Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kuier lank oor pannekoek en kaneel

As jy jou neus optrek vir enige pannekoek behalwe dié op die kerkbasaar of in jou ouma se kombuis, wag daar by Cinnamon op Cradock ’n reuse-verrassing op jou.

Cinnamon is ’n pannekoek- en wafelrestaurant wat in Mei 2018 sy deure in Beerenstraat, langs die N10 op pad na Middelburg, oopgemaak het.

Pannekoeke vir koue winterdae

Hier kan jy kies tussen 20 verskillende soorte pannekoeke en 15 verskillende soorte wafels. Pannekoeke word op bestelling vars gebak, terwyl die Belgiese wafels, wat hoër en meer bros as gewone wafels is, ook spesiaal vir jou gebak word.

Karin Michau vertel toe die vorige huurders vertrek het, was dit vir haar ’n sentimentele besluit om Cinnamon te open in die gebou waar haar ma, Petro Marais, Cradock se bekende plantjie-koningin, vir soveel jare haar kwekery bedryf het.

Cinnamon is op dieselfde groot erf waar Karin se ander eetplek, The Shed, ook is en waar Petro steeds ’n kwekery, nou bekend as Hebron Kwekery, bedryf.

Wanneer jy van die straat af instap, is jy feitlik onmiddellik op Cinnamon se gesellige onderdak-stoep waar gaste die graagste kuier. Flink kelners sal dadelik byderhand wees en terwyl jy koffie (R18), cappucino- of rooibos-cappucino (R25) – die heel beste in die dorp – of enige ander van hul wye verskeidenheid warm of koue drankies bestel, kry jy geleentheid om die interessante spyskaart te bestudeer.

Daar is pannekoeke om te kies en te keur. Van die bekende tradisionele pannekoek met suiker en kaneel tot een met sjokoladefudge en room of roomys wag op jou. Jy kry ook altyd die keuse of jy ’n enkel- en dubbelporsie wil hê. Volgens Karin is die gewildste soutwafels diè met sag-geroosterde biefstuk en sampioensous terwyl die soetwafel se gunstelingkeuse op tuisgemaakte karamel en piesang val. Pryse vir wafels wissel tussen R43 tot R90, vir die wafel met salm. In die pannekoekafdeling trek die een met geroomde spinasie- en kaasvulsel sowel as die een met spek, piesang en kaas wat bedrup word met esdoringstroop (maple syrup) stroop voor. Jy gaan beswaarlik ’n beter pannekoek met roomys en bessiesous kry. Die pryse vir pannekoeke wissel tussen R8 en R90 afhangende van die vulsel wat jy kies.

Helen Murray, Lisa Antrobus en Sandra Adami geniet gesellig saam koffie op die stoep.Foto’s: WILNA DE KLERK
Foto: WILNA DE KLERK

Verlede Maandag het Karen ’n paar nuwe toevoegings tot die spyskaart gemaak en as jy nou by Cinnamon instap, kan jy van die eerste gaste wees wat dit proe.

“Ek wou die spyskaart ’n bietjie uitbrei tot meer as ons gewone pannekoek en wafels. Toe onthou ek die pannier wat ek eenkeer in Frankryk geëet het,” vertel Karin. Pannier word in Afrikaans vertaal as “mandjie”, maar Karin dink ’n “nessie vol verrassings” is ’n beter beskrywing. Dié nessie bestaan uit ’n geurige gebakte houertjie wat onderskeidelik gevul word met stukkies biefstuk en camembertkaas, of hoender en geroosterde soetrissie en fetakaas, of spek met geroosterde kersietamaties en feta. Vir vegetariërs is daar geroosterde botterskorsie en geroomde spinasie. Al hierdie nessies word bedien met gekarameliseerde uie.

Foto: WILNA DE KLERK

Daar is ook nou gesonde smoothies van Bulgaarse jogurt wat geen suiker of room bevat nie op die spyskaart.

As jy ’n paar ekstra rande in jou sak het en as jy van die wêreld se heel beste biefstuk wil probeer, kan Cinnamon vir jou van hulle spesiale Wagyu-biefstuk voorsit.

Wagyu-beeste kom oorspronklik van Japan, maar word nou ook in die Cradock-distrik geteel nadat ’n boer in 2011 van hierdie beeste se embrio’s ingevoer het. Wagyu-beeste word op ’n manier geteel dat hul vet soos marmer tussen die vleis versprei. Dit maak die vleis derhalwe bottersag.

Jy kan ook van die vleis by Cinnamon koop om dit self by die huis gaan te maak.

Hier is ook ’n geskenkwinkel waar jy enige iets van klein geskenkies vir die mense tuis tot antieke- of kothuismeubels kan koop.

Cinnamon draai op versoek geskenke vir jou keurig toe.

Foto: WILNA DE KLERK
Meer oor:  Kaneel  |  Restaurant  |  Pannekoek  |  Oos-Kaap Naweek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.