Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Koel oase op snikhete dae

Jy kan die Daniell-padstal, so ’n entjie buite Kirkwood as jy van Uitenhage se kant af kom, nie miskyk nie.

Die Daniell-padstal het ’n lieflike groot stoep waar jy in die somer in die koelte kan skuilte vind. Foto: Willemien Green

Benewens die enorme windpomp op die dak wat so iets van alles wat daar te koop is adverteer, lok die groot stoep se koelte jou om remme aan te slaan vir iets om te eet en te drink.

Dit is veral gedurende die somer, wanneer die son ongenadig in die geweste kan bak, ’n broodnodige oase!

Richard Daniell, die direkteur van die Daniell Cheetah Project op dieselfde plaas, se ouers het die padstal in 1995 begin.

“My pa is sewe jaar gelede oorlede en nadat my ma Jeffreysbaai toe verhuis het, het ek die boerdery met die padstal en die jagluiperd-projek oorgeneem,” verduidelik Richard.

Kyk eers rond voor jy jou op die stoep tuismaak. Daar is ’n helderkleurige bord wat verskeie lande se afstand vanaf die padstal vir jou aandui. In die middel van die somer kan Switserland, ’n skamele 9 095 km van hier, waar dit dan waarskynlik sal sneeu, baie aanloklik lyk!

Op die stoep is daar pragtige gedrukte lapwerk, beesvelmatte en geweefde mandjies te koop.

Aan die binnekant van dié ongewone padstal sal jy die heerlikste ingelegde lekkernye en allermooiste snuisterye as geskenkies vir die familie kry.

Koop ’n snoesige handdoek met Daniell Cheetah Project se naam en ’n grasieuse jagluiperd daarop geborduur om jou aandeel te doen om te keer dat dié pragtige diere uitsterf.

Rye en rye botteltjies met helderkleurige suiglekkers, pakke beskuit, koekies en speserybottels staan die rakke vol.

“Alles word vars gebak en ons ry elke Maandag om nuwe voorrade vir die padstal aan te koop,” sê Richard.

Vir jou kroos is daar speelgoed wat hulle dalk vir ’n oomblik van die langpad sal laat vergeet.

Koop vir jouself ’n kettie om die lastige seemeeue wat jou vangs langs die viswaters wil buit, te verjaag!

Die restaurant is aan die binnekant van die padstal en is kunstig versier. Teekoppies en melkbekertjies hang vir interessante fokuspunte van die plafon af en oral staan oudhede rond.

Die Daniell-padstal met sy windpomp is onmiskenbaar vanaf die R75. Foto: Willemien Green
Die groot stoep van die Daniell-padstal waar jy ook by die eetbankies kan aansit om iets te eet en te drink.Foto: Willemien Green
Rye ingelegde lekkernye, beskuit en koekies staan die rakke vol by die Daniell-padstal.
Daar is eet-en drinkgoed as ook verskeie snuisterye wat jy kan koop vir jou geliefdes by wie jy gaan kuier in die vakansie wat net om die draai is.Foto: Willemien Green
Die speelpark en touch farm vir woelwaters wat die padstal saam met hulle ouers besoek. Foto: Willemien Green
Bestel ’n peperbiefstuk-pastei (peper steak) om gou saam met ’n koppie koffie te geniet alvorens jy die Daniell Cheetah Project besoek sodat die gegrom van jou maag nie dalk die cheetah’s laat grom nie! Foto: Willemien Green
Die restaurant-gedeelte van die Daniell-padstal is kunstig versier met allerlei oudhede.

Sou jy dalk op ’n koue dag hier aandoen, is daar snoesige komberse oor die leunings van die stoele gehang. (So warm as wat dit hier kan word, so koud is dit weer in die winter.)

Bestel vir jou ’n Breakfast Bun (R45) bestaande uit ’n broodrolletjie met twee snytjies ham, kaas, eier en tamatie wat met skyfies bedien word vir ontbyt, of probeer die Franse-roosterbrood vir dieselfde prys wat met spek en kaas en bedruip met heuning bedien word.

Op die spyskaart is daar ook verskeie burgers wat baie gewild is. Die pryse wissel van R45 tot R70 en die burgers word ook met ’n slaaitjie of skyfies voorgesit. As jy baie honger is, bestel dan die reuse Dagwood met twee sappige patties, spek, kaas en ’n eier op en weereens met ’n keuse van slaai of skyfies daarby vir R70.

Vir ’n ligter maaltyd is daar ook quiche, heerlike tuisgemaakte pasteie met hope vleis in, roosterbroodjies en verskeie vegetariese opsies.

As jou woelwaters kriewelrig raak aan tafel, kan jy hulle na die afgebakende deel aan die agterkant van die padstal neem waar hulle na hartelus op die swaaie en klimraam kan baljaar.

Daar is ook ’n kampie waar Richard-hulle hoenders, hasies, skilpaaie en ander klein diertjies en geveerdes aanhou.

Meer oor:  Kirkwood  |  Uitenhage  |  Restaurant
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.