Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
‘Maklik met Marinda’: 3 geregte wat jy dié naweek moet maak

Op VIA (DStv-kanaal 147) se kosprogram Maklik met Marinda gee die eksentrieke Marinda Engelbrecht kitsklasse vir bekendes wat sukkel in die kombuis.

In dié episode: Marinda kook saam met die televisievervaardiger, Herman Binge. Marinda wys hom hoe hy self ’n niertjiesmoor, murgbene met ’n kappertjiesaadsalsa en soetsuurlewer kan maak.

Murgbene & Kappertjiesalsa

Murgbene met kappertjiesalsa

24 lekker dik murgbene

65 ml kappertjiesade, gedreineer en grof gekap

125 ml Italiaanse pietersielie, grof gekap

4 heel sprietuie, dun gesny, groen stingel en al

30 ml olyfolie

15 ml suurlemoenskil, fyngerasper

15 ml suurlemoensap

growwe sout en swart peper na smaak

bros geroosterde bruinbroodvingers

  • Rangskik die bene op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is en bak teen 220 ºC vir so 15 minute of totdat die murg deurgaar is en begin wegtrek van die bene. Maak seker jy haal die bene uit die oond voordat die murg begin uitborrel.
  • Meng die kappertjiesade, pietersielie, sprietuie, olie, suurlemoenskil en sap. Geur na smaak en sprinkel oor die murgbene.
  • Lewer so 4 – 6 voorgereg porsies saam met gebotterde roosterbroodvingers.
  • Maklik!
Niertjiesmoor

Niertjiesmoor

Hier is ’n Suid Afrikaanse afval-weergawe van die bekende Mediterreense gereg, shakshuka.

12 skaapniertjies

65 ml botter

30 ml sonneblomolie

1 groot ui, in 1 cm blokkies gesny

10 ml komynsade, grofgemaal in ’n vysel

10 ml gewone paprika

5 ml (of na smaak), gedroogde brandrissievlokkies

1 groot aartappel, in 1 cm blokkies gesny (sowat 325 ml)

125 ml lam- of hoenderaftreksel

sout en peper na smaak

500 ml kersietamaties, in kwarte gesny

90 ml platblaarpietersielie, grof gekap

15 ml knoffel, fyngekap (of na smaak)

6 eiers

  • Dompel die niertjies in kookwater vir ’n minuut, dreineer dadelik en trek die buitenste membraan af. Halveer nou elke niertjie in die lengte en sny als uit wat jou pla.
  • Verhit die helfte van die botter en al die sonneblomolie in ’n swart ysterpan (of jou mooiste pan) en braai die niertjies vinnig tot bruin. Skep uit en hou eenkant.
  • Braai die ui tot sag en roer die komyn, paprika en rissievlokkies by. Roerbraai vir ’n minuut of tot geurig en voeg dan die aartappel en aftreksel by. Bring tot kookpunt, verlaag hitte en prut vir so 6–10 minute of totdat die aartappelblokkies sag is.
  • Voeg die res van die botter by en roerbraai totdat die aartappels goudbruin is. Voeg nou die niertjies by en geur na smaak met die sout en peper. Roer deeglik.
  • Voeg die tamaties, pietersielie en knoffel by en roerbraai totdat die tamaties sag en souserig is.
  • Maak nou ses holtes in die mengsel. Breek ’n eier in elke holte en maak die pan toe met ’n deksel of swaar foelie.
  • Bak oor lae hitte vir so 4 – 8 minute of totdat die eiers gaar genoeg is na jou smaak en bedien dan net so, in die pan.
  • Lewer ses porsies saam met ’n roket-en-avokadoslaai.
Soet-suur Lewer

Soetsuur lewer

600 g lamslewer

90 ml meel

90 ml Bisto-souspoeier

10 ml BBQ-speserye

genoeg olie om vlak te braai

500 g piepklein piekeluitjies

375 ml aftreksel

65 ml bruinasyn

15 ml Worcestersous

genoeg suiker om ’n soetsuur sous te maak

genoeg mielieblom (Maizena) om die sous dik te maak, indien nodig

sout en witpeper na smaak

65 ml platblaarpietersielie, grof gekap

  • Dompel die heel lewer in kookwater vir ’n minuut, dreineer en trek die buitenste membraan af. Sny enige sigbare vet of are weg. Sny die lewer in 3-cm blokkies en sit in ’n groot bak.
  • Meng die meel, Bisto en speserye in ’n bak en sprinkel oor die lewer. Meng die lewer liggies sodat die mengsel al die oppervlaktes bedek. Skud die oortollige meelmengsel af.
  • Verhit genoeg olie in ’n braaipan en braai die lewer vinnig aan alle kante. Moenie die lewer te lank braai nie, anders raak dit droog – die binnekant moet nog pienk wees. Verwyder uit die pan en hou eenkant.
  • Braai die uie in dieselfde pan tot sag en voeg dan die aftreksel by. Kook totdat die uie sag is, ongeveer 10 minute.
  • Voeg nou die asyn, Worcestersous en suiker by en laat die mengsel vir ’n minuut of wat kook. Proe aan die sous – voeg nog asyn by indien dit te soet is en nog suiker by indien dit te suur is.
  • Plaas die lewer terug in die pan as jy gelukkig is met die smaakbalans van die sous. Laat weer kook vir ’n paar minute of totdat die lewer gaar is en die sous verdik het. Indien nie, verdik na smaak met ’n mielieblom-en-water mengsel.
  • Geur met sout en witpeper en roer die pietersielie deur.
  • Bedien 4 – 6 porsies met botterige kapokaartappels.
Soet-suur Lewer

Nuwe episodes van Maklik met Marinda word elke Donderdag om 17:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Sondae om 16:00.

Meer oor:  Resepte  |  Via  |  Marinda Engelbrecht  |  Maklik Met Marinda
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.