Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Kwarteeu van harde werk

In die tyd van Kleine Zalze se bestaan is daar baie risiko’s geneem en lesse geleer, maar dié Stellenbosse wynplaas het ook die resep vir sukses gevind. Suzaan Potgieter het met Kobus Basson gesels oor dié reis.
Die wenspan! Kobus Basson (agter, derde van links) saam met die span wat die sukses van die kelder verseker. Agter van links is Norman Paulse, Gerald Snyman, Kobus, Alastair Rimmer en Henning Retief. Voor is Anel Botha, Lizemari Geldenhuys, Hanri Ferreira, RJ Botha en Nataleé Botha. Foto’s: VERSKAF

Soos wat Kobus Basson oor wingerd, wyn en die bedryf praat, sal jy dink hy is gebore met wynmaak in sy are, maar helaas nie. Hy het geen agtergrond van boer of die landboubedryf gehad nie, maar wel nog altyd ’n kop vir sake.

Hierdie eienaar van Kleine Zalze in Stellenbosch vier met trots vanjaar die kelder se 25ste verjaardag, maar hy sê dit was nie aldag ’n “maklike uitstappie” nie.

“Wynmaak is nie ’n eendagwedstryd nie, nie eens ’n vyfdagwedstryd nie.

“Hou dit eenvoudig, kry jou fondasie reg en besef dat mense jou groot bate is – veral as dit kom by goeie verhoudings in die buiteland.”

Kobus het min van wynboerdery geweet toe hy by Kleine Zalze betrokke geraak het nie. Sy vrou, Mariette, kom wel van ’n druiweplaas en toe hulle trou, het sy gesê sy wil graag eendag weer op ’n plaas woon.

“Ons het toe nog in die dorp gewoon en ek het in die regte gepraktiseer as ’n prokureur in Stellenbosch.”

Hy en sy swaer het saam Kleine Zalze gekoop, maar hy het nooit gedink óf beplan om eendag die alleeneienaar te word nie. Nou is dit ’n kwarteeu later en Kobus is gemaklik en gelukkig op die plaas.

Lesse van die bestes

Kobus moes vinnig meer leer van wyn, maar gelukkig het hy

wynprodusente as vriende en kliënte gehad en was daar heelwat kundiges bereid om te help.

“Ek was saam met Johan Malan (van Simonsig) en ’n paar ander wynmense op skool en het baie tyd op Simonsig deurgebring. Dit het my darem ’n basiese kennis van die bedryf gegee,” sê hy.

Hy sê Jan Boland Coetzee, oud-Springbok en eienaar van Vriesenhof, het ook ’n groot rol in die 1990’s gespeel in sy opvoeding oor wyn, maar veral oor kos- en wynkultuur.

“Ons was saam op wynreise, onder andere ook saam met Neil Ellis, na Chili. Almal was so beïndruk oor hoe Chili die wêreldmark aanpak.”

Die blootstelling asook die tyd wat hy in Europa deurgebring het, het hom gedryf om ’n kos- en wynkultuur en -leefstyl in Stellenbosch te vestig.

“Dit was dus ’n opwindende tyd toe ons by Kleine Zalze die gholfbaan ontwikkel het en ’n restaurant oopgemaak het.

“Daardie tye het mense nie lank oorgebly in Stellenbosch nie – hulle het besoek en weer na die volgende plek gegaan. Dit was dus ’n nuwe hoofstuk vir die plaas en toerisme.

“Die afgelope 25 jaar het toerisme deel geword van die wynbedryf, asook die gepaardgaande leefstyl.”

Kobus sê ook dat Suid-Afrikaanse wynplase nie altyd besef hoe wonderlik die wyn en wynland is nie, maar dat dit tyd is om dit te besef en selfvertroue in die produk te hê.

“Ons kan alles wat ander lande bied, ook hier aanbied. ’n Mens hoef nie oorsee te gaan vir goeie wyn en om te toer nie.”

Kobus Basson, eienaar van Kleine Zalze, is baie gelukkig met die kelder ná 25 jaar.

Dit is steeds ’n besigheid

As dit kom by wyn, is passie belangrik, maar volgens Kobus moet besluite ook met die brein geneem word en nie net met die hart nie.

“Ek het ingegaan en gesê ons moet emosie én passie hê. Ons moet nooit iemand sonder passie aanstel nie – ’n passie vir wyn, mense en die lewe. Maar die struktuur moet reg wees, want dit is ’n besigheid.”

Kobus sê dat hul hoofdoel altyd was om wyn te maak met integriteit en van uitmuntende en konstante gehalte. Wyn wat mense kan geniet en waardeer – op verskillende prysvlakke en by ’n verskeidenheid geleenthede.

“Jou mense is jou grootste en belangrikste bate. Konsekwentheid is die sleutel tot sukses, want mense moet die produk kan vertrou en weet wat hulle kry.

“ ’n Kelder is nie ’n fabriek nie en die wyne gaan verskil van oesjaar tot oesjaar, maar die gehalte moet altyd dieselfde bly.”

Hy vertel dat die afgelope 25 jaar ongelooflik was met risiko’s wat geneem is en lesse wat geleer is, maar saam met die uitdagings was daar ook baie hoogtepunte.

“As ek terugkyk, is ek baie gelukkig met waar ons is.

“Die wynbedryf is beslis nie ’n speletjie vir mense wat lig in die broek is nie – dit is ’n harde wêreld, maar dit is ’n bedryf vol uitsonderlike mense wat jou lewe op soveel vlakke verryk.”

Kobus en Mariette Basson vier verlede jaar die dag toe Kleine Zalze as die Platter’s-wyngids se top presterende wynkelder aangewys is.

’n Topklas-span

Een ding waarop Kobus veral trots is, is die Kleine Zalze-span. Hy noem Norman Paulse as voorbeeld.

“Norman is al van die eerste dag af deel van die span toe ons met net sewe werkers begin het! En hy verdien ’n medalje, want hy het onder begin, homself opgewerk en is nou in beheer van die kelderspan.”

Hy sê dat hulle gelukkig is met goeie mense wat goeie werkers is en dat almal eienaarskap neem.

“Al die werkers moet ook hul vreugde en passie kan uitleef. Ek het van die begin af vir almal gesê hulle moet hul werk kan geniet.

Dit is ook vir hom baie belangrik om ’n verskil te maak in die mense wat daar werk se lewe en om hulle vir die toekoms toe te rus met selfs meer vaardighede en geleenthede.

“Ná al die tyd het ek geleer om gefokus te wees, maar ook om mense te kry wat deel in die strewe na uitmuntendheid en wat jou wyn wíl verkoop. Daardie spanne wat jou wyn in die mark bemark, plaaslik en internasionaal, is net so belangrik.

“Suid-Afrikaanse wyn kan meeding met die beste in die wêreld en ons streef daarna om kwaliteit Suid-Afrikaanse wyn op die wêreldrakke te vestig.”

Prestasies

In slegs 25 jaar het Kleine Zalze ’n rits eerbewyse opgeraap. Hier is van die mees onlangse hoogtepunte:

  • Die Platter’s-wyngids se toppresterende wynkelder van 2021.
  • Old Mutual Trofee-wynskou se topprodusent vir 2020.
  • Mundus Vini se beste Suid-Afrikaanse produsent in 2020 en 2021.
  • Sommelier Wine Awards se beste nuwe wêreld-produsent in 2015, 2018 en 2019.


Blik op die toekoms
Jy kan verseker wees van goeie wyn as jy ’n bottel Kleine Zalze koop, want hier word gehalte eerste geplaas.

Volgens Kobus hou die toekoms steeds verandering in en is hulle reeds besig met nuwe wingerdaanplantings.

“ ’n Mens kan nooit op jou louere rus nie! Ons kry nou meer varsheid op witwyne en gaan nou kyk om meer elegansie in die rooiwyne te kry. Ons wil nóg meer uitstaan in ons premiumklas-wyne.”

Die kelder het ook verlede jaar ’n nuwe wynreeks, genaamd Project Z, van stapel gestuur. Hierdie reeks is daar vir die wynmakers om hul kreatiwiteit te gebruik en nuwe style, wynmaaktegnieke en -metodes te toets. Die wyne in die reeks sal elke jaar verskil.

“Die projek gee die wynmakers plek om te speel en iets nuut te doen, maar die bestaande reekse bly net so. Dit is net iets opwindend wat ons byvoeg,” sê Kobus.

Laastens sê hy dat hulle ook kyk daarna om die werkers meer te bemagtig en hul betrokkenheid na nuwe vlakke te neem.

“Ons moet ’n verskil in ons mense se lewe maak en ons het ’n paar interessante projekte in die pyplyn.”


Meer oor:  Stellenbosch  |  Familieplaas  |  Kleine Zalze  |  Wynplaas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.