Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Maak ’n slaai vir Tuindag

As Michelle Obama van Karen se slaaie hou, wie’s ons om te stry?

Karen Dudley, eienaar van The Kitchen in Woodstock, vier Tuindag.

Groen vingers was my nog nooit beskore nie en al wat in my tuin groei, is my appelliefiebos, want dié is soos ’n tiener en sy verkies so min as moontlik aandag van haar plant-ma.

Die vetplante en geharde kruie daarenteen is dolgelukkig, hulle het geen plantouers nodig nie – woed voort op hul eie in die droogte.

Die tamaties wat ek so hier en daar in ’n pot indruk en die onkruid is baie gelukkig met die somerson en reën die afgelope tyd. Maar die res koes as hulle my sien, want ek is, soos my vriendin tereg sê, ’n plantmoordenaar (ek weet dit klink verskriklik, maar dis waar), en nie ’n plant­ouer nie.

Tuindag op 20 Oktober

Volgende Sondag op Tuindag gaan dié plantouer die hele dag in haar tuin deurbring, bietjie klets met die plantkinders wat nie van my hou nie, ’n paar vriende oornooi en Karen Dudley se heerlike slaaie vir my gaste aanmekaarslaan.

Karen Dudley

Karen is die eienaar van die restaurant The Kitchen in Woodstock, Kaapstad, wat in 2008 as ’n kombuis vir haar groeiende spysenieringsonderneming gedien het.

Vandag is dit ’n gewilde eetplek in Kaapstad en in 2011 het dit superstatus gekry toe Michelle Obama daar gaan eet het. En wat het Michelle Obama geëet?

Koshieri-ryspilaf, eiervrug-ratatouille, sumak-pietersielieslaai, beet-appel-en-koljanderslaai, gekapte Turkse slaai, gort-roket-en-okkerneutslaai, falafel en hoemoes.

Karen se slaaie vir Tuindag

Haar geroosterde blomkoolslaai is ’n smaaksensasie met sitroengras, lemmetjies, bronkors, koljander en kruisement. Karen se lemoen-en-vinkelslaai word afgerond met amandelpralien wat ’n tikkie gerookte paprika bykry.

  • Vind meer uit oor Tuindag op die webtuiste www.gardenday.co.za. Volg hulle op @GardenDaySA op Facebook, Instagram en Twitter. Hutsmerk: #GardenDaySA.

Groete uit my kombuis

Anél

Anelpot@telkomsa.net

Karen se geroosterde blomkoolslaai

Karen Dudley se geroosterde blomkoolslaai.Foto:

1 groot blomkool, in groot blomme gebreek met ’n stukkie steel en enige sagte blare nog daaraan vas, goed gewas

3 eetlepels sonneblomolie

1-2 groen brandrissies, fyn gekap (begin met bietjie en voeg by na smaak)

1 sitroengrasstingel, harde buitenste lae verwyder, baie fyn gekap

¼ koppie vissous

¼ koppie lemmetjiesap

¼ koppie gaar klewerige rys

5 sprietuie, baie fyn gesny

80 g boonspruite

1 koppie ertjiespriete (rankies)

½ koppie bronkors (watercress)

1 koppie vars koljander

1 koppie vars kruisement

Maldon-sout

witpeper

4 Israelse komkommers, diagonaal gesny

3 jong botterslaaikoppe, blare van die stronk afgetrek om klein bakkies te vorm, groter blare kleiner gesny (sodat dit eetbakkies vorm)

Jy sal ’n koffiemeul nodig hê.

Só maak mens

1. Verhit die oond tot 220 °C.

2. Voer ’n bakplaat met bakpapier uit. Gooi die olie op die bakplaat, gevolg deur die blomkoolblomme. Gebruik jou vingers om die blomkoolblomme met die olie te smeer. Versprei die blomkool in ’n enkellaag oor die bakplaat.

3. Bak vir 35-45 minute en skud die pan so nou en dan sodat die blomkool oraloor ’n mooi kleur kry. Plaas eenkant op die bakpapier en laat effens afkoel.

4. Sny die blomkool (met blare en stingels) tot ertjiegrootte stukkies. Gooi in ’n groot mengbak en voeg die brandrissies en sitroengras, vissous en lemmetjiesap by. Meng goed.

5. Braai die rys in ’n pan oor matige hitte. Skud die pan aanhoudend om te keer dat die rys brand en totdat dit eweredig verbruin het, sowat 10-15 minute. Skep dit op ’n bord en laat afkoel. Maal die rys in die koffiemeul tot ’n fynerige poeier. Daar sal nog krakerige stukkies in wees. Dit sal lekker tekstuur aan die mengsel gee.

6. Voeg die gesnyde sprietuie, ertjiespriete, koljander, kruisement en 2 teelepels van die ryspoeier by die blomkool. Geur met sout en witpeper.

7. Wanneer jy gereed is om op te dien, voeg die gesnyde komkommer en die oorblywende ryspoeier by. Sit die botterslaaiblare op ’n opdienbord en skep ’n dessertlepel vol van die geroosterde blomkool op elke slaaiblaar.

Lemoen-en-vinkelslaai

Lemoen en vinkelslaaiFoto:

6 medium lemoene

2 groot vinkelknolle, baie fyn gesny

Maldon-sout

80 g sagte Deense feta, in bytgrootte stukkies gebreek

’n ordentlike handvol bronkors

100 g kruisementblare

Amandelpralien

80 g gevlokte amandels

½ teelepel gerookte paprika

100 g strooisuiker

Slaaisous

2 eetlepels witwynasyn

1 eetlepel lemoensap

2 teelepels loperige heuning

blare van ’n tiemietakkie of ’n knippie droë tiemie

7 eetlepels olyfolie

½ teelepel geroosterde komynsaad

1 teelepel geroosterde paprika

Amandelpralien

1. Berei ’n bakplaat voor met ’n silikoonmat of bakpapier. Smeer die papier liggies met botter.

2. Meng die gevlokte amandels met die paprika.

3. Sprinkel die suiker oor die basis van ’n swaarboompan en verhit totdat die kante begin karamelliseer en die suiker smelt om ’n ligte goue kleur te raak. (Moenie die pan alleen laat nie en weerstaan die drang om te roer.)

4. Roer onmiddellik die amandelvlokkies by en gooi en versprei die pralien vinnig oor die voorbereide bakplaat, so dun en eweredig as moontlik.

5. Laat afkoel op ’n droë plek.

6. Wanneer koud, breek die pralien in fyn skerwe of maak effe stukkend met ’n koekroller.

Slaaisous

Meng al die bestanddele saam en plaas eenkant.

Slaai

1. Sny die bo- en onderkant van elke lemoen af. Skil die lemoen. Sny die lemoene in ronde skywe en verwyder enige pitte wat jy sien.

2. Sny die vinkelbolle se bo- en onderkante af en hou die vinkelblare om by die slaai te voeg. Sny die vinkelknol in die helfte met ’n skerp mes en verwyder die kern. Dit sal jou vinkel losmaak sodat dit baie fyn gesny kan word. Voeg die gesnyde vinkel by die sous.

3. Trek die bronkors effe uitmekaar en gooi die baie dik stamme weg.

4. Pak lae van die lemoen saam met die vinkel en sous, asook die vinkelblare, kruisementblare en feta in ’n vlak opdienbak.

5. Rond dit af met die amandelpralien en die laaste van die vinkel- en kruisementblare. Sprinkel ’n bietjie Maldon-sout en ’n knypie paprika oor.

Meer oor:  Resepte  |  Tuindag  |  Kostelik  |  Slaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.