Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
My ginne, die ‘medisyne’ ontpop toe in ’n klassieke jenewer!

Navorsing vir medisinale doeleindes met Karoobossies en kruie in haar agterplaas, het vir ’n apteker van Pretoria, Louise van der Walt, uitgeloop op die vervaardiging van ’n top-jenewer.

Die jenewer, Great Karoo Spirit se Bossieveld Inspiration Craft Gin, is op 2019 se Michel­angelo- internasionale wyn-en-spiritualieëkompetisie bekroon met ’n dubbelgoud-medalje. Altesaam 124 jenewers is inge-skryf – byna dubbel soveel as in 2018.

Louise van der Walt het haar kennis van aptekerswese gebruik om ’n jenewer te maak met die smake van Karoobossies.Foto’s: VERSKAF

Vir mediese doeleindes

Omdat aptekerswese haar passie is, het Louise, mede-eienaar van Great Karoo Spirit, sowat ses jaar gelede op die familieplaas Vaaljasfontein in die Venterstad-distrik in die Oos-Kaap begin om navorsing te doen oor die medisinale eienskappe van Karoobossies en kruie wat sy geplant het.

“ ’n Mens kan maar sê bossies is in my bloed. As kind het ek selfs ’n ‘laboratorium’ in my slaapkamer gehad!” sê sy.

Gewapen met haar kennis van aptekerswese, ’n diepliggende liefde vir die Karoo en emmersvol toewyding, het sy bossie ná bossie en krui op krui gepluk, gekneus, gekook, gedistilleer, gemeng, getoets en ontleed.

“Ek het alles van smeermiddels tot tee en homeopatiese druppels gemaak. Toe, op ’n dag, het ek sommer vir die pret graangebaseerde vodka met ’n ekstrak van aromatiese bossies gemeng en dit vir my vriende aangebied. Dit was met die intrapslag ’n wenner.”

Dit was toe dat ’n vriend, Ian Goss-Ross, vandag uitvoerende hoof van Great Karoo Spirit, haar omgepraat het om haar jenewer te verfyn en saam met hom in grootmaat te produseer. Louise het ’n kursus in distillering gevolg en siedaar, Bossieveld Inspiration Craft-jenewer was die uitvloeisel.

Die Bossieveld-jenewer is ’n “botaniese kaleidoskoop van klassieke, komplekse en kosmiese aromas en smake”.

’n Ware suksesresep

Ian wys daarop dat alle “rasegte” jenewers neutrale vodka, jenewerbessies, en ’n verskeidenheid van speserye en kruie bevat. “Ons geheim is Louise se intieme kennis van die aromatiese Karoobossies. Dit het gelei tot ’n botaniese kaleidoskoop van klassieke, komplekse en kosmiese aromas en smake.”

Great Karoo Spirit se produkte word by De Vry Distillery in Oranjeville in die Vrystaat gedistilleer en gebottel. De Vry se eienaar, die bobaas-kok Pasch du Plooy, was betrokke by die ontwikkeling van die Inspiration-resep, met Ian wat aan die spits staan van die bemarking, verspreiding en verkope. Bossieveld Craft-jenewer is beskikbaar in 750 ml- en 500 ml-grootte, asook ’n parmantige 50 ml-buksie.

“Bossieveld het met die Michelangelo-toekenning gewys dat ons kan meeding met die beste jenewers in die land,” sê Ian. “Hulle sê suksesstories het gewoonlik ’n beskeie begin, wat beslis die geval is met Bossieveld-jenewer.”

Ian verduidelik dat die Suid-Afrikaanse mark nogal ’n sterk invloed het op die “craft gin”-vervaardigers. “Verbruikers is deesdae meer bewus van ’n goeie jenewer se eienskappe. ’n Goeie jenewer het verskillende komponente met sterk jenewerbessie. Saam met die ander speserye en kruie, toon dit ’n komplekse, maar goed gebalanseerde aroma en geurprofiel. As ’n jenewer kleur het en nie helder soos byvoorbeeld London Dry is nie, moet dit ’n natuurlike kleur van een of meer van die botaniese komponente wees. Daar is te veel jenewers op die mark wat doodeenvoudig kunsmatige geure en kleurbyvoegings bevat.”

Plante is haar passie

Wanneer sy oor haar “bossie-vriende” praat, word Louise skoon meegevoer. “Die Karooplante se name is net so oulik as wat hul chemie ingewikkeld is. Meidtjie-willemse. Sewedae-geneesbossie. Ghoenoe. Volstruistone. Eendpootbossie. Hoenderkloek. Akkedisstert. Dawidjies-wortel. Ouma-se-kappie. Gansmis.

“Ek sien kaatjie-drieblaar selde, maar is altyd op die uitkyk vir haar. Dit is hierdie vriendinne van my wie se parfuum my daagliks laat nader staan. Toe ek ’n Boesman-grouklip die eerste keer ontdek, was dit onder ’n kaatjie-drieblaar. Daardie onthou is onlosmaaklik met die plantjie se geur verbind.

“Goedkaroo is die sout van die aarde, die staatmaker van die bossieveld. Hy is ’n hardwerkende bossie met vrolike geel knopies. Hy sukkel deur die droogte, maar kom altyd heelhuids anderkant uit en help die veld met sy uitgebreide ankertjies om teen erosie vas te skop.”

Planne vir die toekoms is om nuwe geure te ontwikkel en “maatjies” vir die jenewer te skep, soos aperitief met ’n rum-basis. Daar is ook ander moontlikhede wat nog nie behoorlik ontgin is nie, soos om seep of kaasprodukte met karoobossies te geur.

Hoewel sommige ander jenewers ook met karoobossies gedokter word, is die bossies wat vir Bossieveld Inspiration gebruik word, volgens Louise uniek.

En watter bossies sou dit wees? “Daardie aap gaan ek nie uit die mou laat nie,” lag sy. “Selfs al weet jy watter bossies die wonderlike eienskappe aan ons jenewer gee, is die proses en samestelling daarvan ’n lang ontwikkelingsproses.”

  • Bossieveld Gin is beskikbaar om te proe en koop by Cape Craft Spirits (36 Seycamore Crescent, Atlas Park, Durbanville) of besoek www.greatkaroospirit.com/order-online om aanlyn te bestel.
Meer oor:  Pretoria  |  Kruie  |  Navorsing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.