Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Geur-ervaring soos geen ander

Jy het nie ’n vlug Indië toe nodig om dié land se kos te geniet nie. Suzaan Potgieter het by die Indiese restaurant Bombay Brasserie aangesit om hul kos op die proef te stel.

Garnale en hoender is net twee van die uitstekende disse op Bombay Brasserie se spyskaart. Foto’s: JAN RAS

Bespreek sommer nou vir jou ’n tafel by Bombay Brasserie in die Taj-hotel in die Kaapse middestad as jy geurige smelt-in-die-mond kos uit Indië, gemaak in ’n tradisionele tandoor­oond geniet of dit graag beter wil leer ken.

Nie alleen kan jy uitsien na geurige, sappige kos nie, maar ook na werklik ruim porsies.

Ek sal voorstel dat jy kos bestel soos wat die aand verloop. Moenie aan die begin alles wat lekker klink bestel nie, ander gaan jy, nes ek, gou agterkom dat jou oë groter was as jou maag.

Boonop heers daar ’n ongelooflik lekker en rustige atmosfeer, daar is heerlike mengeldrankies en ’n goeie wynlys, asook kundige en vriendelike personeel wat bydra tot die hele ervaring.

Of jy ’n romantiese ete, ’n aand saam met vriende of ’n familie-affêre beplan, Bombay is net die plek.

Neem kennis dat die kos nie branderig is nie, maar baie geurig is. Verskeie speserye en kombinasies daarvan word gebruik vir die kos, so wees bereid om avontuurlustig te wees gedurende jou besoek.

Foto:

Só lyk die spyskaart

Jy kan besluit op die viergang- vasgestelde spyskaart wat ook ’n vegetariese-opsie insluit, of uit kleiner borde, kenmer-kende disse, hoofgeregte en nagereg kies.

Daar is ook ’n brood-afdeling wat gunstelinge soos naan en roti’s insluit.

Gunstelinge op die spyskaart sluit in die volstruis-en-rosyn-samoesa wat sappig is met ’n tikkie soet van die rosyntjies, en die confit-eend met spinasie en appelkoos.

As dit by vleis kom, kan jy nie verkeerd gaan met enige Karoolam- of hoenderdisse nie. Die garnale en vegeta­riese disse is ook uit die boonste rakke. En ek het geleer, met ’n bietjie speserye en aandag kan selfs groente in ’n heerlike bord kos omskep word.

Vra gerus jou kelner om te help met jou keuses. Hulle maak die beste aanbevelings op grond van jou persoonlike voorkeure. Ná ’n vinnige geselsie sal hulle ’n paar disse voorstel waarvan jy sonder twyfel sal hou.

Bombay se dekor herinner aan Indië met helder kleure en patrone. Dit voel amper asof jy nie meer in Kaapstad is nie sodra jy die restaurant binnegaan.

Wat gaan alles kos?

’n Uitstappie na Bombay is nie goedkoop nie, maar as jy selektief kies en met mekaar deel in plaas van elkeen sy eie driegangete bestel, sal dit aansienlik goedkoper uitwerk.

My voorstel sal wees om die tandoori-proe-opsie te kies wat bestaan uit drie disse (R325) of vier (R395).

Sodoende kan almal aan tafel verskillende opsies geniet en eet.

Geurige, groot porsies kan aangevul word met ekstra brood soos onder meer roti’s en naan.

Daarna kan jy dit aanvul met ander opsies op die spyskaart.

Neem in ag dat porsies groot is en maklik gedeel kan word.

Die vasgestelde viergangspyskaart kos R425 of R650 per persoon, afhangend van die opsie wat jy kies.

Klein-bordjie-disse kos tussen R95 en R140 en kenmerkende disse wat in die klei-oond gemaak word, sal jou so tussen R105 en R175 uit die sak jaag.

Nageregte kos ongeveer R100 elk en kan maklik tussen twee mense gedeel word.

As jy kos, drank en jou fooitjie in ag neem, sal jy gemiddeld tussen R300 en R500 per persoon betaal.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.