Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Knus in die winter met dié soetes

Suid-Afrika is die plek waar soetwyne floreer, skryf Melvyn Minnaar.

Wyn
Wyn

‘Stroopsoet soos sonde . . .” was een manier waarop een van die ooms van my kinderdae die plesier van die glasie jerepigo in hul groot boerehand beskryf het. Dit was wintertyd in die Boland en ná die kerkdiens, voor die sedige Sondagmaal.

Met die eerste teugie van die pimpeltjie (Leipoldt se woord) Nagmaalwyn jare later in die groot NG Kerk was albei daardie gedagtes van “sonde” en “soet” op hierdie ontvank­like jongeling se gemoed ’n tergende vraag.

Tot vandag is Nagmaalwyn gewoonlik ’n soete: muskadel of jerepio (ook Leipoldt se woord vir jerepigo). Met ander woorde, ’n gefortifiseerde wyn met mildelike res­suiker en sterk alkohol. Dus ook een vir klein-klein teugies.

In ons moderne tye het soetwyn ’n onverdiende lae rang op die wynrak. Om die een of ander rede (wel, eintlik verskeie, straks snobistiese redes) kry soetwyne – eintlik erfeniswyne met diep kultuurwortels – nie die erkenning wat hulle verdien onder wynliefhebbers en, ja, wynkommentators, nie. Tog blink hulle uit en is daar ’n skatkis van plesier vir dié wat soek.

Met die koeler dae op hande is dit tyd om ons skitterende soetwyne uit te haal. Op sy eenvoudigste is daardie ryk soet en daardie warm alkohol koestering teen die koue. In sy verwikkelde kompleksiteit onder die hand van ’n meesterkelder­kunstenaar is dit poësie en die soort wyn waarmee jy winter-vriendskappe smee en jare lank aan vasklou.

Suid-Afrika se sonskyn is deurslaggewend vir die verruk­like reeks soetwyne wat ons produseer. Druiwe wat hulle as’t ware verlustig aan die lig en hitte wat die geure van die korrels konsentreer. Net reg vir die soetwynmaker. Ons het ook een van die mees gevorderde klassifikasiestelsels wat drinkers presies vertel wat dit is.

Op sy eenvoudigste is dit vars druiwesap wat die moontlikheid van die moer in sy spore stop. Dít is waarom sommige redeneer dat jerepigo nie wyn kan wees nie.

Verskillende soorte soetwyn

Kortliks kan ’n mens sê die soetheid van wyn wissel van ’n paar gram ressuiker wat in tafelwyne as “effe droog” geklassifiseer word tot die port-tipe wyne en muskadelwyne wat verby 100 gm/l ressuiker kan skiet. Ook wat alkohol betref: van ’n gemaklike 10% of laer tot 20%.

Prakties kan ons sê tafelsoetwyne begin by “laatoes” (tot 20 g/l ressuiker, minimum 10% alkohol), dan “spesiale laatoes” (meer as 20 g/l ressuiker, minimum 11% alkohol), “edel laatoes” (meer as 50 g/l ressuiker en met edelvrot/Botrytis cinerea), “natuurlike soet” (20 g/l ressuiker) en “strooiwyn” (van gedroogde trosse).

“Dessertwyne” (’n verspotte naam as daar een is) sluit in die port-style (talle van lig tot donker), muskadel, hanepoot en die variasies van jerepigo – daardie lieflike omvattende beskrywing van ’n wyn wat eintlik nie ’n wyn is nie!

Hierdie wyne is “versterk” (gefortifiseer), wat beteken dat gisting van die druiwesap verhoed word deur neutrale alkohol (soos druiwebrandewyn) daarby te voeg. Op sy eenvoudigste is dit vars druiwesap wat die moontlikheid van die moer in sy spore stop. Dít is waarom sommige redeneer dat jerepigo nie wyn kan wees nie.

In die vlytvakmanskap van dié wyne is dit die presiese oomblik van versterking wat die uitslag in die kelder bepaal. In sommige gevalle kan daar net ’n titseltjie wil-wil gis toegelaat word. Soms word die wyn in vaatjies verouder. Feit is dat met daardie behandeling, fyn bepaal, hierdie pragwyne soms vir jare kan verouder.

Wanneer drink ’n mens hierdie wyne? Enige tyd wanneer jy harte moet/wil verwarm. Om vriendskappe te smee. Gedigte te skryf. In klein tulpvormige glase vir teug. Soms met kaas of nie. Neute. Dalk sjokolade.

Wyn
Wyn

Melvyn se keuses

Die skatkis van Suid-Afrikaanse soet is ruim en vol avontuur. Hierdie handvol is maar enkele wyne onder tientalle goeies. Ons kies uit elke kategorie net een, maar daar is kortkopopvolgers agter elkeen. Kom ons noem hierdie lys voortreflike voorbeelde. Gaan loer in by jou goeie wynwinkel.

  • Nuy Rooi Muskadel 2017 (R65)

Ook hierdie wynmakery is legendaries wat sy muskadel betref. Hulle hou dekades en verouder uitstekend. Straks is die rooi die mees kenmerkende van hierdie mooi muskadelvallei. Lekker soet (so duskant 250 g/l ressuiker), maar koestering onder die wolkbreuk.

  • Badsberg Rooi Jerepigo 2018 (R70)

Hierdie kelder is beroemd vir sy reeks meesterlike soetwyne en het pas weer die pryse gewen. Ons kies die jerepigo omdat dit iets anders van gefortifiseerde wyne so mooi vasvat: pinotage se verleiding in delikate tropiese soet en suur toegedraai. Dit spoel oor jou tong en draal agterna – inderdaad die “soet van gesonde sonde . . .”

  • Slanghoek Crème de Chenin 2016 (R75)

’n Ongewone, bekostigbare natuurlike soetwyn wat chenin se peer/neutgeure netjies vasvang in ’n fluweelsagte mondgevoel. Lekker soet soos suurklontjies en borssuiker. ’n Wyn vir reënweer.

  • Thelema Semillon Laatoes 2015 (R135)

Heuningbloeisels vertel jou dit is semillon en in die mond lê die romerigheid saam met sitrus en ryp appelkose. ’n Netjiese balans van soet (60 g/l ressuiker, 5,5 g/l suur) wat talm lank nadat jy sluk.

  • Boplaas Cape Tawny (R155)

Weer eens, om een van dié meesterlike produsent van port-tipe wyne uit te sonder is moeilik. Maar liefhebbers keer telkens terug na hierdie verleidelike tanige verouderde wyn (tien jaar plus) se elegansie. Verfynd, is wat jy dink as jy dit soetjies drink.

  • Mont Blois Pomphuis Landgoedmuskadel 2016 (R250)

Nina-Mari Bruwer het dié voortreflike wit muskadel van ’n ou enkelwingerd gemaak om die tradisie van die gesin se erfenis te laat herleef. Dis ’n huldeblyk wat jou verstom. Bes moontlik die beste eietydse voorbeeld van die klassieke Suid-Afrikaanse soetwyn.

  • De Krans Cape Vintage Reserve 2016 (R295)

Drie tipiese, klassieke Portugese druifsoorte in harmonie, presies gebalanseer tussen die “byt” van alkohol, struktuur van tannien en ryp vrugtige soet maak. Dis ’n sonnige spieëlbeeld van oorspronklike port: verwikkeld, verleidend met ’n lang nasmaak. Maar eintlik een om weg te pak vir winter oor tien jaar.

  • Paul Cluver Riesling Edel Laatoes 2017 (R330)

Waarskynlik die beste voorbeeld in die land met sy presiese balans van suur en soet en lengte. Die riesling gee wonderlike sitrus/pynappelgeure, maar dis die delikaatheid op jou tong wat so bekoorlik is. Jy onthou die wyn dae lank.

Meer oor:  Wyn  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.