Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Met stroop of Sowjet-spaarsamigheid

Of jy van soetgoed hou of nie, daar is ’n appeltert of -koek vir jou, skryf Errieda du Toit.

Appels is gewoonlik die deugdelike dienskneg van die soettafel: onskuldige gebakte appeltjies met ’n rosyntjievulsel, appelfrummel met vla of appeltert (darem met ’n skep room vir ’n bietjie weelde) of die suur noot in vrugteslaai. Dit sal jou selde in die nag blosend laat opstaan vir ’n skelm skeppie.

Maar gee ’n appeltert of -koek iets stroperig, ’n mooi naam en ’n lekker storie, en jy’t ’n soet ding van ’n ander kaliber.

Die lui-huisvrou-appeltert, ook bekend as warm appeltert of karamel-appeltert, val in hierdie kategorie. Sedert dit in die tagtigerjare op die kostoneel gekom het, verskyn dit bykans in elke gemeenskapsboekie ingesamelde resepte wat ek deurgegaan het vir my nuwe boek, Saam. Die maklike appeltert was so gewild dat drie resepte destyds hiervoor in Keurig en geurig van die Sustersvereniging, gemeente Pretoria-Oos, opgeneem is.

Sharlotka het haar lewe in die 19de eeu begin as Charlotte Russe, ’n elegante poedingskepping van die supersjef Marie-Antoine (Antonin) Carême. Gedurende die Sowjet-era met sy skaarshede het sy van haar troon getuimel.

My ma het haar warm appeltert in ’n Pyrex-bak gemaak, maar die mooi handgemaakte keramiekbak van Three Potters and a Painter op my rak inspireer my om iets sondigs vir teetyd of die poedingtafel te maak, gegeur met kardemom, koningin van speserye.

As jy meer wil doen as ’n blik appels oopsny, en eerder vars appels wil inspan saam met iets stroperig, beveel ek die omgekeerde appel-en-toffiestroop-minikoeke aan.

Dit val weer in die genre van onderstebo-koeke, wat beroemd gemaak is deur die variasie wat gespog het met ingelegde pynappelringe en glanskersies in die holtes.

Dalk het die sjiek status iets te doen gehad daarmee dat alle vrugte uit ’n blik as die toppunt van sofistikasie gesien is. Dalk was dit die oomblik van opwinding vir die huisvrou wat nie seker was of die mooi vrugtepatroon en toffiestroop in die pan gaan agterbly of mooi gaan uitgly wanneer sy die koekpan omkeer nie.

Vir ’n moderner, smaakvoller (appel en karamel!), minder stresvolle weergawe gee ek ’n resep vir mini-appelkoekies in toffiesous wat jy sommer in rame­kins bak, maklik om uit te keer.

Vir diegene wat nie erg het aan stroperigheid nie, maar te vinde is vir ’n storie, is sharlotka die soetding vir jou. Die sharlotka is ’n “almal-in-Rusland-se-oumas-maak-dit-appelkoek”, ’n eenvoudige skepping van snytjies vars appel wat gebak word met ’n spesery-gegeurde sponskoekbeslag bo-oor.

Sharlotka het haar lewe in die 19de eeu begin as Charlotte Russe, ’n elegante poedingskepping van die supersjef Marie-Antoine (Antonin) Carême. Gedurende die Sowjet-era met sy skaarshede het sy van haar troon getuimel. Radelose Russiese huisvroue wat ure in kostoue moes deurbring vir selfs die karigste items het ’n raap-en-skraap-weergawe daarvan gemaak. So geliefd was die appelkoek dat dit die troetelnaam ‘sharlotka’ gekry het.

  • Errieda du Toit is die inhoudsvervaardiger van die Kokkedoor-reekse op kykNET. Haar tiende kookboek, Saam, verskyn later vanjaar. Besoek haar blog by Huiskok.com.
Meer oor:  Errieda Du Toit  |  Resepte  |  Kos En Wyn  |  Appels  |  Kosmaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.