Ek het onlangs die eerste keer tuisgemaakte gradvalax geëet en ek moet sê dié Nordiese salmgereg het my kossiel oorrompel. Ek is verlief op dié luukse visgereg en ek gaan dit vir skoonma Marie maak om haar te beïndruk. En dit vat baie, hoor!
Wat is gradvalax?
Om dit in plein en propperse Afrikaans te stel: Gradvalax is vars salm wat met sout en suiker ryp gemaak (cured) is. Jy verweef die sout-en-suikermengsel met vars geurmiddels soos byvoorbeeld dille, lemoen, suurlemoen of beet en ná ’n paar uur en min moeite het jy ’n salmgereg wat die gaste om jou tafel se kosharte gaan laat bokspring van die lekkerte. Die soutmengsel trek van die vog uit die vis en die salm word wasagtig sodat jy dit maklik in papierdun skyfies kan sny. Amper iets soos soesji, maar gegeur en baie lekkerder. Gradvalax is maklik om te maak en word gewoonlik saam met ’n mayonnaise- of mosterdsous bedien vir daardie tikkie ekstra geur en romerigheid. Pak dit in ’n krans en sit dit voor saam met snytjies volgraanbrood of klein gekookte aartappeltjies en jy het ’n Kersfeeswenner.
Beet-gradvalax
Vandag meng ons sout, suiker en gerasperde beet saam en ek was lus vir ’n sopie vodka, toe gooi ek dié ook by. Jy meng alles, pak dit aan een kant oor jou salmfilet, draai dit toe in kleefplastiek en plaas dit in die yskas vir so twee tot drie uur. Die beet gee ’n pragtige pers randjie en ’n dieper geur aan die vis. Jamie Oliver gebruik sout, bruinsuiker, fyngekapte dille en lemoen en bedien dit saam met suurroom wat met fyngekapte grasuie gegeur is. Salm is duur, maar met 350 g kan jy vir ses mense ’n heerlike voorgereg voorsit wat hulle altyd sal onthou.
Kappertjiesaad-en-agurkiesous
Bedien die gradvalax ook saam met ’n kappertjiesaad-en-agurkiesous. Die sous is soos ’n dik salsa wat deur die vetterigheid van die salm sny. Dit verleen ’n surigheid wat die souterige salm nodig het. Die sous is lekker saam met enige vis. Jy kan ook van die kappertjiesaad vir versiering diepbraai – dit word amper soos springmielies.
Snoekbroodjie met appelkoossalsa
Iets wat ek ook onlangs geproe he,t is Josh Wiid se heerlike snoekbroodjie met appelkoossalsa. Snoek en appelkooskonfyt is mos maters, maar gerookte snoek gevlok en gemeng met suurroom, roomkaas, agurkies en kruie is lekker! Sny vars appelkose in blokkies en braai saam met uie en heuning om ’n soetsuur salsa te maak.
Groete uit my kombuis,
Anél
anelpot@telkomsa.net
Kersfees-salmkrans

Kersfees-salmkrans. Foto:
Gradvalax
1 beet, fyn gerasper
100 g growwe sout
50 g suiker
30 ml vodka
1 x 350 g salm (goeie dik stuk salm, nie die stertgedeelte nie)
Kappertjiesaad-en-agurkiesous
100 g kappertjiesaad, gedreineer
100 g dille-agurkies, in blokkies gesny
60 ml korrelmosterd
60 ml olyfolie
handvol pietersielie, gekap
10 ml suurlemoensap
sout, na smaak
swartpeper, na smaak
Gradvalax: Meng die beet, sout, suiker en vodka saam. Bedek die salm aan een kant met die mengsel. Draai dit toe in kleefplastiek, plaas in yskas vir minstens twee tot drie uur en spoel dan die beetmengsel versigtig af. Druk droog met papierhanddoek. Plaas terug in yskas tot bediening.
Kappertjiesous: Meng die kappertjiesaad, agurkies, mosterd, olyfolie, pietersielie en suurlemoensap saam en geur dit na smaak met sout en peper.
Om te bedien: Sny die salm met ’n baie skerp mes in dun skyfies teen die grein van die vis. Pak in ’n kransvorm op ’n bord en skep van die sous bo-oor.
Kruie-snoekpateebroodjie

Snoekpatee-broodjie met appelkoossalsa. Foto:
Snoekpatee
500 ml gerookte snoek, ontbeen en gevlok
125 ml roomkaas
125 ml suurroom
sap en gerasperde skil van ’n halwe suurlemoen
1 sprietui, fyngekap
15 ml pietersielie, fyngekap
15 ml vars koljander, fyngekap
sout na smaak
swartpeper na smaak
Appelkoossalsa
15 ml olyfolie
5 appelkose, in klein blokkies gesny (hou die skil aan)
½ rooi ui, fyngekap
15 ml heuning
Vir bediening
geroosterde broodjies
Snoekpatee: Meng alles goed saam en geur na smaak.
Appelkoossalsa: Verhit die olyfolie oor medium hitte en braai die uie en appelkose stadig vir so twee minute. Moet dit nie pap kook nie – jy moet nog die blokkies behou. Meng die heuning deur en kook vir ’n verdere minuut. Skep uit en laat afkoel.
Vir bediening: Smeer ’n dik laag snoekpatee oor geroosterde broodjie en rond af met ’n skeppie appelkoossalsa.
Briewe
Ek het ’n rukkie terug ’n brief van Alsona Elstadt geplaas. Sy het gesoek na ’n aspersietert van toentertyd wat met kappertjieblomme gemaak is. Wel, ek het goeie nuus – ek het ’n e-pos van Marianne Potgieter van Craighall Park ontvang en sy skryf:
“Ek dink ek het die resep gevind waarna ’n leser onlangs gesoek het. Dit kom uit ’n spesiale uitgawe van Tuis. Wys jou net opgaar en versamel het sy voordele.”
So, hier is die resep.

Aspersietert
HULLE WEN: Elkeen wen ’n Roodeberg-geskenkpak: Ansu Matthee (Ceres), Rena Wait (Durban), P.J. Kotze (Ravensmead), Danie Boshoff (Jeffreysbaai), Friedel Wichmann (Pretoria).