Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Eeu van chenin in Breedekloof

In die Breedekloof-wynvallei het produsente hul kragte saamgespan om saam hul vlagskip-produk chenin blanc te bevorder. Suzaan Potgieter het hul wyne gaan proe.

Een wynvallei, 13 kelders en 13 bottels chenin blanc. Die Breedekloof Makers wéét hoe om alle eer aan hierdie druifsoort te gee.

Met dié vallei wat 16% van die land se chenin blanc-aanplantings huisves en boonop sulke goeie wyne daarmee maak, is dit geen verrassing dat hulle besluit het om chenin hul topproduk te maak nie.

Attie Louw van Opstal was die brein agter dié inisiatief, want dit is immers die vallei waar almal chenin blanc plant en mee wynmaak.

“Dis wat ons doen in die Breedekloof,” sê Louw.

Volgend hom merk 2018 ook die 100ste jaar vanaf die eerste produksie van chenin blanc in die vallei.

13 produsente vorm nou deel van die Breedekloof Makers en dit is oop vir enige wynmaker wat uit die boks wil dink en iets nuut met chenin probeer.

Al die wyne in die versameling is gehout, maar elkeen verskil dag en nag van mekaar.

Elkeen van die 13 wyne toon die grond waarvan die wingerd kom, die wingerd self (hetsy ouer of jonger) en die persoonlike stempel wat deur die wynmaker afgedruk word.

Hulle gebruik verskillende vate, tegnieke en elkeen van die wynmakers probeer die wyn nuut, opwindend en uniek hou.

Die wyne se name toon ook dat dit nie net enige wyn is nie: van die wyne is na oupagrootjies vernoem of na iemand wat deel van die plaas se erfenis is, terwyl daar ander is wat spesiale name met betekenis dra.

Die Breedekloof Makers se chenin blanc-wyne

Meeste van die wyne is slegs by die kelders self beskikbaar, so maak gerus ’n draai in die vallei om jou kattebak vol te laai.

Badsberg

Badsberg Chenin Blanc 2016 (R110)

Hierdie chenin blanc word in Amerikaanse eikehoutvate gefermenteer waarna dit vir ’n verdere vyf maande op die gismoer verouder word.

Die wingerde is ou bosstok en die wyn toon ’n goeie suur met vars smake en is vrugtig op die neus.

Bergsig

Bergsig Chenin Blanc Reserve 2017 (R165)

Hierdie wyn spog met verskeie elemente wat wissel tussen romerigheid, droëvrugte-kenmerke en dit is boonop ’n sappige wyn.

Dit bring 12 maande in Franse eikehoutvate deur, waar dit verouder het in sowel nuwe as ouer vate.

Dit is ’n ligter wyn met ligte suur en vrugtige smake.

Botha

Botha Kelder Barrel Fermented Bush Vine Chenin Blanc 2017 (R140)

Handgeplukte druiwe van ’n geselekteerde blok droëland-bosstok word vir dié wyn gebruik.

Dit bring 28 dae in 35% nuwe Franse eikehoutvate deur en 35% van die wyn word natuurlik gefermenteer.

Dit wys goeie vrug en die hout dra by tot die wyn se palet.

Daschbosh

Daschbosch Steen 2017 (R170)

Koue stabilisasie en stadige fermentasie dra by tot hierdie wyn se goeie balans van suur en vrug.

Dit word in derde en vierde vul-vate gefermenteer vir drie weke met kommersiële en natuurlike gis. Daarna bring dit ses maande op die gismoer deur en agt maande in die vate om te verouder.

Deetlefs

Deetlefs Reserve Chenin Blanc 2017 (R175)

’n Verskeidenheid van nuwe en ouer 300 liter- en 500 liter-vate dra by tot die wyn en bring tekstuur en die palet na vore.

Daar is ’n mineraliteit in die wyn se neus en dit is steeds vrugtig met ’n goeie suurbalans.

Jason’s Hill

Jason’s Hill Beatrix Barrel Fermented Chenin Blanc 2016 (R180)

Dié wyn bestee sy tyd in Hongaarse eikehoutvate wat die vrug van die wyn beskerm.

Dit spog met ’n effe romerige tekstuur met goeie, natuurlike suur en het baie goeie verouderingspotensiaal.

Lateganskop

Lateganskop The Zahir 2017 (R130)

Dieselfde bosstok-wingerde wat 24 jaar oud is word elke jaar per hand geoes om hierdie wyn te maak.

Dit het ’n vrugtige smaak met sweempies van blomme en ’n verskeidenheid van vrugte op die palet.

Merwida

Merwida Family Vintners Chenin Blanc 2017 (R120)

Hierdie sappige, vrugtige wyn kom van ’n blok met 15 jaar oue wingerd.

Die wyn is ook vruggedrewe met sitrusgeure. Die smaak word deur die gebruik van Franse eikehoutvate ondersteun om ’n vars smaak op die palet te los.

Olifantsberg

Olifantsberg Lark Chenin Blanc 2017 (R175)

’n Ligte, droë wyn met ’n vars smaak wat op drinkgenot gefokus is.

Smake van kwepers en ’n bietjie suurlemoen kom na vore in dié wyn wat tyd in Franse- en Hongaarse vate bestee het.

Opstal

Opstal Carl Everson Single Vine­yard Chenin Blanc 2017 (R185)

In sy sesde oesjaar van die Carl Everson wys die wyn alles wat mooi is van chenin en is boonop ’n baie drinkbare wyn.

Dié enkelblokwingerd-wyn wys die vrug, is sappig en toon baie varsheid op die palet. Die hout is net genoeg om by te dra tot die tekstuur.

Slanghoek

Slanghoek Legends Barrel Fermented Chenin Blanc 2016 (R196)

Hierdie wyn is nie verniet ’n wenner van die Standard Bank Chenin Blanc Top 10 Challenge nie. Dit is ’n lieflike, vruggedrewe chenin afkomstig van wingerde ouer as 30 jaar.

Met goeie suur en vrugsmake van onder meer appelkoos is daar ook ’n romerige nasmaak op die palet.

Stofberg Family

Stofberg Family Vineyards Mariëtte Chenin Blanc 2017 (R175)

’n Goed gebalanseerde wyn afkomstig vanaf ouer wingerde met ’n verskeidenheid van smake, soos tropiese vrug en vanielje, op die palet.

Hierdie vrugtige wyn bestee effe meer tyd op die gismoer, waarna dit tyd in ’n verskeidenheid van vate deurbring.

Stofberg

Stofberg Wine Estate Border Stone Chenin Blanc 2017 (R150)

Die wyn wys goeie vrug op die palet, is lig gehout en los ’n sappige nasmaak.

Ook afkomstig van ouer wingerde, bring die wyn vier maande in Franse eikehoutvate deur, wat ’n vars palet met geurige aromas toon.

Meer oor:  Breedekloof Makers  |  Chenin Blanc  |  Wyn  |  Kultivar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.