Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Blikkie wyn vir gerief, lekkerte

Nuwe wyntendense neem jaarliks die bedryf oor, maar dikwels is dit ook van korte duur. Dit lyk egter of wyn in blikkies hier is om te bly.

Elke nou en dan stel nóg ’n kelder hul blikkieswyn bekend en dit wissel van witwyne tot rooiwyn en rosé, vonkelwyne en selfs die sonder alkohol.

Die hoofdoel van blikkieswyn is gerief: dit is lig en kan met gemak in ’n rugsak of tas vervoer word, dit neem minder spasie op en as jy klaar is daarmee kan dit platgetrap word. Dit is ook ideaal as jy slegs een of twee glase wil geniet en nie ’n hele bottel wil oopmaak nie.

Met die bekendstelling van dié produk was daar geweldige reaksie onder lesers wat gewissel het van “proe dit nie na blik nie?”, tot “die kwaliteit moet swak wees” en “die prys is te duur teenoor bv. bier”.

Om jou te help om meer van die produk te verstaan, is hier ’n paar feite daaroor.

As jy nog nie blikkieswyn probeer het nie, móét dit op jou lys van feestyd-lekkernye wees. Nie net vir die gerief nie, maar ook die kwaliteit. Foto: iSTOCK

Mites oor blikkieswyn:

1. Dit proe na blik: Dit is geensins die geval nie. Die wyn in die blik is dikwels presies dieselfde wyn wat jy in ’n bottel by die kelder koop. Die blik affekteer nie die smaak nie (dink bv. aan blikkies koeldrank en bier).

2. Dit is lae kwaliteit wyne: Meeste kelders sit juis hul premiumwyne in blikkies vir mense wat steeds die beste gehalte saam met gerieflikheid wil geniet. Daar is kelders wat ook die wyne wat reeds gereed is vir bottelering in blikkies plaas – dus dieselfde produk wat jy in die bottel sou kry.

3. Dit is soos om blikkies bier te drink: Die alkoholinhoud van ’n blikkie wyn is aansienlik hoër as die van ’n blikkie bier. Jy kan dus nie redeneer dat jy dieselfde hoeveelheid wynblikkies as bierblikkies kan drink nie. Juis daarom kan die twee ook nie ten opsigte van prys met mekaar vergelyk word nie.

4. Dit kan nes wyn vir jare op die regte manier gestoor word: Wyn en blik is nie dieselfde nie en die wyn kan dus nie so lank gestoor word as wat jy ’n bottel wyn sou stoor nie. Elke blikkie sal sy eie vervaldatum op hê, maar meeste hou sowat 12 maande.

5. Blikkieswyn is baie duurder: ’n Prys van tussen R30 en R40 per blikkie kán jou beslis afskrik van die produk, maar kyk eers na die hoeveelheid voor jy “nee” sê. As die blikkie 250 ml wyn bevat, is drie daarvan ’n bottel. As die blikkie R30 kos, is dit dus dieselfde as ’n bottel wyn wat R90 kos.

6. Blikkies is slegs vir reis: Jy sal nie sommer blikkieswyn uithaal as jy gaste onthaal vir ’n aandete nie (want daar dien ’n bottel wyn sy doel), maar dis beslis nie net vir avontuur en reis nie. Dit is ook ideaal vir partytjies om die swembad om glasstukke in die water te vermy, heerlik vir as jy iemand is wat nie ’n hele bottel kan opdrink in ’n week nie, én vir as jy bv. aan die in- of uitpak is en nie ’n idee het waar jou glase is nie.

Geborg

Kleijne Wijn  Gezelschap
Mooi genoeg vir ’n troue, ontspanne genoeg vir ’n braai. Die soeke na gerieflikheid en bekombaarheid het geweldig gegroei tydens die inperking en hul aanlyn platform maak dit moontlik om winkelrye te vermy en jou pakkie sommer by jou vakansiebestemming te laat aflewer. Twee nuwe “kombuis”-produkte en ’n beperkte hoeveelheid pinot noir rosé word binnekort uitgereik en sal aanlyn beskikbaar wees.
Tans bied hulle vier gesertifiseerde wyne in ’n blikkie: ’n vonkel pinot noir rosé, ’n merlot en ’n sauvignon blanc, waarvan laasgenoemde vir Desember op promosie sal wees vir die warmer dae.

  • Die blikkies is teen R32,99 elk beskikbaar  op www.winecan.co.za, en by De Jonker Tops Stellenbosch, The Boer and Butcher in Stellenbosch en Durbanville, asook De Warenmarkt, Millhouse Coffee House, Deluxe Coffeeworks, De Akker en Balboa Balcony Bar (almal in Stellenbosch).

Lubanzi Wines

As die breinkind van twee jong reisigers op soek na avontuur en ’n geleentheid om ’n verskil te maak in die wêreld, is Lubanzi Wines ’n volhoubare wynmaatskappy.
Dit is ’n gesamentlike onderneming wat die storie van ’n gemeenskap vertel, ’n vennootskap, én van paaie wat selde verken word.
Lubanzi is Certified B Corp, Fair Trade, Carbon Neutral, en het korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid.
As een van die pioniers in die blikkieswyn-mark, maak Lubanzi wyne in die Swartland vol avontuur en volhoubaarheid, wat altyd van belang is. 

  • Lubanzi produseer ’n rooiversnit en ’n chenin blanc. Dit kos R35 per blikkie en is by Pick n Pay beskikbaar. Vir bestellings en navrae kan jy ’n e-pos na wbrown@capeventurewine.com stuur.


CanCan
Die CanCan-reeks van geblikte wyne is reeds ’n vertroude gesig. Met hul reeks van vier wyne, (La Goulue Chenin Blanc, Satine Mourvedre Rosé, Valentin le De´sosse´ Grenache en La Mélinite-vonkelwyn) bring Renegade Wines, wat CanCan vervaardig, iets vir elkeen.
Die bekroonde ontwerp van die blikkies bring hulde aan dansers van die Franse kabaret-dans uit die laat 19de eeu. So kry elke wyn sy eie identiteit. Die filosofie agter die handelsmerk is vryheid van uiting en uitbundige vertoon.
Vanweë die formaat van die blikkies kan hulle deel wees van ’n aktiewe lewenswyse. Vat hulle saam na die volgende stap in die berg, ’n piekniek of geniet hulle gerieflik by die huis – langs die braai of swembad.

  • CanCan-wyn is beskikbaar by uitgesoekte handelaars of aanlyn by www.cancan.wine en pryse wissel van R25-R35 per 250 ml-blikkie.

Probeer gerus dié blikkie

Een van my gunsteling-blikkieswyne is deesdae Spier se reeks: ’n rosé, ’n sauvignon blanc en ’n merlot.

Hierdie drie is presies wat jy van ’n Spier-wyn sal verwag, want daar is vrug, goeie suur en al die wyn-aromas wat uniek is aan die drie druifsoorte.

Ek pak hulle beslis in vir my eerste uitstappie hierdie Desembervakansie. Dit kos R35 per blikkie, maar in die proelokaal kan jy ’n pak van drie vir R99 koop.

Meer oor:  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.