Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Moderne en billike restaurant ware vonds

Daar is min dinge wat vir my so lekker is as om ’n nuwe restaurant te ontdek waarnatoe ek my vriende (en lesers) met ’n geruste hart kan stuur. Ons was hierdie week by die splinternuwe eetplek Gratitude in die Flamingo-sentrum in Modderfontein – en ’n vonds is dit voorwaar.

Dis die eerste keer dat die twee eienaars, Nomzoli en Vusi Cwane, hul hand aan ’n restaurant waag, hoewel hulle hope ondervinding in die franchisebedryf het.

Die steurgarnale met ’n bottersousie was voortreflik.

Omdat hierdie ’n hartsprojek is, is hulle meestal self in die restaurant te sien, en hulle kom maak gereeld seker gaste is tevrede.

Die restaurant is modern en oop en die stoepgedeelte buite is die ideale kuierplek vir ’n someraand of -middag. Bedags het ’n mens ’n mooi uitsig op die meer oorkant die sentrum.

Maar dis eintlik die kos waarvoor ’n mens Gratitude moet besoek.

Die spyskaart bied ’n goeie verskeidenheid steaks, seekos, soesji en hoender, en daar is ook ’n bladsy vol skemerkelkies om van te kies.

Vir voorgereg het ek die varkpens gekies, en omdat dit ryk is, is die porsie net groot genoeg sodat dit nie ’n mens se eetlus bederf nie. My man het vars oesters geëet en hy was tevrede. Dis egter ons hoofgeregte wat ons veral beïndruk het.

Hy het ’n riboog-steak gekies. Dis aan die been bedien en absoluut perfek medium-rou gaargemaak.

My keuse was agt koningin-steurgarnale en net hiervoor sal ek beslis weer die heelpad Modderfontein toe ry. Dit is bedien met ’n bottersousie wat ’n baie subtiele gemmergeur gehad het, gemeng met knoffel. Ek het geelrys daarby bestel en dit was ’n heerlike keuse.

Die pryse by Gratitude is baie billik en ’n mens voel jy kry waarde vir geld.

Hulle bied Dinsdag ’n spesiale Erfenisdag-program en -spyskaart aan waar daar die hele dag vermaak ook is.

Besoek hul Facebook-blad by Gratitude Celebration.

Meer oor:  Gratitude  |  Modderfontein  |  Kos En Wyn  |  Restaurante  |  Restaurantbesoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.