Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Lekka lekka kook vir kinders

Baie van ons het pragtige herinneringe waar ons saam met ons ma’s of oumas in die kombuis gekook of gebak het. Ek onthou so goed hoe my ma my leer skilferkors maak het. Die aanmaak van die deeg, die rasper van die botter, die vou van die deeg, platslaan met ’n koekroller, in die yskas laat rus en dan weer botter, weer slaan, weer yskas toe – totdat al die botter klaar is. Ek het nie besef wat ek alles geleer het nie: Ek het geleer om af te meet, om te tel, om te deel . . . wetenskap, motoriese handvaardighede . . . En dit het ook die pad gebaan vir my huidige beroep as TV-sjef en kosskrywer vir Rapport.

Marinda Engelbrecht
Foto:

’n Lekka kookboek vir kinders

Marinda Engelbrecht, outeur van Kidz lekka lekka kookboek, verken dié onderwerp in haar lieflike kookboek. Marinda vertel: “Kookterapie word baie onderskat. Kinders hou daarvan om speel-speel te leer. Baie kinders kan nie gesels oor hul probleme nie, maar speel is ’n natuurlike me­dium vir hulle om te kommunikeer.”

Dié maklike en kleurvolle kookboek is gemik om kinders te leer, en die versameling resepte het oulike name, soos “frik- frikkies”, “jellieboontjietert”, “perskeplesier”, “klits-klitseier”, en “seekatpizza”. Die resepte is ingedeel in afdelings waar ma minder of meer moet help: “Help my”, “Hou my dop”, “Op my eie”. Op die agterbinneblad is daar pragtige sêgoed soos: “Piesangs is gekrul om te pas in sy skil”, “Druiwe-trossies is liefdeskossies” en “Spanspekkie, my lekkerbekkie”.

“Kook laat jou kind ruik, voel en sien. Dit stimuleer sensoriese ontwikkeling. Kinders met ’n fisieke gestremdheid kan nou knie, sif, uitrol, skeur, ensovoorts,” sê Marinda.

Sy glo haar boek gee jou kind die geleentheid om vry te voel en te eksperimenteer. Dit gee jou kans om speletjies te speel wat jou spesifieke kind stimuleer.

“Jy kan geheuespeletjies speel met kinders met aandagafleibaarheid. As ’n kind geprys word vir sy of haar gereg, kan hulle voel dat hulle iets bereik het wat die moeite werd is. Dit bou hul selfvertroue en selfbeeld. Die kookproses ontwikkel ook spiere wat hul handskrif verbeter.”

Wat kan kinders leer deur te kook?

Wiskunde: Tel, breuke, sortering, geldwaarde, rangorde, massa, meting, vorms, kleure, en probleemoplossing is van die vaardighede wat aangeleer kan word.

“Sny ’n broodjie in die helfte of in kwarte. Hoeveel botter gebruik ek om een sny brood mee te smeer? Vaste stowwe word met maatlepels en gewig gemeet. Vloeistowwe in maatkoppies.”

Leesvaardighede: Deur die bestudering en die lees van resepte word leesvaardighede en woordeskat bevorder en verbeter.

Wetenskap: Kinders ontdek voedselgroepe, maak vooruitskattings, eksperimenteer, sien hoe kos verander as dit gekook word, werk met die sintuie en het sensoriese ervarings.

Aardrykskunde: Kinders leer waar in die wêreld verskillende voedseltipes aangetref word, en watter kulture sekere kossoorte meer verkies. Hulle leer ook hoe verskillende kossoorte gekweek word.

Kuns: Kinders word gestimuleer om kreatief te wees met die versiering, garnering en ontwikkeling van resepte.

Geskiedenis: Kinders leer waar die oorsprong is van resepte wat oor generasies heen kom, en hulle leer ook meer oor die geskiedenis agter resepte en produkte.

Gesondheidsleer: Kinders leer gesonde eetgewoontes en higiëne aan. Die hande moet gewas word en daar moet seker gemaak word dat die bestanddele vars en bruikbaar is. Die kookomgewing en die kookgerei moet silwerskoon wees.

Sosiale vaardighede: Verantwoordelikheid, veiligheid, spanwerk, deel met ander, bou aan selfbeeld en selfvertroue is ook fasette van die kookproses.

Motoriese ontwikkeling: Die volgende handelinge word uitgevoer: kap, klits, knie, gooi, meng, sny, uitrol, roer, optel, ensovoorts. Dit dra by tot kleinspierontwikkeling.

Higiëne en skoonmaak: Laat jou kinders voor die proses hul hande was en leer hulle dan ook om ná die tyd op te ruim, skottelgoed te was en weg te pak.

Hierdie boek is ’n moet vir enige ma, ouma of tannie wat lief is om saam met die kleingoed in die kombuis te woel, en Marinda demonstreer dat kook saam met kinders ’n lekka lekka proses is. Ek beveel die boekie regtig aan en ek moet sê: Lekka lekka, “ek is koes-koes vir jou.”

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Seekatpizza

Seekat-pizza.Foto:

brooddeeg (koop rou brooddeeg in ’n sakkie by jou naaste supermark se bakkery)

tamatiesous (gebottelde pastasous kan ook gebruik word)

kaas (gerasper)

olywe (sonder pitte)

2 skywe salami

Verhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n groot genoeg bakplaat vir die seekat.

Strooi ’n bietjie meel op jou werksoppervlak of op die broodplank waarop jy gaan werk. Dit keer dat die deeg vassit. Gooi ’n bietjie meel oor jou koekroller. Rol die deeg liggies uit (onthou brooddeeg rys, maak seker dit is nie te dik nie!).

Vorm ’n sirkel uit die deeg vir die lyf. Sny stroke uit die deeg vir die bene (onthou ’n seekat het agt bene). Bou die seekat op die bakplaat deur die bene aan die lyf vas te druk.

Gebruik ’n lepel en smeer tamatiesous oor die hele seekat. Sprinkel nou gerasperde kaas oor. Maak twee seekat-oë met die salami. Sny die olywe in ringetjies. Pak dit op die bene as suiers. Maak die ogies klaar deur twee olyfringetjies op die salami-oë te sit. Bak vir 20 minute.

Kidz lekka lekka kookboek word uitgegee deur Free 4 All (Edms.) Bpk. en kos R49,99. Tien lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “lekka” met jou naam en adres na 34581. Sluitingsdatum: 24 Januarie 2020.

Maklike roomskons

Maklike roomskons. Foto:

500 g bruismeel

2 ml sout

250 ml room

1 blikkie Sprite (limonade 355 ml)

Stel die oond op 180 °C. Meng die meel en sout in ’n mengbak.

Voeg die Sprite en room stadig by die droë bestanddele. Dit is die beste om die Sprite en room om die beurt by te voeg. Smeer ’n muffinpannetjie met botter, of spuit die pannetjie met Spray & Cook. Verdeel die beslag tussen die holtes met ’n lepel.

Bak vir 20 minute teen 180 °C tot jy sien hulle word bruin. Hou hulle mooi dop, want as dit te lank in die oond is, raak die skons droog. As dit klaar gebak het, haal die skons uit die pannetjie.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Kook  |  Resensie  |  Kos  |  Bak  |  Kinders  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.