Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Koel af met lekker tuisgebroude bier

Tydens die warm somermaande is dit dalk nie ’n slegte idee om by ’n mikro-bierbrouery aan so paar biertjies te gaan proe nie, en as daar kos bedien word, is dit ’n bonus!

Die Tsitsikamma-brouery op die dorp Stormsrivier. Foto: Facebook

Die Tsitsikamma-mikrobrouery op die dorpie Stormsrivier is nie verniet ’n gewilde kuierplek nie. Binne die brouery is dit heerlik koel en hier kan jy jou ook verkyk aan die afdrukke van ou foto’s van die omgewing jare gelede.

Chris en Irma Sykes en Wilma en Pine Pienaar is nie net goeie vriende nie, maar ook vennote in dié brouery en die Tsitsikamma Village Inn daar naby.

“Buite seisoen kan dit geweldig stil raak en om finansiering te genereer om aan die lewe te kon bly moes ons ’n plan bedink,” sê Chris.

“Omdat ons daarvan hou om fiets te ry en die omgewing hom goed daartoe leen, het ons die jaarlikse Clacier Storms River Traverse, ’n drie dae lange bergfietswedren, begin wat van die begin af suksesvol was.

“So teen die derde jaar van die wedren sit ons en ’n paar vriende en gesels. So besluit die vroue om ’n binnenshuise versieringskurus te volg waarby die hotel sal kan baat. Ons chef Andy stel toe voor dat ek eerder ’n bierbrouery-kursus moet volg, want daarmee sou die hotel nog meer kon baat!

“Toevallig ry Pine in dieselfde tyd saam met sy goeie vriend Johan Stumph, voorheen ’n produksieingenieur by SAB-brouery, die Traverse.

“Johan het toe nog ’n klomp ou toerusting waarmee ’n mens bier brou by sy huis gehad wat ek by hom afgebedel het, waarna ek toe die brouery sommer self gebou het. Johan het die eerste vyf batches saam met my gebrou voor hy Gauteng toe verhuis het.”

Volgens Chris word alle tuisgebroude bier volgens die Reinheitsgebot gebrou, wat eintlik maar net beteken dat hops (hop of Humulus lupulus), barley (gort) en water daarin gebruik word, maar geen gis nie.

Deesdae verbrou Chris nege verskillende soorte bier by dié interessante klein brouery.

“In die somermaande is Weiss, ’n Duitse bier, die gewildste bier. Hy is lig in hopsen nie so bitter nie. Ek het al ’n Weiss met vars kersies en met waatlemoen gemaak. Vroue is veral lief daarvoor omdat dit effens soet proe.”

Hoenderrepies met skyfies en barbeque-sous. Foto: Willemien Green
Chris Sykes raak begeesterd as hy jou vertel oor die geweldige interessante metode oor hoe om self jou bier te brou. Foto: Willemien Green

Een vaatjie bier bevat sowat 38 bottels bier en Chris het ook ’n masjien waarmee hy die bier by die brouery self kan bottel.

“Ek verkoop my bier net hier by die brouery. Mense kan dit hier drink of wegneem, maar by geen ander plek koop nie.”

Chris beantwoord jou vrae met graagte, maar as jy geen verder vrae het om aan Chris te stel nie, bestel dan gerus ’n bordjie met vier biere om aan te proe voordat jy na die spyskaart loer.

Tydens ons besoek aan die brouery was daar ’n groot gesin uit die binneland met ’n paar honger manne in die groep.

Twee van hulle besluit net daar en dan dat Marilyn’s Big Burger (’n reuse patty met soveel vleis as drie gewones, kaas, spek, agurkies, tamaties en blaarslaai op ’n yslike broodrolletjie) dalk net hulle hongerpyne sal stil.

Bygesê dat dié twee se pa al fronsend (die burgers kos R195 elk) probeer wal gooi het! (’n Gewone kaasburger kos R68.)

Op die spyskaart staan daar ook nie verniet “Not for the faint hearted” nie!

Kuiergaste wat kuslangs getoer het en vir aandete by ons in die Baai genooi was, het vir ’n ligte middagete by die Brouery gestop en ’n mandjie met hoenderrepies, aartappelskyfies en ’n barbeque-sousie (R65) bestel. Nodeloos om te sê, aan die aandete het hulle met gepynigde uitdrukkings op hulle gesigte uit blote ordentlikheid gepeusel!

Ontbyt (R50 - R78) word ook heeldag by die brouery bedien.

Wat kan nou lekkerder wees as om ’n Nashville-ontbyt (R72, met twee eiers, spek, drie pannekoeke met stroop en twee varkworsies) met ’n yskoue tuisgebroude Stormsrivier Ale (R30) af te sluk – jy is tog met vakansie!

Chris Sykes beantwoord met graagte vrae oor die Tsitsikamma-mikrobrouery in die Stormsrivier-dorpie in die Oos-Kaap waar hy op die oomblik nege soorte bier brou. Foto: Willemien Green
’n Plakkaat met die basies metode hoe om bier te brou hang in die proe-gedeelte van die brouery.Foto: Willemien Green
Verskillende soorte barley (gort) word deur verskillende produsente aangekoop vir die brou van bier. Foto: Willemien Green
Sakke vol barley (gort) uit onder andere Suid-Afrika, Duitsland en Belgie. Foto: Willemien Green
Met dié instrument word die alkoholvlakke van die bier deesdae getoets. Foto: Willemien Green
Chris hou egter daarvan om die alkoholvlakke op die ou manier te toets. “Dit is die hele ondervinding van eenvoud wat die brouery vir my so lekker maak,” het hy gese.Foto: Willemien Green
Proe eers aan so paar biertjies voor jy iets om te eet bestel.Foto: Facebook
’n Geewone kaasburger is dalk ’n veiliger opsie as jou eetlus nie te groot is nie! Foto: Willemien Green
Ruan de Beer kan nie wag om weg te le aan sy yslike groot kaasburger nie.Foto: Willemien Green
Jy kan ook in die bierproe-gedeelte van die Tsitsikamma-mikrobrouery sit en kuier of iets bestel om te eet. Foto: Willemien Green

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.