Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
KYK: Leer iets terwyl jy jou koffie koop

Koop ’n koffie by Deafinitely Koffie en jy kry meer as net die koppie boeretroos in jou hand – jy leer ook ’n paar gebare by die dowe werknemers.

Deafinitely Koffie is ’n koffiestalletjie op die Pretoria-boeremark in Silverton wat jou elke Saterdagoggend met meer as net ’n koppie koffie kan help. Jy kan jouself ook bederf met onder meer melktert, souttert, pepermenttert en beskuit.

Die koffiestalletjie is Deafinitely, ’n organisasie sonder winsbejag wat dowes ondersteun, se eerste bemagtigingsprojek.

Anel Pienaar (28) is die stigter en uitvoerende hoof van Deafinitely. Sy is verantwoordelik vir al Deafinitely se projekte. Daarby is sy besig met haar doktorsgraad in die Nuwe Testament aan die Universiteit van Pretoria. Sy is ook ’n studieleier by die universiteit.

Anel Pienaar (28), stigter en uitvoerende hoof van Deafinitely, ’n organisasie sonder winsbejag wat dowes ondersteun en bemagtig. Foto: Verskaf

Pienaar en haar twee kinders, Eben (6) en Ané (4), bly in Lynnwood-Glen, Pretoria. Sy het teologie gestudeer en in 2012 as student by NG Pretoria Dowes betrokke geraak. Die gemeente het ’n predikant benodig en sy het sommer vinnig lief geword vir die dowe gemeenskap wat haar terselfdertyd gebaretaal geleer praat het.

“Aan die begin het ek my preke uitgeskryf en na ’n ongelooflike intelligente en geduldige dowe vrou geneem. Sy het my die woorde se gebare geleer en ek het die eerste paar kere ’n video daarvan geneem,” sê Pienaar.

“Ek het by die huis gaan oefen en tussendeur met die dowes gesosialiseer. Só het ek my woordeskat opgebou.

“Ek het in die verlede al heelwat flaters begaan met die verkeerde gebare, maar die dowes het ’n baie goeie sin vir humor! Hulle help my altyd reg.”

Deafinitely se ontstaan

Toe Pienaar as ’n predikant by NG Pretoria Dowes gewerk het, het sy gou besef dat die dowe gemeenskap se behoeftes nie net deur die kerk vervul kan word nie.

Sy het vier direkteure vir Deafinitely bymekaargeroep en hulle het saamgestem dat die gehoorgestremde gemeenskap ondersteun en bemagtig moet word. Deafinitely is toe uiteindelik in 2018 as organisasie sonder winsbejag gestig.

“Mense wat met gehoorgestremdheid leef, word baie maklik misgekyk en verwerp in ’n horende wêreld. Die taalgrens tussen horende en doof lei baie keer tot stereotipes soos ‘dowe mense is dom’ of ‘gehoorgestremde mense is nie so belangrik soos horende mense nie’. Die kommunikasiegaping tussen horende en doof het ’n groot impak op die omstandighede waarin dowe mense moet leef. Dit beperk geleenthede tot tersiêre opleiding en veroorsaak dus dat baie gehoorgestremdes óf werkloos is, óf in ’n lae-inkomstegroep vasgevang is. Dowe mense beleef gereeld die frustrasie van finansiële druk en tekort aan geleenthede. Ons het gesien daar is leemtes ten opsigte van die horende wêreld se toeganklikheid vir dowes. Daar is ook ’n tekort aan ruimtes vir emosionele ondersteuning,” sê Pienaar.

Die span wat Deafinitely Koffie se wiele aan die rol hou. Van links is Dawie van Wyk (agter), Dineo Ramasodi, Estelle Brooks-Van Wyk, Anel Pienaar, Kamegelo Madisa en Lourindia Janssen. Foto: Verskaf

“Deafinitely wil graag ’n verskil in gehoorgestremdes se lewe maak deur hul lewensgehalte te verhoog. Deafinitely wil volhoubaar gehoorgestremde mense bemagtig deur opleiding, werkskepping en ondersteuning. Ons wil instansies uitdaag om gehoorgestremdheid in ag te neem en in te sluit. So wil ons die waardigheid van elke gehoorgestremde se menswees bevestig.”

Deafinitely Koffie het op 13 Desember verlede jaar op die Pretoria-boeremark oopgemaak.

“Dit is maar die begin van ’n reeks projekte wat ons van stapel wil stuur. Enigiets wat dowes kan doen (alles – voeg sy by) kan ons as Deafinitely ook aanpak. Deafinitely Meubels, Spyseniering en Koffiewaentjies is van die volgende projekte waaroor ons droom,” sê Pienaar.

Deafinitely Koffie se stalletjie op die Pretoria Boeremark in Silverton. Foto: Verskaf

Die koffiestalletjie verkoop heerlike masjiengemaakte koffie, lekker gebak en stal ook kuns uit wat deur dowes gemaak is.

Pienaar sê hulle het al sowat 15 gehoorgestremdes bemagtig deur Deafinitely Koffie.

Die koffiestalletjie het vyf werknemers, waarvan drie doof en twee hardhorend is.

Die twee dowe baristas, Dineo Ramasodi en Kamegelo Madisa, is deur die Coffee Importers and Roasters Organisation opgelei.

Estelle Brooks-Van Wyk is ’n dowe vrou wat die bestuurder is van die gebak. Sy het haar eie tuisnywerheid besit.

Lourindia Janssen is hardhorend. Sy is in beheer van die kunsafdeling en volgens Pienaar baie goed met mense.

Dawie van Wyk is ’n dowe man wat die logistieke bestuurder is. Hy verseker dat alles glad verloop.

“Ons is geseënd met wonderlike werknemers wat passievol, vriendelik en professioneel is. Ek is die enigste horende persoon wat aan mense wat onseker lyk, verduidelik hoe die bestellingsproses werk. Ons leer ook ’n paar gebare vir die mense wat by ons kom kuier,” sê Pienaar.

Die bestellingsproses by Deafinitely Koffie werk effens anders as by ander koffiestalletjies of -winkels, maar is steeds eenvoudig.

Die spyskaart het ’n kleurkode. Elke soort koffie is aan ’n spesifieke kleur gekoppel. Kliënte neem self ’n wegneemkoppie en kies die kleuromslag van die koffie. Hulle trek dit om die koppie. Dit lyk soos ’n strikdas.

“So weet ons dowe baristas presies wat die bestelling is, sonder enige misverstand,” sê Pienaar.

Dineo Ramasodi, een van die baristas wat doof is. Foto: Verskaf
Estelle Brooks-Van Wyk is ’n dowe vrou wat die bestuurder is van die gebak. Sy staan voor die kleurkode-spyskaart wat kliënte gebruik om hul koppie boeretroos te bestel. Foto: Verskaf

Langtermynplanne vir Deafinitely

Deafinitely poog om die dowe gemeenskap te bemagtig deur opleiding, werkskepping en ondersteuning. Dit sal die dowe gemeenskap laat besef dat hulle ’n plek in die horende wêreld het, sê Pienaar. Deafinitely maak ook mense bewus van doofheid.

“Ons het baie planne en projekte wat voorlê. Ons wil Pretoria se instansies uitdaag om aan gehoorgestremde mense te dink. Ons wil graag in gesprek tree met instansies wat nog nie bydra tot ’n doof-vriendelike samelewing nie.”

Verder wil Deafinitely ’n tolkefonds skep, wat dowes in staat sal stel om tolke te “bespreek” as hulle met horendes moet kommunikeer. Baie dowes kan nie tolkdienste bekostig nie, sê Pienaar.

“Die dowe gemeenskap is baie opgewonde oor Deafinitely. Die finansiële voordeel, maar ook die veilige ruimte waarin hulle kan werk, gee baie vreugde en selfvertroue. Net om iemand anders se menswees raak te sien en te bevestig, horende of doof, maak reeds ’n groot verskil.”

Lourindia Janssen is hardhorend en in beheer van die kunsafdeling. Foto: Verskaf
Dawie van Wyk is ’n dowe man wat die logistieke bestuurder is. Hy verseker dat alles glad verloop. Foto: Verskaf

Meer oor:  Deafinitely  |  Anel Pienaar  |  Koffie  |  Gehoorgestremdes  |  Ng Pretoria Dowes  |  Boeretroos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.