iets makliks vir ’n oor-en-weer-kuier te maak, vind ek hierdie bakkies roomkaas ’n veelsydige kosvriend.

So kry my bobotie ’n roomkaas-vlabolaag, maak ek beetslaai trendy met roomkaas-croutons wat ek rol in gegeurde geroosterde broodkrummels; ek vervang die bottervulsel van hoender Kiev met ’n ligter weergawe van gekruide roomkaas en maak skeurbrood met ’n knoffel-en-jalapeno-gegeurde roomkaashart.

Errieda du Toit

Heerlike dinge gebeur ook as jy roomkaas deur pasta roer, want soos dit smelt maak dit alles romerig en ryk, ’n eienskap wat ek aanwend in die resep vir gnocchi met boerewors en murgpampoentjies in ’n roosgetinte roomkaas-tamatiesous.

Ek kombineer ook graag die beste van twee wêrelde in my roomkaasmarmer-brownies. Dit bring die romerigheid van gebakte kaaskoek en die fudge­-agtige lekkerte van die klassieke brownie in een hap bymekaar.

  • Besoek Du Toit se blog Huiskok.com vir ’n roomkaas-en-jalapeno-skeurbroodresep en haar legendariese Hummingbird-koek met heuningversoete roomkaasvulsel en pynappelblomme.
  • Die gewilde Franse kaasprodukte Kiri-roomkaas en The Laughing Cow-kaaswiggies en -smere word nou in George aan die Tuinroete gemaak. Dié twee vlagskipprodukte in die stal van die Bel Group, ’n Franse suiwelmaatskappy wat reeds in 1865 gestig is, is tot nou toe ingevoer.
Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resepte  |  Roomkaas  |  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.