Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Maklik met Marinda: 3 brode wat jy dié naweek moet bak

Op Via (DStv-kanaal 147) se kosprogram Maklik met Marinda gee Marinda Engelbrecht kitsklasse vir bekendes wat sukkel in die kombuis. In episode ses het Marinda en die tydskrifredakteur Ingrid Jones dié drie brode leer bak. Vergeet maar van jou Banting-dieet!

BokkenfolleFoto’s: Verskaf

Bokkenfolle

Jy benodig:

  • sagte botter
  • 500 ml room
  • 350 ml bruinsuiker
  • 1 kg winkeldeeg
  • 375 ml tuisgemaakte karamelsous

Metode:

Smeer ’n groot platboom-ysterpot wat ’n deksel het, lekker dik met botter. Giet die helfte van die room in die pot en sprinkel die helfte van die suiker bo-oor.

Maak bolle met die winkeldeeg en pak hulle in die pot in een laag. Laat staan die pot, toegemaak met ’n skoon lap, op ’n warm plek totdat die deeg verdubbel het.

Giet die res van die room oor die bolle en strooi die res van die suiker bo-oor. Bak teen 180 ºC vir 40 minute met deksel op en dan ’n verdere 10 minute sonder deksel tot deurgaar en goudbruin.

Bedien 6 – 8 porsies met die karamelsous.

Maklik!

Calzone met salsa

Calzone met salsa

Jy benodig:

Calzone

  • 125 g kleingesnyde blokkies gerookte hoender
  • 65 ml gaar mieliepitte
  • 65 ml fyn blokkies rooi soetrissie
  • 45 ml fyn blokkies murgpampoentjie
  • 45 ml fyn blokkies rooi ui
  • 250 ml grofgerasperde, sterk kaas
  • 15 ml gedroogte Italiaanse gemengde kruie
  • sout en grofgemaalde swartpeper na smaak
  • 500 g winkeldeeg

Salsa

  • 250 ml fyn blokkies tamaties
  • 45 ml baie fyngekapte rooi ui
  • 10 ml gedroogde oregano
  • 10 ml fyngekapte knoffel
  • 30 ml olyfolie
  • 10 ml gewone wit asyn
  • 15 ml tamatiepuree
  • 10 ml suiker
  • sout en peper na smaak

Metode:

Vir die calzone, meng al die bestanddele saam behalwe die deeg. Rol die deeg in ’n sirkel uit en sit die deeg op ’n groot, gesmeerde bakplaat.

Skep die vulsel op een helfte van die deegsirkel. Vou die ander stuk deeg oor die vulsel en vou die deeg se randjies oor in ’n rolletjie. Knyp die deeg deeglik toe sodat die vulsel nie maklik sal uitloop nie.

Bak teen 180 ºC vir 20 – 30 minute.

Meng intussen die salsa se bestanddele saam en skep in ’n opdienbakkie.

Bedien 2 - 4 porsies (afhangende van die gang en aptyt) saam met die salsa.

Verfyn die vulsel: Voeg gedroogte rooi brandrissievlokkies na smaak by en probeer gerus ook gekoopte BBQ-sous of basieliekruid-pesto.

Maklik!

Foccacia in drie dele

Foccacia in drie dele

Jy benodig:

Foccacia

  • 1 kg winkeldeeg
  • olyfolie
  • witwynasyn
  • growwe sout en varsgemaalde swartpeper

Babatamatie-en-basieliekruid-deel

  • 250 ml baba tamaties, gehalveer
  • 125 ml basiliekruidblare, grof geskeur
  • 2 groot, dungesnyde knoffelhuisies

Drie-kase-en-roosmaryn-deel

  • 125 ml dun skyfies Taleggio-kaas (Mozzarella sal ook doen, as dit moet)
  • 100 g rolletjie bokmelkkaas, in klein stukkies gebreek
  • 125 ml grofgerasperde Parmesaankaas
  • 15 ml grofgekapte roosmaryn

Klassieke deel (hoeveelhede na smaak)

  • gerookte Mozzarella skywe
  • dun knoffelskyfies
  • ansjovisfilette
  • ontpitte swart olywe
  • gedroogde oregano

Metode:

Smeer ’n bakplaat met botter of spuit met kleefwerende sproei. Druk die deeg binne in die pan sodat dit die hele oppervlakte bedek. Prik die deeg met ’n vurk en bak vir 8 minute teen 180 ºC.

Rangskik na smaak, die bestanddele hierbo in drie afsonderlike dele oor die deeg. Bedruip na smaak met olyfolie en asyn en geur met growwe sout en varsgemaalde swartpeper.

Bak verder vir 15 minute teen 180 ºC of tot deurgebak.

Bedien 6 – 8 met ’n slaai, sop of as happie saam met drankies.

Sprinkel enige van die dele (of al drie) met gedroogde rooi brandrissievlokkies. En as jy lus is, kap sommer mildelike hoeveelhede vars gekapte kruie oor.

Maklik!

  • Nuwe episodes van Maklik met Marinda word Donderdae om 17:30 uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 16:00.
Meer oor:  Marinda Engelbrecht  |  Ingrid Jones  |  Vermaak  |  Tv  |  Via  |  Maklik Met Marinda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.