Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Hermanus streef nou na Unesco-status

Die kusdorp Hermanus mik vir die sterre en het pas aansoek gedoen by die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (Unesco) om Suid-Afrika se heel eerste “Stad van Gastronomie” te wees.

Met goeie kos, wyn en ervarings kan Hermanus dalk net Suid-Afrika se eerste “Stad van Gastronomie” word. Foto: Verskaf

Die idee was die geesteskind van Darryl David, ’n lektor in die letterkunde. Hy is reeds bekend vir sy passie vir literatuur en het al amper 100 boekfeeste in Suid-Afrika gereël – van KwaZulu-Natal tot BookBedonnerd in Richmond in Noordwes. Hy was ook verantwoordelik vir die suksesvolle Unesco Stad van Literatuur-prys vir Durban in 2017 as deel van die wêreldwye Creative Cities Network.

David sê sedert Durban die besonderse prys ontvang het, was sy volgende projek die Stad van Gastronomie-titel: “ ’n Mens vergeet dat al hierdie literatuurfeeste saam met kos en goeie wyn geniet word, so dit was amper ’n direkte uitvloeisel van die idee. Hermanus is in my opinie die perfekte plek omdat Unesco nie net stede met verfynde restaurante wil vereer nie, en beoordeel die gebied ook vir landbou-erfenis. Hermanus word al hoe meer erken vir kulturele erfenis.

“Indien Hermanus deur Unesco vereer word, sluit ons aan by beroemde stede soos Parma en Alba in Italië, San Antonio en Tucson in Amerika, Phuket in Thailand, en Bergen in Noorweë, om net ’n paar te noem. En ons het die boustene vir wat van ons verwag word: Creation Wine­s in die Hemel-en-Aarde is alreeds jare leiers in wyntoerisme, en het al drie keer in vyf jaar die Best of Wine Tourism in die Great Wine Capitals­benoemings gewen, asook die mees Innovative Wine Tourism Experience in 2017,” sê David.

Hy voeg by dat die internasionale wynskrywer Tim Atkin Creation ook vanjaar as die beste Suid-Afrikaanse wyntoerisme­ondervinding aangewys het vir sy innoverende spyskaarte en aanbiedings op die landgoed. Dié erkenning was kort op die hakke van die eer van ’n plek onder die top-50-wynlandgoedere ter wêreld deur die World’s Best Vineyards.

“By die vyfster- Grootbos private natuurreservaat is die klem op volhoubare toerisme deur natuurbewaring en gemeenskapsopheffing deur die Grootbos Foundation. Hier is alreeds duisende verskillende fynbosspesies – deel van die floristiese ryk – ontdek, beskryf en bewaar. Die restaurant bied spesifieke spyskaarte wat die uitstekende produkte en wyne van die omgewing op die verhoog plaas.”

Hermanus het ’n groot aantrekkingskrag vir plaaslike en internasionale besoekers – veral vir die volhoubare visbedryf vanaf Kleinmond tot Gansbaai, en die menigte markies en feeste waar vars en uitsonderlike plaaslik vervaardigde produkte beskikbaar is.

“ ’n Hoogtepunt elke jaar is natuurlik wanneer besoekers van die hoë rotse die skouspelagtige migrasie van die noordkapperwalvisse van die yskoue Suidpool tussen Junie en November kan aanskou. Hier in Walkerbaai plant hulle voort, gee geboorte en kerjakker in die water,” sê David.

Die ou windmeul is gerestoureer en word hedendaags gebruik as ’n graanmeul vir plaasbrood.

Op pad na Hermanus is die historiese dorpie Botrivier (van “Botterrivier”), waar die inheemse Khoi-San hul beroemde botter gemaak het van ryk koeimelk afkomstig van die koeie wat langs die Kougarivier gewei het. Kopers het sedert 1672 hierheen gekom om die besonderse botter te verhandel. Die ou windmeul is gerestoureer en word hedendaags gebruik as ’n graanmeul vir plaasbrood.

Verskeie plaaslike vakmeesterprodusente soos Glen Oakes Farm en Praise the Lard verkoop hul gesogte vleisprodukte by gemeenskapsmarkte soos die Hermanus Country Market en Stanford-mark. En dan is daar ook plaaslike kaasprodusente soos Kleinrivier, Anysbos en Stone House wat tot hierdie oorvloedige rykdom bydra.

“Hermanus gaan oor walvisse, plaaslike kos, wenwyne en die beskerming, behoud en viering van Moeder Natuur.” sê David. “Ons bod het deurgedring na die finale ronde en die aankondiging is in November – so watch this space!”

Meer oor:  Unesco  |  Hermanus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.