Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Met dié bone neem jy tyd

Dit was ’n baie opwindende kosweek – ek het my eerste appelliefies gepluk en is nou die trotse ma van tien koeëlronde goudgeel vruggies.

Ek staar op die oomblik net na hulle, want hulle is te pragtig verpak in hulle beeldskone, ragfyn omhulsels, maar ek is seker hul suur smaak gaan my kiewe laat skeeftrek.

My Ier het verlede jaar, sonder te veel hoop, ’n plantjie van my skoonsuster in die grond gedruk en nou groei Mev. Appelliefie wild tussen my vetplante wat ek vir die Kaapse droogte geplant het. Sy rank haar onaansienlike boskasie pragtig teen ’n houtreling op en saai haarself – skoonsus sê ons gaan nog lank appelliefies eet. Soos enige trotse ma het ek natuurlik met my vrugtekinders op Facebook gaan spog.

Appelliefies en snoek

Yvette Beneke, my Facebook-mater, skryf: “Ken jy die appelliefieresep met groen peperkorrels, appelkooskonfyt en bietjie suurlemoen? Dis heerlikoor geelstert of snoek en jy kan dit met net ’n handjievol maak.” Nee, Yvette, ek ken dit nie, maar die kombinasie klink verruklik en ek gaan dit definitief met my paar kinders probeer.

Saam met dit luister ek na rokerige blues of laat ’n gas die bekfluitjie uithaal.

Appelliefies en tamaties

“Anél, ek het nou die dag ’n klein rooi tuintamatie saam met ’n appelliefie geëet, daai twee goed met Maldon-sout op, werk lekker saam. Seker snaaks, maar lekker,” laat weet Tossie van Rensburg op haar beurt. Toe gaan pluk ek ’n klein tamatie, vat een van my vrugtekinders en ’n knypie Maldon-sout en . . . lekker! Ja, dit werk. Dankie, Tossie.

Gebakte bone met bourbon-whiskey

Nadat ek Susan se navraag oor gebakte bone ontvang het (sien die briewehoekie), het ek by Errieda du Toit, Suid-Afrika se Huiskok (www.huiskok.com) en voorste koskenner, gaan kers opsteek.

Anél se appelliefie-babas uit haar tuin. Foto: Anél Potgieter

Gebakte bone met bourbon-whiskey is een van Errieda se gunstelinggeregte om vir kuiermense voor te sit en sy noem dit die Percy Sledge van Soul Food.

“Jy maak dit nie sommer so in die middel van die week om op ’n sny winkelbrood te eet nie, nee – jy gaan jou tyd neem, want om dit te maak is soveel genot soos om dit te eet. Dit neem tyd (’n hele paar uur), maar die resultaat is die stickyste donker-behaaglike, rokerigste lekkerte en is ’n BBQ-varklies se beste pêl.”

Errieda se mammie is onlangs oorlede en sy praat met verlange: “Ek het nou baie heimwee, want ek het dit een Sondag vir my ma in haar huisie gemaak – vandaar die doilies op die foto’s.”

Sedert sy die klassieke Amerikaanse gebakte bone self gemaak het, het sy nooit weer ’n blik daarvan oopgesny nie.

“Saam met dit luister ek na rokerige blues of nooi ’n gas om die bekfluitjie uit te haal.

“Bedien dit as bykos saam met varklies of flentertjievark (pulled pork), of selfs vir ’n laat ontbyt met krakerige sourdough (oor die kole gerooster) as jy baie mense moet kos gee.”

Lekker week vir julle almal en hou julle warm.

Groete uit my kombuis

Anél

anelpot@telkomsa.net

Gebakte bone met bourbon-whiskey

Foto: Ian du Toit

Begin dit die vorige aand maak.

Bedien 6-8 as bykos

30 ml sout

500 g droë bone, afgespoel

250 g repe gerookte spek

1 groot ui, fyngekap

15-30 ml brandrissie, pitte uitgehaal en fyngekap

60 ml fyngekapte soetrissie

15 ml gemaalde knoffel

500 ml hoenderaftreksel

100 ml bourbon + ekstra na smaak (Amerikaanse whiskey)

375 ml tamatiesous, verkieslik ketchup

165 ml donker bruinsuiker

60 ml melasse

60 ml Worcestersous

30 ml Dijon-mosterd

15 ml appelasyn

5 ml paprika

2,5 ml rooipeper of 5 ml Tabasco

125 ml braaisous (ek maak my eie, maar gebruik gerus gekoopte “hickory”- gerookte braaisous)

Klits twee liter water en sout in ’n groot bak tot opgelos. Voeg die bone by en laat oornag week. Dreineer en spoel die bone af.

Voeg die spekrepe in ’n groot oondvaste kasserolbak of gietysterpan en braai oor mediumhoë hitte tot bros. Skep die spek uit en behou soveel moontlik van die vet in die bak of pan. Voeg die uie by en soteer tot sag en net effe bruin om die kante, sowat sewe minute. Voeg die brandrissie, soetrissie en knoffel by, en braai tot geurig, terwyl jy aanhou roer. Voeg 750 ml water, hoenderaftreksel, spek en geweekte bone by. Verhit tot kookpunt, draai hitte laer en laat prut vir ’n uur totdat die bone sag is.

Voorverhit die oond tot 150 °C.

Roer die tamatiesous, bruinsuiker, melasse, mosterd, asyn, braaisous, paprika en rooipeper of Tabasco by die bone. Bedek en bak vir vier uur in die oond, roer nou en dan. Roer die bourbon deur. Kook sonder die deksel vir nog sowat ’n uur totdat die bone sag is en die sous verdik het. Haal uit die oond en laat sowat 15 minute staan. Geur met sout en bedien dadelik.

Briewehoekie

Resep vir gebakte bonein tamatiesous

Susan Smalberger van Centurion skryf: Jong, ek is op soek na ’n tuisgemaakte resep vir gebakte bone in tamatiesous. Ek kry oral resepte vir sousboontjies, maar dit is iets anders. Kan jy help, asseblief? Groetnis van huis tot huis!

A: Ek het nog nooit self gebakte bone gemaak nie, maar ek het by my vriendin Errieda du Toit ’n resep gaan bedel – sien langsaan.

Meer oor:  Resepte  |  Bone  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.