Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kos uit die boonste rakke
Geniet ’n ’n Italiaans-geïnspireerde caprese pizza (marinara-sous, mozzarella, kersietamaties en roket met balsemiese reduksie): minder bestanddele, meer smaak. Foto’s: Monique Basson

Hier kan jy smul-smul sit en rus.

By die Wild Fig restaurant op Jeffreysbaai word al ’n mens se sintuie sommer met die intrapslag geprikkel. Die parkeerarea is omring met honderd-jaaroue vyebome en groen grasperke, perde runnik saggies in die agtergrond en wipneus-hasies loer nuuskierig deur die ogiesdraad, terwyl ’n miniatuur trein saggies op sy ysterspore klik-klak.

’n Mens weet sommer jy gaan lekker eet in hierdie plaasatmos­feer. Die kosreuke beaam dit.

Die sjef en eienaar, Christo du Plessis, het ná sy studies in Johannesburg ervaring as sjef (en in hotelbestuur) in baie van die top-restaurante in dié stad opgedoen.

Mettertyd het hy egter gevoel die “stiller” lewer roep hom, en hy het in 2016 by InFood begin werk, voor hy in September vanjaar ’n jarelange droom om sy eie restaurant te open met Wild Fig bewaarheid het.

Val weg met ’n caprese pizza met marinara-sous, mozzarella, kersietamaties en roket met balsamiese reduksie.

Volgens hom is dit veral die benadering tot kosmaak wat hom aangetrek het. En die genot wat sy kos mense verskaf.

“My kookstyl is op etiese kulinêre praktyke gegrond. Dit sluit in minimum-vermorsing en heilsame geregte. Ons gebruik slegs die varsste en beste bestanddele vir ons disse. Soos byvoorbeeld die kruie en groente uit ons eie tuin.”

Wild Fig se spyskaart verander gereeld na gelang van die seisoen en beskikbaarheid van bestanddele – en, natuurlik, spesiale versoeke.

Dit is die soort plek waar ’n mens met ’n glas yskoue wyn op die ruim stoep teen die somer-son wil kom skuil. Die kinders kan hulleself op die reuseklimraam besig hou, kuier by die diere in die troetelplaas of ritte ry op die miniatuur trein.

Dan kan jy tydsaam jou pad deur die spyskaart werk, van die voorgereg se kant af.

Prentjiemooi en net so lekker: diep-gebraaide skyfies met maalvleis, kaassous, jalapeno, suurroom en salsa. Foto’s: MONIQUE BASSON

Begin met ’n Italiaans-geïnspireerde caprese pizza vir die tafel met marinara-sous, mozzarella, kersietamaties en roket met balsamiese reduksie (R85). Die bestanddele is dalk min, maar die smaak is volop.

Die pizzas op die spyskaart is almal vegetaries, maar as jy nie die karnivoor in jou kan beteuel nie, sal Christo vir jou die vleis van jou keuse opsit.

Volgende wag Nachos Fries – diep-gebraaide skyfies met maalvleis, kaassous, jalapeno suurroom en salsa (R55). Dié gereg lyk sommer prentjiemooi en die smake komplementeer mekaar te heerlik.

Dan is dit tyd vir hoofgereg. Die Chicken parmesan (R99) is ’n bros hoenderschnitzel met marinara-sous, parmesan en mozzarella bedien met broccoli. ’n Mens bly dink “net nog een happie”, maar voor jy jou kom kry, is die bord leeg.

’n Burger met sagte lamsvleis, kaassous en spek word bedien met goudbruin skyfies en is ’n gunsteling op die spyskaart.
Wild Fig op Jeffreysbaai, met die sjef en eienaar Christo du Plessis (regs) aan die stuur, is meer as ’n restaurant – dit is ’n onvergeetlike ervaring wat al jou sintuie betrek en selfs vermaak vir die kinders bied. Christo word deur Dallas Land (links) bygestaan.
Chicken parmesan: bros hoenderschnitzel met marinara-sous, parmesan en mozzarella bedien met broccoli.

Of hoe lyk dit met ’n burger met sagte lamsvleis, geurige kaassous en spek, bedien saam met goudbruin skyfies? (R95).

Die spyskaart maak ook voorsiening vir ontbyt en ligte etes, sowel as ’n stewige Sondagmaal.

Die soetpatat met ’n verskeidenheid vulsels (R45) is ’n gunsteling vir ontbyt.

Ander disse sluit in toebroodjies, pasta, biefstuk, ribbetjies (wanneer beskikbaar) en vis.

Daar is ’n spesiale spyskaart vir die kinders en klein aspirant sjefs kan hul eie pizza by die tafel maak.

Meer oor:  Wild Fig  |  Jeffreysbaai  |  Kok  |  Kos  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.