Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Lewe la agrodolce vita!

’n Kombinasie van soet en suur is ’n wenner in die kombuis, skryf Errieda du Toit.

Foto’s: IAN DU TOIT

Federico Fellini sal my vergewe dat ek die titel van sy rolprent La Dolce Vita – die soet lewe – vir my eie doeleindes redigeer met ’n titsel asyn. Die smaakvreugde wat die bietjie agro (suur) saam met dolce (soet) na die tafel bring, is iets wat hy as Italianer immers goed sou ken.

Agrodolce is ’n kentekensmaak van veral die Siciliaanse kombuis wat deur die eeue invloede uit ander koskulture – onder meer Grieks, Romeins, Arabies en Spaans – geabsorbeer het.

Soetsuur-smake is ook hoekstene van ons eie saamgesmelte kookkuns. Geregte soos denningvleis, lewer in ’n soetsuursous, van gesmoorde uie en die rosyntjiesous waaraan ons weglê saam met tong, vier dié smaakkombinasie, terwyl blatjang ook die agrodolce-karaktereienskappe besing.

Vir agrodolce (uitgespreek ah-groh-DOL-cha) word suiker of ander versoeters soos heuning en asyn saam met groente of vrugte, speserye, soms neute, afgekook tot ’n heerlike taai eenheid. Die resultaat is ’n kragtoer van pikante balans tussen die twee kontrasterende smake.

Dis ook eindeloos aanpasbaar. Stapel dit op brood, skep dit oor vleis, vis of hoender, of om ander groente op te helder.

Agrodolce is ’n kente-kensmaak van veral die Siciliaanse kombuis wat deur die eeue invloede uit ander koskulture geabsorbeer het.

Die agrodolce wat ek die naweek gaan maak van swart vytjies en druiwe wat my vriend Mynhardt uit die Paarl aangery het, gaan met varktjops verslind word. Die sakkie pêreluitjies in die groentemandjie gaan ook nou uiteindelik aandag kry deur dit te karamelliseer in balsemieke asyn uit Modena, heuning van ons eie korf en roosmaryn uit die tuin.

My vegetariese vriende het ook al my agrodolce-soetrissie se sonkleure en geure op bruschetta geniet. Volgende keer word hulle trakteer op ’n murgpampoentjie-variasie: braai eers vier opgesnyde murgpampoentjies bruin in olyfolie, skep uit en hou eenkant. Soteer een dungesnyde rooi ui in dieselfde pan tot murgsag (minstens 15 minute), voeg dan 3 tot 4 eetlepels rooiwynasyn, 1 eetlepel geelsuiker en ’n lepeltjie droë rissievlokkies by. Skep die gebraaide murgpampoentjies terug in die pan, kook ’n paar minute saam, strooi fyngekerfte vars knoffel en kruisement oor en giet olyfolie kwistig oor.

Terwyl dit nog die seisoen vir steenvrugte is, word my vleiseter-vriende bederf met geroosterde agrodolce-geelperskes en hoenderlewertjies op crostini, ’n sexy weergawe van die tradisionele lewer in soetsuursous uit my ma se kombuis. Dié resep deel ek op my blog Huiskok.com, tesame met ’n Venesiese resep vir lewer, uie en Smyrna-vy-agrodolce op gnocchi.

Ek droom klaar van herfs om pampoen-en-soetpatat-agrodolce te maak met bruinsuiker, my kosbare 30 jaar oue sjerrieasyn uit Prins Albert, goue sultanas en rissievlokkies. Maar gelukkig hoef ek nie tot dan te wag om blomkool-agrodolce met wit balsemieke asyn, granaatstroop, dennepitte en korente te maak vir ’n alfresco-ete onder ’n koelteboom nie. Dis somer en die lewe is soet. La Dolce Vita.

  • Du Toit is by die US Woordfees by Die Khaya op 12 Maart (14:30) met haar boek Saam. Kom proe die gemmerkoekiefrikkadelle waaroor almal dol is en ontdek die storie agter die noorsie-koekies uit die Noord-Kaap. Bespreek nou by Computicket.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.