Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
‘Mooi kos eet lekkerder!’

Christo Botes, president van die Oostelike Provinsie Orgidee-vereniging (Eastern Province Orchid Society, EPOS), en Shaun Halvey, sy lewensmaat van die afgelope 28 jaar, woon op ’n pragtige kleinhoewe aan die buitewyke van Port Elizabeth.

Hulle het twee hondekinders, Bella die boerboel en Zack, ’n golden retriever, wat ook die stoutste van die twee is.

Volgens Christo is dié knaap se gunsteling-tydverdryf om bromelias uit die tuin te trek.

Om dít te kan vergewe beteken dat Zack wel baie geliefd moet wees, want Christo is versot op mooi plante en ook nie verniet al jare betrokke by EPOS nie.

Christo verduidelik hoe om ’n orgidee oor te plant by die orgideëskou wat verlede jaar in Port Elizabeth aangebied is. Foto: Willemien Green

Hy kweek en versamel ook sy eie orgideë en wanneer dit blomtyd is, lyk sy tuin soos ’n paradys.

In 2018 het hy gekwalifiseer as ’n Suid-Afrikaanse orgidee-beoordelaar en boonop is hy ook ’n gekwalifiseerde Interflora-kunstenaar.

Maar ’n mens moet ook jou daaglikse brood verdien, wat deesdae nogal ’n uitdaging is, veral as jy in die kosbedryf werk.

“Ek is die kos- en drankbestuurder by die Wedgewood-golf-landgoed en is mede-eienaar van The Estate Deo Volente wat ek saam met Shaun bedryf,” sê Christo.

“Ons bied gewoonlik troues en funksies daar aan, maar nou is ons besig met restourasiewerk aan die plek.

“Ons vervang onder andere die rietdak met ’n sinkdak, maar dit word alles so stuk-stuk gedoen wanneer ons tyd kry tussen die dag se werkery.

“Nadat ek my formele opleiding in kostegnologie aan die Kaapse Technikon voltooi het, kon ek nie in dié rigting werk kry nie en het toe maar by ’n bank gaan werk en saans ook vir sewe jaar aërobiese klasse aangebied, al lyk dit nou miskien nie so nie,” sê hy laggend.

Vir 26 jaar het Christo ook die vroue in die Baai in die mooiste tabberds geklee.

“Ek het geen formele opleiding in klereontwerp of die maak daarvan ontvang nie en het rokke vir spesiale geleenthede en trourokke gemaak,” sê hy.

As gevolg van die Covid-19-pandemie wat vanjaar alles wat normaal is omverwerp, kon die jaarlikse orgidee-skou ook nie aangebied word.

“Ek het toe maar ’n aanlynskou saamgestel,” verduidelik Christo.

In Phuket word verwelkomingsdrankies met orgidee versier.

“Al die EPOS-lede is gevra om foto’s van hulle orgideë in blom aan te stuur. Ek het die foto’s uitgesorteer en volgens spesie bymekaar gegroepeer. Die uiteinde was werklik iets besonders en die terugvoer geweldig positief.”

Oor restaurante en kosmaak“Ons het nie juis voor die inperking gaan uiteet nie, ek dink juis omdat ons albei ook sjefs is, weet ons wat dit kos om sekere disse te maak,” vertel Christo.

“Dit is dan net soveel moeiliker om dikwels meer as drie maal soveel daarvoor in ’n restaurant te betaal as ons dit net so lekker tuis kan maak.

“In plaas daarvan om te gaan uiteet, sal ek eerder geld op ’n goeie biefstuk uitgee en dit by die huis voorberei. Dan kan ’n mens ook heerlik kuier met ’n lekker bottel wyn sonder om ’n gevaar op die pad te wees.

“Ons hou ook daarvan om varkribbetjies of ’n lekker bord vol verskillende seekosse te maak.

“Shaun is lief vir pasta en het ’n vreeslike soettand!”

Hoe raak die inperkingsregulasies julle eetgewoontes? “Veral aan die begin van die inperking was dit baie moeilik om ‘normaal’ te kook omdat ons skielik elk sent moes omdraai, want die toekoms was en is natuurlik steeds baie onvoorspelbaar,” sê Christo.

“Soveel mense het net die helfte van hulle salaris ontvang terwyl ander hulle werk verloor het. Met genade kon ons tot dusver oorleef.

“Ons neem albei daagliks kroniese medikasie en drink nou ook ekstra vitamine C, D en ’n kombinasie van B12 en magnesium om ons gestelle op te bou.

Ek is nie vol fiemies as dit by kos kom nie en al wat ek nie eet nie, is lewer en dis iets wat nou regtig raar is.

“Ek was nog altyd baie lief vir kosmaak en hou veral daarvan om met verskillende disse te eksperimenteer.

“In my bedryf moet ek dikwels vir baie mense op ’n slag kos voorberei, maar dis baie lekkerder om eerder iets spesiaal vir ’n klein groepie goeie vriende te maak.

“Ek het net voor die inperking ’n paar vriende onthaal met gerookte varknek met ’n appel-en-vyesous. Daarby het ek kapokaartappels en oondgeroosterde groente bedien, dit was regtig heerlik – en voel nou so lank gelede!

“My ouma, aan my ma se kant, was ’n bobaas-bakster en kon ook baie lekker kos maak. Dit is by haar wat ek van kindsbeen af leer kook en bak het.

“Fyn afrondingswerk vir disse om gebak is ook een van my voorkeure in die kombuis. Kos proe net soveel lekkerder as dit ook mooi lyk.

“Terwyl ons met vakansie in Phuket was, was die verwelkomingsdrankies by die hotelle altyd ook mooi versier, nogal met orgideë.

“Ek is nie vol fiemies as dit by kos kom nie en al wat ek nie eet nie, is lewer en dis iets wat nou regtig raar is.”

Omdat Christo ook naweke werk, is daar nie juis tyd om voor die kospotte deur te bring nie.

“Shaun maak dan seker dat ons nie van die honger vergaan nie,” sê Christo.

“As ek nie te laat by die huis kom nie, hou ons egter daarvan om saam te kook en ’n glasie wyn te geniet terwyl ons oor die dag se gebeure besin.

“Iets soos sappige frikkadelle of ’n geurige quiche is maklik om aanmekaar te slaan en boonop heerlik saam met ’n vars slaai of aartappelskyfies,” sê Christo.

Christo se botterskorsie en fetakaas-quiche:

Sappige frikkadelle is maklik om aanmekaar te slaan.

Genoeg vir ses mense

Bestanddele:

  • 1 rol blaardeeg (Today’s werk goed)
  • 1 mediumgrootte botterskorsie (geskil en opgesny in blokkies van 2 cm elk)
  • ¾ koppie gekrummelde fetakaas
  • 250 g sampioene (opgesny)
  • sout en peper na smaak
  • 1½ koppie gerasperde kaas
  • 1 prei fyn opgesny (opsioneel)
  • 1 opgehoopte teelepel fyngekapte knoffel (opsioneel)
  • 1½ koppie melk
  • 4 groot eiers
  • 3 snytjies witbrood
  • ½ teelepel bakpoeier

Metode:

Voorverhit die oond tot 180 °C.

1. Bespuit ’n oondvaste bak met Spray and Cook.

2. Rol die deeg uit en plaas onder in die bak en bedek ook die kante daarmee.

3. Kook die botterskorsie tot sag, haal uit die pot en dreineer.

4. Braai die prei en sampioene saam met die knoffel in botter tot sag.

5. Voeg botterskorsie by en geur met groentegeursel.

6. In ’n aparte bak, week die brood in die melk.

7. Klits die eiers en bakpoeier saam en meng goed deur saam met die brood.

8. Meng die botterskorsie, sampioen, en preie, asook feta en cheddarkaas saam met die melkmengsel goed saam.

9. Voeg sout en peper na smaak by.

10. Gooi die mengsel oor die deeg in die gesmeerde oondvaste skottel. Sny die oortollige deeg aan die kante af en bak vir 40 min of tot gaar.

Wenk: Geniet saam met aartappelskyfies of slaai.

Meer oor:  Port Elizabeth  |  Resep  |  Quiche
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.