Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
My reis sonder vleis

Ek voel stukke beter, en is gelukkig. Is dit nie al wat tel nie?

As jy 20 jaar terug woorde soos plant-gebaseerde eetprogram of plantaardige kosse gebruik het, sou die meeste mense jou met ’n “huh?” skeef aangekyk het. Dié terme het toe nog nie regtig bestaan nie en daar was ook nog nie Netflix nie.

Ek trek my vleistande

Op 26 Desember 2019, ná ’n moewiese karnivoor-Kersete, het ek my vleistande getrek. Jip, ek het tot nou toe nie ’n skaaptjoppie, ’n stukkie steak of enige seekos oor my lippe gehad nie. O hel, hoe mis ek nie ’n knoffel-suurlemoen-garnaal of diepgebraaide calamari-tentakels nie? “Vir wat laat jy jouself so suffer?” sou Tannie Stienie gevra het.

Ek het geen etiese of gesondheidsredes nie, maar soos baie mense wêreldwyd het ek die program The Game Changers op Netflix gekyk, en die volgende oggend opgestaan en vir my Ier gesê: “Jy moet sterk wees, want van vandag af eet ek nie meer vleis nie.” Hy het my natuurlik skepties en geamuseerd aangekyk: “Huh? Ja, wel, ons sal sien!”

Die dokumentêr The Game Changers wys hoe wêreldklas-atlete floreer op ’n veganistiese dieet. Dit is beskikbaar op Netflix.
‘The Game Changers’

The Game Changers is ’n dokumentêre rolprent oor die voordele van plantgebaseerde eetgewoontes vir atlete. In die fliek vertel James Wilks, ’n voormalige MMA- (Mixed Martial Arts) vegter, van sy persoonlike reis van ’n dieet met baie diereprodukte tot ’n plantaardige eetprogram.

Dit vertel suksesverhale van wêreldklas- atlete wat net plantaardige kos eet en verwys na wetenskaplike studies. Atlete waarmee hy onderhoude gevoer het sluit in Arnold Schwarzenegger en Dotsie Bausch (Olimpiese silwermedalje-wenner vir fietsry). Novak Djokovic is een van die uitvoerende vervaardigers van die reeks en het al vertel hy eet hoofsaaklik plantkos, met hier en daar ’n bietjie vis. Hy glo dis waarom hy so gou kan herstel tussen wedstryde.

Maar daar is baie mense wat die dokkie uitmekaar trek. Wilks bou sy hele konsep op ’n “studie” waarop hy afgekom het waarin gesinspeel word dat Romeinse gladiators nie vleis geëet het nie (ek glo hom natuurlik 100%). Men’s Health meen dit is nie ’n studie nie en dat dit net ’n kort, amusante anekdote van Andrew Curry is, wat hy vir die Argeologiese Instituut van Amerika geskryf het. Ek seg maar net voordat die banters my takel.

Hoe voel ek?

Februarie se skrikkeljaar kom nader en ek kan nie aan julle beskryf hoe goed ek voel nie. Ek het meer energie, ek voel positief, ek voel ligter (ek het my skaal weggegooi), my angsvlakke het gedaal en die swart hond wat partykeer op my skouer blaf, slaap nou meer. Ek weet nie hoekom nie, soos my Ier en my sielkundige sê: It is what it is.

Ek vind dit baie makliker as wat ek gedink het, maar moes een groot kopskuif maak: om vleis nie meer as die “hoofgereg” te sien nie, maar om groente, graan- en peulsoorte as die “hoofgereg” te ag. Ek eet baie eiervrug en preie as hoofgereg. Sny die eiervrug in dun skywe, strooi bietjie sout en komyn oor en rol liggies in meel. Braai aan albei kante tot bruin en gaar. Bedien met gekapte pietersielie. Die preie stowe ek in botter, bietjie water, ’n knippie droë dragon en een teelepel asyn tot amper gaar.

Die ander groot voordeel is dat my kosbegroting met omtrent die helfte verminder is. Rick koop nou sy eie vleis, wat ek steeds vir hom gaarmaak, maar vir die eerste keer besef hy hoe duur dit is! Kry vir jou, liefie.

Beplanning en inkopies

Beplanning is die groot geheim as dit by ’n plantaardige eetplan kom. Jy kan nie vinnig ’n tjoppie of stukkie hoender uit die vrieskas haal en gaarmaak nie.

Ek maak op ’n Saterdag seker ek het alles op my inkopielys in die huis, en Sondae week en kook ek lensies, boontjies en koring en bevries dit in halfkoppies in die vrieskas.

Ek eet baie van my groente rou (ek hou daarvan) en dan maak ek heerlike eenvoudige etes met seisoensgroente.

Vars kruie soos pietersielie, koljander en kruisement en speserye soos komyn, koljander en kerriepoeier kikker die etes op. Ongegeurde jogurt gemeng met bietjie kruisement is die kersie op my plantaardige bord.

My standaard-inkopielys

Groente (seisoenaal): Avokado’s, komkommer, wortels, spinasie, soetrissies, slaaiblare, olywe, tamaties, beet, aartappels en uie.

Vars kruie: Pietersielie, basiliekruid en koljander.

  • Appels, pere, perskes.

Proteïen: Lensies, boontjies en koring. Ek het tofu gekoop, maar moet daardie bergie nog klim.

Suiwel: Maaskaas, eiers, fetakaas en gewone jogurt.

Koolhidrate: Ek maak my eie platbrood (x 3) per week, aartappels en bevrore snye volgraanbrood

Neute en sade: Ek het pakkies pampoenpitte, lynsaad en chia-saad op my rak en gooi daagliks ’n teelepel van elk oor my kos (as ek onthou).

Speserye: Kerriepoeier, komyn en koljander.

Ander: Olyfolie, mayonnaise, asyn, agurkies, suurlemoensap en olywe.

Waarmee ek sukkel

Uiteet. O genade ek sukkel met uiteet – restaurante het maar baie min opsies vir ’n maagd-groentebek soos ek.

En dan het my mond gister gewater toe my vriendin Errieda die verleidelikste lamsboud op die tafel sit.

Dit het elke greintjie wilskrag gevat om nie een van daardie vetterige stukkies in my kieste te druk nie.

Ek is nie ’n dokter nie, ek is nie ’n aansitterige of verbeeldingryke mens nie, maar ek voel stukke beter en dit maak my gelukkig. En is dit nie al wat tel nie?

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@gmail.com

Kerrie-lensiekoekies

(Resep Anél Potgieter)

Kerrie-lensiekoekies. Foto’s: Anél Potgieter

Maak sowat 8

1 k lensies (gekook – nie te pap nie, maar al dente)

1/2 koppie ui, gekap

1 rissie, fyngesny (opsioneel)

7,5 ml sterk kerriepoeier

1/4 k vars koljander, gekap

1/2 k meel (as jy glutenvry verkies, gebruik kekerertjiemeel)

45 ml water

groot knippie sout

olie vir panbraai

Jogurt met kruisement (meng alles saam)

1 k dubbeldik jogurt

handvol gekapte kruisement

15 ml suurlemoensap

groot knippie sout

Meng al die bestanddele saam. Vorm 8 ronde koekies. Braai in ’n pan oor medium hitte aan albei kante tot bruin en gaar – so 2-3 minute per kant. Bedien saam met kruisementjogurt en suurlemoenwiggies.

Pangestowe preie ?in botter, met dragon en ’n tikseltjie asyn.
Pangebraaide eiervrug, met komyn en pietersielie.

Meer oor:  Kos  |  Resepte  |  Kostelik  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.