Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Kuier in Elgin vir almal

Jy kan enige tyd van die jaar ’n kuier na Elgin beplan, want dit is naby genoeg aan Kaapstad vir ’n dag, maar ook ver genoeg vir ’n naweek of vakansie. Suzaan Potgieter deel meer oor dié wynstreek.

Net oorkant die berg en ná ’n rit oor Sir Lowryspas is Elgin, waar jy met ope arms (en vol glase wyn) verwelkom word.

Hierdie vallei is ’n gunsteling vir verskeie redes, want nie net is daar baie goed om te doen en geniet nie, maar dit is naby aan Kaapstad – dit is minder as een uur se ry hiernatoe.

Jy kan ook die hele gesin saam neem vir ’n adrenalien-belaaide dag of ’n romantiese wegbreek vir ’n naweek geniet.

’n Paar besoekplekke

My keuses as dit by Elgin kom is eintlik almal, want elke plaas bied iets nuut en lekker waarvan jy sal hou. As jy gedruk is vir tyd, moet dié plekke op jou lys wees.

’n Besoek aan Paul Cluver moet altyd op jou lys wees, want dit is beslis onvergeetlik.

By Paul Cluverkan jy altyd verseker wees van ’n kombinasie van goeie kos en wyn. Hier klop ek altyd aan vir sauvignon blanc en riesling, maar daar is vele meer om van te kies.

Nie net bied hulle ontbyt nie, maar daar is ook aparte spyskaarte vir middagete, aandete en ’n kinderspyskaart. Die spyskaarte is klein, maar bevat genoeg opsies en iets van alles.

Wynproeë kos tussen R35 en R150 afhangend van wat jy wil proe en hulle is heelweek oop vir proeë. Die restaurant is Woensdae tot Sondae oop vir middagete en Vrydae vir aandete. Kontak 021 844 0605 of info@cluver.com vir besprekings.

As jy hou van Cap Classique en alles wat vonkel, is Charles Fox net die plek vir jou.

Hier is ’n reeks wat net uit Cap Classique bestaan met meer as vyf om van te kies. Beslis ’n wenner vir die liefhebbers van borreltjies. Proeë kos tussen R70 en R120 afhangend van wat jy wil proe en hulle is heelweek oop. Skakel 082 471 3444 om ’n proe te bespreek.

As jy ’n liefhebber van brandewyn is, moet jy by Oude Molen ’n draai gaan maak. Dié distilleerdery in Elgin bied vele ervarings vir jou om nie net brandewyn te proe nie, maar ook meer daarvan te leer.

Met goeie wyn en kos kan jy nooit verkeerd gaan nie! Dis iets wat elke plek in Elgin bied. By Oak Valley (foto) kan jy langs die swembad by die Pool Room uitspan en ’n glasie of twee geniet.

Jy kan by hulle aansluit vir ’n twee uur lange ervaring waar jy alles en meer van Kaapse brandewyn sal leer: jy proe deur die produksieproses vanaf die basiswyn tot die eau de vie, waarna jy ’n brandewynproe met sjokolade geniet (R150).

Of jy kan net die brandewynproe saam met geselekteerde Lindt-sjokolade geniet (R70).

Jy kan van Dinsdae tot Saterdae die aanbiedinge geniet en bespreking vir die twee uur lange ervaring is noodsaaklik. Kontak 021 859 2517 of info@oudemolen.co.za om te bespreek.

Ander plase wat jy ook kan en moet besoek is Almenkerk, Elgin Vintners, Highlands Road, Iona, Lothian, Oneiric, Paul Wallace, Shannon, South Hills en Wines of Brocha.

Elgin Railway Market

Wie sou ooit kon raai die ou appelstoor in Elgin sal vandag die tuiste van ’n heerlike mark wees? En as jy van markte hou, moet jy by die Elgin Railway Market ’n draai gaan maak.

Gaan kuier gerus by die Elgin Railway Market waar jy kan eet, drink én deur die stalletjies kan snuffel.

Hier is ’n rits uitstallers van verskeie produkte, lekker kos en natuurlik plaaslike drank. Daar is ook gereeld musiekvermaak en met die ligging langs die treinspoor, kan jy ook die aankoms van die trein sien. Jy kan selfs die Ceres Rail-trein van Kaapstad na Elgin neem wat naweke ’n retoerrit aanbied vir diegene wat die gebied wil besoek.

Klop gerus hier aan oor naweke vir die volle mark asook vir middagete en om iets te drink.

* Die mark is Saterdae en Sondae oop, maar die koffiewinkel is heelweek oop en Woensdae en Vrydae is daar ook saans ’n seleksie van kosstalletjies met die kroeg wat oop is.

Cape Canopy Tour

Die enigste manier wat beter is as om ’n natuurreservaat te voet te verken, moet “ziplining” wees.

Cape Canopy Tour bied ’n nuwe manier om ’n natuurreservaat te sien – per foefieslaaid!

Met 13 platforms en 11 glydrade kan jy deur die Hottentots-Holland-natuurreservaat sweef en watervalle, valleie en die natuurskoon van die reservaat sien. Jy sal meer as 320 meter gly met die langste gly wat meer as 30 sekondes duur. Dis altesaam vier en ’n half uur se pret.

* Jou kontak: Vir inligting skakel gerus 021 300 0501 of stuur ’n e-pos na zipline@capecanopytour.co.za.

Trail’s End

Die Trail’s End Bike-hotel in Grabouw bied bergfiets- en hardloop-/staproetes vir avontuurlustiges. Boonop kan jy ook hier oorslaap.

Jy kan na hartelus jou adrenalien laat pomp deur hier die mooi roetes te verken van die area.

By Trail’s End kan jy na hartelus ter voet of op jou bergfiets verken.

Van die beste bergfietsroetes is op die hotel se voorstoep met van die plase wat dikwels gebruik word tydens bekende fietsrygeleenthede.

Die hotel bied ook ’n restaurant en meeste van die wynplase en ander restaurante is naby die hotel geleë.

* Jou kontak: Skakel 021 859 5193 of stuur ’n e-pos naaccommodation@trailsend.bike.

Geborg deur:

Almenkerk

Almenkerk
Ervaar pragtige uitsigte by die Almenkerk-wynlandgoed.

Almenkerk-wynlandgoed is ’n welkome toevoeging tot die pragtige koelklimaat- Elgin-vallei.

Verwag ’n warm ontvangs by dié landgoed, wat aan die Belgiese en Nederlandse Van Almenkerk-familie behoort.

Die gesogte Modern Winery bied ook die perfekte agtergrond om tyd saam met familie en vriende in die vallei deur te bring.

Hulle maak bekroonde wyne op ’n prettige manier en streef daarna om volhoubaar te boer.

Gaan vir ’n wynproe en geniet die asemrowende uitsigte oor die Kogelberg-biosfeer en wingerde, terwyl hulle hul stories, filosofie en heerlike wyne met jou deel.

Almenkerk-wynlandgoed is oop van Dinsdag tot Sondag vanaf 10:00 tot 16:00. Gaan besoek die kelder by Viljoenshoopweg 50 in Grabouw.

Vir meer inligting, skakel gerus 021 848 9844 of stuur e-pos na info@almenkerk.co.za.

 

Bodemloos Backpackers

Bodemloos Backpackers
Bodemloos Backpackers bied verskeie verblyfopsies asook heerlike wyntoere.

Bodemloos Backpackers is geleë op ’n werkende plaas in die Elgin-vallei. Hier kry jy prentjiemooi uitsigte en die geleentheid om die plaaslewe eerstehands te ervaar.

Gaste is welkom om rustig rond te drentel of rondom die boorde te gaan draf of fietsry.

Geniet die verfrissende vreedsaamheid op die plaas of bespreek gerus een van Bodemloos Backpackers se toere in die omgewing.

Hulle bied ’n daaglikse wyntoer na drie plaaslike wynplase, asook ’n half- of voldagtoer met avonture wat enigiets van stap en glydraadry tot walviskyk insluit.

Daar is ’n verskeidenheid verblyfopsies beskikbaar, insluitend kamers vir rugsakreisigers, chalets, slaapsale, asook tente met of sonder strooimatrasse, matrasse en beddegoed.

Vir besprekings bel gerus vir Melissa Lewis by 076 867 8920 of 082 669 2934, of stuur e-pos na bookings@zuluoverland. Besoek ook hul Facebook-blad Bodemloos Backpackers

 

Elgin Vintners

Elgin Vintners
Besoek Elgin Vintners vir heerlike wyne en eetgoed.

Elgin Vintners-wynlandgoed in die hartjie van die skilderagtige Elgin-vallei, het onlangs hul nuwe besoekersentrum geopen. Gaste kan hier van Woensdae tot Sondae smul aan ’n verskeidenheid pizzas, kaas- en vleisborde, ligte happies, pieknieks, sowel as hul bekroonde wyne.

Die besoekersentrum is oop vanaf 10:00 tot 16:00 en bied ’n asemrowende uitsig oor die wingerde en spogtuine. Ontspan in die skaduwee van die reuse-bome terwyl die kleingoed op die outydse swaai baljaar of soek na die versteekte miniatuurfeetjie-dorp.

Pak ’n kombers en sonhoed, en besoek Elgin Vintners vir ’n onvergeetlike uitstappie. Ontspan op die houtdek of groen grasperk terwyl jy aan die bekroonde wyne en smulhappies weglê.

Pieknieks moet 24 uur vooraf bestel word. Kontak Elgin Vintners by 021 848 9587 of taste@elginvintners.co.za vir meer inligting.

 

Green Mountain

Green Mountain
Green Mountain bied ’n prentjiemooi staptog deur die Groenlandberg-bewarea.

Green Mountain is op The Daily Telegraph se lys van top-20-bestemmings in Suid-Afrika. “Verken die Kaapse Blommeryk bedags, probeer saans die heerlike wyne en  gaan op ’n staptog saam met die gids en sy gesnede wandelstok vol ruimtewesens. Die Green Mountain-roete van 60 km neem jou oor vier dae deur die Groenlandberg-bewarea Z die wêreld se eerste biodiversiteitwynroete. Die kunsgevulde Wildekrans Country House, ’n bestemming in eie reg, is ’n prettige plek om by te bly,” besing The Daily Telegraph Green Mountain se lof.

Hulle het ook ’n luukse vierdag “slackpack”-pakket. Dit is geen wonder Green Mountain het in 2020 die Travellers Choice-toekenning gewen nie. Die kundige gidse is geakkrediteerd en passievol. Jy kan uitsien na vierster-plaasverblyf, middagete tussen die fynbos en op ander wynplase, wynproeë in Elgin en Botrivier, staptogte deur fynbos en boorde, asook oorvloedige voël- en dierelewe.

Vir meer inligting, skakel 028 284 9827 of besoek www.greenmountain.co.za.

 

Highlands Road-landgoed

Highlands Road
Besoek Highlands Road vir ’n dag van heerlike ontspanning.

Highlands Road-landgoed, geleë in die prentjiemooi Elginvallei, bied baie meer as net wyn. Nie net produseer hulle deurlopend bekroonde wyne nie, maar dié landgoed is ook kinder- en hondevriendelik, dus hoef jy nie skuldig te voel oor die helfte van jou gesin wat tuis moet bly nie!

Hulle is daagliks oop vir wynproe en bedien naweke kouevleise en vegetariese peuselborde.

Jy is ook meer as welkom om jou eie piekniek te pak en onder die wilgerbome op die gras langs die dam te geniet.

Daar is waterbakke vir die diere en genoeg ruimte vir die kinders en honde om onder toesig te speel en baljaar. Daar is ’n klouterraam vir die kleinspan. Hulle laat selfs hengel toe, mits jy weer die vis vrylaat wat jy vang.

Jy sal Highlands Road by Highlandsweg 75 in Elgin vind. Hulle is Maandae tot Sondae van 10:00 tot 16:00 oop.

Vir besprekings, stuur gerus e-pos na tasting@highlandsroadestate.co.za of skakel 071 271 0161 vir meer inligting.

 

Peregrine-padstal

Peregrine
Peregrine is veral bekend vir hul heerlike pasteie.

Die Peregrine-padstal het sedert sy ontstaan in 1964 ’n ikoniese Suid-Afrikaanse instelling op die N2 geword en dien al vir jare generasies van reisigers op soek na ’n besonderse plaasstalletjie, kafee of padkos-ervaring.

Peregrine is veral bekend vir hul tuisgebakte pasteie, vars brood en koud-geperste vrugtesappe. ’n Vinnige soektog op Google of Tripadvisor dien as bewys dat mense ook lief is vir Peregrine oor die warm, aanloklike atmosfeer. Soos een kliënt gesê het: “As jy instap, omarm die plek jou en dit hou jou daar.”

Geleë in die pragtige Elginvallei, bied Peregrine ’n oorvloed van plaaslik vervaardigde kunsgoedere, wyn en gesonde varsprodukte.

Die padstal spog nou ook met ‘n nuwe boekwinkel en daar is ander “pop up” winkeltjies waarna besoekers kan uitsien!

Vir meer inligting, besoek gerus www.peregrinefarmstall.co.za.

 

Apple Mountain-gasteplaas

Apple Mountain
Apple Mountain sal die ontspanning verskaf waarna jy hunker.

Apple Mountain-gasteplaas is ’n juweel waar jy jou skoene kan uitskop en die ware gasvryheid van plaaslewe geniet.

Die gastehuis bied slaapplek vir 19 gaste, waar jy ook bederf sal word met ’n ontbyt soos min.

Daar’s ’n grasdaklapa waar jy kan partytjie hou tot die son opkom en al jou vriende kan bring, want daar is plek vir 50 van hulle.

As dit die rustigheid van die vallei is waarna jy hunker, bring jou fiets, pak jou stapskoene in, onthou jou gunsteling-boek en geniet hom met ’n glasie wyn langs die swembad.

Hulle sien uit om jou te verwelkom!

Vir meer inligting oor Apple Mountain-gasteplaas, stuur gerus e-pos na vinceremo@telkomsa.net. Besoek ook hul Facebook-blad Appel Mountain Guest Farm.

 

Elgin Grabouw Toerisme

Elgin
Die Elgin-vallei bied heerlike wynproegeleenthede wat jy nie wil misloop nie.

Vaar gerus die pragtige Elgin-vallei in vir hul #CoolWineLtd-naweek op 24 en 25 April.

Baie van die wynplase hou geleenthede wat op koelklimaat-wyne in hierdie omgewing fokus, gekombineer met ’n wye verskeidenheid heerlike plaasgeregte. 

Beplan jou roete in dié vallei rondom ’n paar opwindende geleenthede soos vertikale wynproeë, ’n koningstafel-middagete, bergfietsgeleenthede, historiese staptogte met ’n gids en natuurlik uitstekende kos!

Weens Covid-19-regulasies sal slegs ’n beperkte aantal mense by elke geleentheid toegelaat word. Maak dus seker jy bespreek vroegtydig jou sitplek by die betrokke lokaal om teleurstelling te voorkom.

Maak gerus ’n naweek daarvan en bespreek jou verblyf by www.elgingrabouw/accommodation.

Hulle sien daarna uit om jou in die Elgin-vallei te verwelkom!

Vir meer inligting, besoek gerus www.elgingrabouw.co.za

Meer oor:  Elgin  |  Kuier. Doendinge  |  Mark  |  Bergfietsroetes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.