Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Eet hier: Hunter’s Pub (Stormsrivier)
Kuier en laat die jagter in jou vry!

Dit voel asof jy in een van die skrywer Doc Immelman se ou jagstories instap wanneer jy die swaar, swart houtdeur met sy ysterhandvatsel van die Hunter’s Pub by die Tsitsikamma Village Inn oopstoot.

Buiten dié pragtige historiese kroeg is daar ook oornagplek by die Tsitsikamma Village, asook De Oude Martha-restaurant – ’n meer formele eetkamer – en Bacchus, ’n gedeelte langs die swembad waar etes bedien word.

Voor die kroeg se vuurherd kuier besoekers vandag steeds net so lekker soos die jagters in die 1800’s.

Maar dit is die ou kroeg wat my nuuskierigheid die meeste prikkel en waar Irma de Villiers, mede-eienaar van die Tsitsikamma Village Inn, die kroeg se geskiedenis aan my vertel.

Hunter’s Pub is die oorspronklike jagherberg waar luitenant Thomas Henry Duthie, die skoonseun van George Rex, wat in 1804 Knysna op sy plaas Melkhoutkraal gestig het, graag tydens sy jagekspedisies tuisgegaan het. Dit was ook die eerste gebou wat in die laat 1800’s in die nou welbekende Stormsrivier-omgewing gebou is.

Irma de Villiers, ’n mede-eienaar van die Tsitsikamma Village Inn, agter die kroegtoonbank van Hunter’s Pub.

In die kroeg is die pragtige geelhoutbalke steeds te sien. Teen die dik mure is antieke jaggewere, die opgestopte koppe van verskeie bokspesies en sowaar ook ’n opgestopte Kaapse bergluiperd gemonteer.

In die oorspronklike vuurherd knetter die vuur in die winter gesellig waar besoekers graag sit en kuier en die plaaslik gebroude biere drink. “Die manne hou vreeslik graag hier in die kroeg hulle verjaarsdagpartytjies,” vertel Irma. “Die kroeg met sy nostalgiese dekor raak seker die jagter in die manne se psige aan!”

Die swaar swart houtdeur en geelhoutbalke dateer uit die oorspronklike herberg uit die 1800’s.Foto: Willemien Green

Pragtige ou potloodsketse van wilde diere deur Clive Walker, ’n bekende kunstenaar wat in 1936 gebore is, is ook teen die mure gemonteer. Agter die skets van die buffel het Pieter-Dirk Uys sy naam geteken en geskryf; “Dit is ’n selfportret van my”!

Vir ’n voorgereg of ligter ete probeer die murgsagte gekrummelde calamari-ringe op ’n sitrusslaai bed (R60).Foto: Willemien Green

Aan die geelhoutbalke hang rye en rye bierbekers, elk met sy eie storie van herkoms.

Die swaar antieke eettafels en stoele dra by tot die knus atmos­feer en dis verstaanbaar dat dit soms maar moeilik is om die gaste saans te oorreed om huiswaarts te keer. Gelukkig is die dorp klein en kan jy sommer huis toe stap as die enkelpaadjie voor jou dalk na ’n dubbelbaan begin lyk.

’n Banting-burger met ’n hoender-filet, eiervrug, roomkaas, pampoenpitte en aartappelskyfies.Foto’s: Willemien Green

Maar ’n mens kan nie net van bier alleen leef nie. Die spyskaart bied genoeg disse om aan enige honger besoeker se wense te voldoen, van ’n stewige ontbyt, ’n reeks toebroodjies, hamburgers, ’n geurige hoofmaal tot vegetariese sowel as banting-opsies.

Die Hunter’s-ontbyt (R75) het twee eiers, twee repies spek, gebraaide tamatie, sampioene, Kareedouw-boere- of -varkwors, sousboontjies of gebraaide aartappels – net reg vir iemand wat aan die talle avontuur-aktiwiteite om die dorp wil deelneem.

Of bestel ’n vars of geroosterde toebroodjie (R38 tot R50) as jy van plan is om later jou stysel met ’n bier of drie by die mikrobrouery te gaan aanvul.

Maleisiese lamskerrie met basmatirys en ’n poppadom.

Jy kan die gewone hamburgers (R95) met ekstras (teen koste) aanvul. As jy jou figuur dophou, bestel dan die banting-burger (R125 tot R135) met ’n glutenvrye beesvleis-patty, of hoender-filet. Vir ’n voorgereg of ligter ete probeer die murgsagte gekrummelde calamari-ringe op ’n sitrusslaaibed (R60). Die Maleisiese-lamskerrie (R135) met basmatirys en poppadoms is aan te beveel.

Daar is ook watertandgeregte soos ’n vegetariese hotpot, beesstert, sappige ribbetjies, gebraaide volstruis- of koedoe-kruisskyf en Karoo-lamstjoppies.

  • Hunter’s Pub is ook in Chris Marais en Pat Hopkins se boek 101 Beloved Bars of Southern Africa opgeneem.
Meer oor:  Kos  |  Kroeg  |  Besoek  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.