Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kook saam Kaaps: Met kos en plesierigheid
“Community-mense”: Flori Schrikker (62) en Koelsoem Kamalie (67) stap saam af in Vlamboomstraat. Die Schrikker- en die Kamalie-gesin is weens die Groepsgebiedewet uit Brooklyn en Claremont na Bonteheuwel geskuif. Foto’s: Lulama Zenzile

Flori Schrikker en Koelsoem Kamalie deel gereeld eg Kaapse resepte uit Bonteheuwel met Amoré Bekker se Tjailatyd-luisteraars op Radio Sonder Grense (RSG). Dié twee boesemvriendinne se eerste kookboek het pas verskyn. Boonop is hulle eersdaags op die kassie te sien. Anika Marais het saam met hulle om ’n klapper-en-konfyt-tert gekuier.

Sy gesels nog toe haar gesig eensklaps verstar.

“O jinne, auntie Koelie!” sê Flori Schrikker (62). “Ek het dan nog drie spinasiebroodjies in die oond by die huis vergeet.”

Koelsoem Kamalie (67) haal nie haar oë van 7de Laan af nie, maar skree oor haar skouer die kombuis in: “Gadija! Gadija! Kom bel hier binne vir die uncle.”

Kooktyd: Flori en Koelsoem staan in Koelsoem se kombuis by uitgerolde deeg vir roti’s. Dié twee vriendinne deel al jare hul eg Kaapse resepte met Amoré Bekker se Tjailatyd-luisteraars op RSG.

Koelsoem se jongste dogter, Gadija (30), vee die roti-deeg aan haar hande af en kom sit by die eetkamertafel.

Uncle, dis Gigi van auntie Koelie. Gadija, ja. Uncle, auntie Flori het die brood in die oond vergeet. O, Uncle het dit al uitgehaal? Bietjie gebrand? Oukei, uncle. Dankie, Uncle,” sê sy en lui af.

“Ag, dankie tog!” Flori slaan haar hande oor haar bors.

“Daai man van my weet al as hy iets snaaks in die huis ruik, moet hy in die oond gaan kyk. Ek sal maar vanaand nog ’n paar van die broodjies bak. Dit vat nie lank nie. Ek sal dit doen terwyl ek die kreefkerrie klaarmaak. Ek het nog net vanmiddag die ywe en die spices ’n bie­tjie laat sweet.”

Een van dié “klam spinasie-broodjies” is vir die radio-omroeper Amoré Bekker, wat vir die eerste keer vir auntie Koelie en auntie Flori in Bonteheuwel kom kuier het die dag toe hul kookboek, Kook saam Kaaps, in die plaaslike multi purpose hall bekend gestel is.

“Dis mos auntie Koelie se Riaaz wat alles begin het,” verduidelik Flori. “Is mos so, auntie Koelie?”

Koelsoem knik en trek haar swart “doek” laer oor haar voorkop.

“Is so, Flori. Dis my seun Riaaz gewees. Hy het in die kar gery en gehoor hoe Amoré op die radio vra vir mense met lekker resepte. Toe bel hy haar en sê sy moet maar vir sy ma bel.”

Tien jaar later en Amoré druk steeds gereeld op Koelsoem se knoppie om ’n wenresep uit die Kaap met haar Tjailatyd-luisteraars op RSG te deel.

“Maar ná twee jaar van resepte gee oor die radio het daai Amoré my leeggetap, hoor. Teen 2008 het dit vir my gevoel ek het al my resepte gegee. Ek het nie meer geweet wat om te gee nie,” vertel Koelsoem.

Dis tóé dat sy haar jare lange vriendin, Flori, by die diabeteklub trompop loop en vra: “Amoré van die radio soek vir Easter ’n resep vir ingelegde vis. Jy’s mos ’n Christen. Kan jy nie vir haar ’n resep oor die radio gee nie?”

En só het Flori in 2008 vir die eerste keer met Amoré oor die draadloos gepraat en haar ingelegde-vis-resep spesiaal vir mense met suikersiekte aan die luisteraars gegee.

“Ek stoom die vis, ek bak hom nie. Oor die diabetics, sien jy? Maar sommer die volgende week het sy weer gebel en ek het vir haar verduidelik hoe om hot cross buns vir die Easter te maak. Ons is ’n groot familie, so ek ken van die spices, hoe om die deeg reg te knie en hoe om daai kruisies bo-op die buns te maak. Maar jinne, toe is die vrou darem op my case, hoor!” skerts sy.

“Hallo, is dit Amoré?” Gadija rol die deeg van die roti’s uit. Haar ma en Flori se kookboek, Kook saam Kaaps, staan op die toonbank. Die boek is ’n versameling van Flori en Koelsoem se gunsteling-resepte wat hulle oor die jare oor die radio gedeel het. Foto: Lulama Zenzile

Koelsoem en Flori kyk na mekaar en raak aan die lag vir dié radiovriendin van hulle.

“Amoré is lekker mal soms. Sy kan mos so excited raak. Sy noem die Bonteheuwel sommer die Bontas! Sy sê sommer oor die radio: ‘Ons praat weer vanmiddag met Koelsoem en Flori uit die Bontas,’ ” sê Flori.

“Maar jy weet, ek ken vir Amoré mos al voor die radio. Ek het al die jare in Seepunt by die bank gewerk. Vir 18 jaar lank. My kollega se man, Jannie Conradie, het weer saam met Amoré by die SAUK daar in die Beach Road in Sea Point gewerk. Een dag toe stap ek saam met haar om vir Jannie Conradie middagete te neem, toe ontmoet ek mos nou vir Amoré toe sy nog in die Kaap by die SABC gewerk het.

“Sy het daarna altyd so in die bank ingekom en kliphard gesê: ‘Hallo, Flori!’ Toe sy my die eerste keer jare later vir ’n resep bel, was haar woorde: ‘Flori, is dit regtig jy, Flori?’ ”

Gadija maak die oond in die kombuis oop en die reuk van gebakte deeg en klapper vul Koelsoem se voorkamer.

“Oe, en wat is dié, auntie Koelie?” vra Flori terwyl Gadija die skinkbord met die tert, tee en ’n liter Coke voor hulle neersit. Die ronde, plat tert is goudbruin en blink van die konfyt wat bo-oor gesmeer is.

“Dis my klapper-en-jam-tert. Die een helfte is klapper, die ander helfte het jamin. Ken jy hierdie pastry van my, Flori? Het ek vir jou die recipe gegee? Jy kan ver kom met hierdie pastry, hoor! Báie ver.”

Flori skep vir haar ’n snytjie van die konfythelfte van die tert. “Haai, Auntie, en wat van onse diabetics?” Gadija giggel uit die kombuis uit.

“Ag, man, éét,” maak Koelsoem vir Flori stil.

Dié twee ken mekaar al van kindsdae. Nadat hul gesinne weens die Groepsgebiedewet uit Brooklyn en Claremont na Bonteheuwel geskuif is, het hulle jare lank net ’n paar huise van mekaar in Vlamboomstraat gewoon.

“Ons was een van die eerste gesinne wat in 1963 hierheen getrek het. Ek was 10 jaar oud,” vertel Flori. “Al die huise het dieselfde gelyk. In die aand het my pa in die straat gestaan en ons name geskree, want hy kon nie onthou watse huis is ons s’n nie.”

Koelsoem, haar man en drie seuns het eers in 1979 in die eenslaapkamerhuis om die draai van Flori ingetrek, waarna Gadija in Bonteheuwel gebore is. “Ja, hulle het ons geskuif, maar die community in ons kon hulle nie breek nie,” meen Flori.

“Ons bruin mense is mos maar community-mense. Sit ons op ’n ander plek en ons is almal dadelik in die straat en in mekaar se huise in. En as iemand van die ou Brooklyn dood is, dan het die ou community weer lekker saam by die begrafnis paartiegehou.”

Op óns jare: Flori kyk deur hul kookboek, terwyl Koelsoem haar hande vryf van opwinding. “Kan jy glo dat ons hierdie kookboek op óns ouderdom gemaak het?” vra Flori.

Alhoewel hulle mekaar van sien en groet in die straat geken het, was dit eers jare later by die plaaslike diabeteklub waar Koelsoem en Flori se vriendskap verdiep het.

“Die mense van Lapa-uitgewers het ons mos Jo’burg toe gevlieg, nè, auntie Koelie?” Flori lag stout.

“Ons was mos in daai Kwêla-program gewees. Toe sê ek vir die Paul-mannetjie wat vir ons die tickets na die Jo’burg gekoop: ‘Weet jy dan nou ons twee is gestremd?’ Hy sê toe: ‘Júlle twee gestremd? Maar julle bekke is dan so slim!’ ”

Flori en Koelsoem is dia­bete. Flori se linkerbeen is vyf jaar gelede onder haar knie afgesit, en sy het verlede jaar haar linkerhand se middelvinger verloor.

Koelsoem het onlangs geval en haar heup seergemaak en loop nou soms met behulp van krukke. “Het jy al Flori se karretjie gesien?” vra Koelsoem. “Oe jinne, sy ry orals heen met daai karretjie. Dis soos daai karretjies wat hulle vir die ou mense in die malls in Engeland gee. Sy ry van haar huis tot hier by my met daai dingetjie.”

“Ja,” voeg Flori by, “ek charge­ hom by die huis in die aande en dan ry ek deur die dag met hom die Bonteheuwel plat. Ek ry nét waar ek wil. En as ek by die huis kom met my pakkies, kan die laaitiesin die straat nie wag om hulle vir my in te dra nie. Hulle kan maar tikkoppe en gangsters wees, maar daar is altyd een met genoeg respect om my pakkies in te dra.”

Want Bonteheuwel bestaan nie net uit bendes nie, is hul boodskap.

“ ’n Mens hoor amper nooit mooi dinge hier uit die Bonteheuwel kom nie, maar ons wil wys hier is ’n lekkerheid onder die mense. Jy weet, hierdie is die eerste kookboek wat uit die Bonteheuwel kom, nè?”

Sy draai weer om na die kombuis en skree: “Gadija, bring die boek hier. Dit lê daar by die ander papiere op die kassie.”

Op die omslag pronk Koelsoem en Flori spaan in die hand. Die woorde “Kook saam Kaaps” is groot in pers gedruk. Die blaaie van Koelsoem se kookboek krul al effens om, só baie is al deur hom geblaai.

“Toe die manuskrip hier by die huis aankom, het ek dit die Sondag kerk toe gevat,” vertel Flori. “Want my pastoor weet al van die begin af van hierdie planne vir die kookboek. Toe het ek voor almal in die kerk opgestaan en hy het die manuskrip geseën.”

Sy hou weer haar bors vas. “Kan jy glo wat ons op ons ouderdom nog reggekry het? Dís wat ons vir die kinders in die straat wil wys. Dit maak nie saak hoe jy begin nie, maar liewers hoe jy klaarmaak.

“Daar is so baie jong kinders in ons strate. Dink net wat kan hulle nog als regkry. Hier is so baie talent wat soms net verbygaan.”

Al is die meeste van hul kinders reeds uit hul huise, hou dié hart vir hul gemeenskap hul potte heeljaar aan die kook.

“Die laaste Sondag van die maand neem ons gesin kos vir mense in Delft wat dit nodig het,” vertel Koelsoem.

“Ek maak kos met ’n lang sous. Jy weet? Iets wat ver kan loop, soos lentil-kerrie of akni of brijani of so.

“In die fast-tyd maak ek sommer ’n 100 liter-pot sop om uit te deel. En as ons die kos gaan uitdeel, is daar nie barriers nie. Enigeen kan kom staan. As ons by die mense kom, is hulle honger. Hulle kry swaar. Maar daar is altyd ’n plesierigheid onder ons mense.”

Hiert, jou deeg! Koelsoem en haar jongste dogter, Gadija (30), slaan die deeg vir die roti’s op die toonbank in haar kombuis voordat dit oornag in die yskas rus. Gadija verkoop daagliks roti’s en kerriemaalvleis by haar werk.

Flori begin al vroeg in die jaar vir Kersfees kos bymekaarmaak.

“My Krismis begin al in June. Dan begin ek party packs vir die kinders in die straat maak. Ek koop ook emmertjies en maak kos bymekaar deur die jaar vir gesinne.

“En op Krismis maak ek ’n groot pot kos en deel dit in die straat uit. As my man se Cape­ Malay choir dieselfde dag kom sing, dan sit ek vir hulle ook ’n vrugtetafel uit.”

Want om vir mense kos voor te sit, is hul lewensvreugde.

“Ons het nie einde verlede jaar by die huis Kersfees gehou nie,” vertel Flori. “Ons het in die Kuilsrivier gaan eet. Maar dit was nie lekker nie. Ek kon sien my man het dit ook nie geniet nie.

“So vanjaar is dit weer back to basics. Al die kinders om die tafel. Dan bring ek die gammon uit. Die soutvleis, die kerrievleis, die tong, die brijani. En dan die nagereg: die pynappelpoeding, die jogurtpoeding, die boiled poeding, vrugtekoek, wat ek al aan die begin van November maak, en natuurlik die trifle, terwyl die neighbours se kinners al van vroegoggend af kom merry Christmas sê. Dís mos hoe ons in die Kaap Kersfees hou. Só met baie kos en plesierigheid.”

’n Eerste vir Bonteheuwel: Die voorblad van Flori en Koelsoem se kookboek. Foto: Verskaf

Kook saam Kaaps is teen R180 in boekwinkels te koop. Die boek kan ook direk by Lapa-uitgewers bestel word. Skakel 012 401 0700, of besoek www.­lapa.­co.­za. Die kookboek het vandeesweek die Woordtrofee vir gewildste leefstylpublikasie op die US Woordfees gewen.

* Flori en Koelsoem sal boonop binnekort die sterre van ’n splinternuwe kosprogram op VIA (DStv-kanaal 147) wees. Flori en Koelsoem se kosse begin op Woensdag 14 September om 16:00, en nuwe episodes sal daarna op Woensdae om 16:00 uitgesaai word.

Meer oor:  Kos  |  Resepte  |  Kook
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.