Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
KOSTELIK
’n Boud vir Babs: Ma se gunstelinge vir Moedersdag

Mense, ons Potgieter-tafel gaan vandag kreun onder die lekker boere­kos: Ma Babs se kos. Die béste – resepte wat oor dekades tot die laaste gram vervolmaak is.

Wat ’n wonderlike voorreg dat sy weer vanjaar aan ons Moedersdagtafel gaan sit. Sy is gespaar, sy is gesond, sy geniet weer haar kos. So, ek kook vandag gróót – al Babs se gunstelinge.

Geen voorgereg

Ons het nie grootgeword met ’n voorgereg op die tafel nie en tot vandag toe val ons familie net weg met die hoofgereg. Voorgereg is in my jong dae in die Vrystaat net by grênd etes bedien en dan was dit gewoonlik ’n kreefkelkie.

Onthou, ons daar in die dorre vlaktes het nie kreef geken of gesien nie. Ons kreefkelkie was ’n kamma-kreefkelkie – gemaak met stokvis, tamatiesous en mayonnaise! Ja-toe, ek is seker van julle kan dit onthou? Moet julle nou nie grênd hou nie. Maar vir my was daardie kamma-storie die lekkerste kreef in die hele wye wêreld.

My hart is bly dat Ma Babs vanjaar gesond genoeg is om weer aan die Potgieter-tafel te sit vir ’n Moedersdag-feesmaal. Foto: Anél Potgieter

Lamsboud met rys en Bisto-sous

Lamsboud met rys en Bisto-sous is so diep in my DNS-kosbloed verweef dat ek my nie iets lekkerder kan voorstel nie. Deesdae dink mense Bisto is “kommin” en ongesond, maar vir my is dit steeds die lekkerste sous saam met lamsboud.

Ek gebruik Bisto ook wanneer ek weeksaande boerewors in ’n pan braai – ai, daardie dik bruin Bisto-sousie saam met ’n snytjie gebotterde wit goewermentsbrood: koningskos! (Ns.: Bisto betaal my nie vir dié stelling nie!)

Gebraaide aartappels

Aartappels gebraai saam met die lamsboud was ’n moet. Die lamsboud is eers vir so ’n uur en ’n half in die oond gebak en dan is die geskilde aartappels in ’n bietjie meel gerol en bygevoeg. Die spulletjie is dan weer oond toe totdat die aartappels goudbruin en bros gebraai is. Gaan ek darem vandag smul aan dié kos.

Babs se legendariese appeltert

Wanneer Babs verjaar het of as daar ’n spesiale doop in die gemeente was, het sy altyd haar legendariese appeltert gebak. Weer eens is dit nie fênsie nie, dit is eenvoudig en word met geblikte appels gemaak. Ek het nou die dag ’n blik appels gekoop en ek was verstom oor die gehalte daarvan – en dit werk perfek in Babs se resep. As jy ’n klomp vars appels op jou kombuistafel het, skil hulle, kook hulle gaar en maak seker jy het die 825 g wat die resep verlang.

Ek hoop julle almal het ’n baie spesiale en wonderlike dag saam met die inspirerende vroue in jul lewens. Onthou Moedersdag vier alle ma-figure in jou lewe: oumas, susters, tannies, niggies en vriendinne.

Gelukkige Moedersdag, Ma.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Ma Babs het altyd haar skaapboud, met die skenkel aan, bedien met ’n Bisto-sous. Foto: iStock

Babs se skaapboud met Bisto-sous

2 kg lamsboud, met skenkel aan

8 knoffelhuisies, gekneus

handvol vars roosmaryn, fyngekap

30 ml olyfolie

sout

witpeper (ja, Babs gebruik net witpeper)

60 ml botter, in stukkies gesny

8 aartappels geskil, in halwes en kwarte gesny en in ’n bietjie meel gerol

20 ml Bisto-poeier, gemeng met water tot ’n dunnerige vloeistof

So maak ’n mens: Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die knoffel en roosmaryn met die olyfolie en vryf die mengsel goed oor die hele lamsboud. Geur met sout en peper aan alle kante.

Plaas die lamsboud in ’n groot oondpan. Stip oral oor met botter. Bedek die oondpan met foelie, seël goed aan die kante en bak vir 1½ uur.

Verwyder die foelie en voeg die aartappels by en bak die lamsboud nou oop vir nog so 1½ uur teen 160 °C of totdat die aartappels gaar en goudbruin is. Bedruip die boud gereeld met pansouse.

Haal die boud uit die pan en laat rus vir so 30 minute. Skep die aartappels ook uit en hou warm. Terwyl die boud rus, gooi omtrent ’n driekwart koppie water in die oondpan (wat jy nou op ’n matige oondplaat sit) en roer goed om al die pansappe los te skraap. Gooi die Bisto-mengsel by en kook tot verdik.

Aan die Potgieter-Moedersdagtafel word daar altyd appeltert bedien vir nagereg. Foto: iStock

Babs se appeltert

Maak eers die appelvulsel en laat verkoel. Maak daarna die deeg en laat in yskas afkoel.

Vulsel

125 ml sultanas

250 ml water

60 ml suiker (proe wanneer vulsel klaar is en as jy dit wil soeter maak, gooi nog suiker by)

5 ml kaneel

knippie sout

1 groot blik (825 g) tertappels, in klein stukkies gesny

50 ml koekmeel

45 ml suiker

15 ml botter

5 ml suurlemoensap

So maak ’n mens: Kook die sultanas in water tot sag en uitgeswel. Roer die suiker, kaneel, sout en appels by. Laat kook oor lae hitte. Meng koekmeel en suiker met water tot ’n vloeibare pasta.

Roer stadig by die kokende appelmengsel terwyl jy gedurig roer. Laat dit deurkook (pasop vir brand). Wanneer dit goed gaar is, roer die botter en suurlemoensap by. Laat afkoel voor jy dit in tertkors gooi.

Kors

45 ml suiker

125 g botter

15 ml kookolie

1 eier, geklits

250 g koekmeel

10 ml bakpoeier

So maak mens: Room botter en suiker tot liggeel en romerig. Voeg die olie by en dan die geklitste eier. Sif die droë bestanddele by en meng alles saam tot ’n sagte deeg. Plaas in yskas om af te koel. Die deeg is bros en hanteer moeilik as dit nie koud is nie.

Vir bak: Voer ’n gesmeerde tertbord uit met tweederdes van die deeg. Gooi die koue vulsel in en rasper die res van die deeg oor. Bak vir 30-40 minute teen 180 °C tot ligbruin. Bedien met vanieljeroomys, geklopte room of vla.

Meer oor:  Anél Potgieter  |  Kostelik  |  Sondagmaal  |  Kos  |  Resepte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.