Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
'n Nuwe sjokolade – pienk sjokolade!

Robyn-sjokolade is nie pienk gekleur nie, dis die produk van ’n nuwe manier van sjokolade maak, skryf Alet Wichmann.

Robyn-sjokolade word erken as die vierde sjokolade naas donker-, melk- en witsjokolade.

e dat sjokolade vervelig kan raak nie, maar vir meer as 80 jaar het daar nooit ’n nuwe sjokoladevariëteit op die mark verskyn nie. Dis nou nadat Nestlé in die 1930’s witsjokolade ontwikkel en begin bemark het.

Maar nou het die Switserse sjokoladereus Barry Callebaut Group die vierde soort sjokolade, robyn-sjokolade (ruby chocolate in Engels), ontwikkel.

Robyn-sjokolade is pienk van kleur, maar daar is geen kleurstowwe bygevoeg nie.

Hierdie robyn-paaseier (70 g) is beskikbaar by Woolworths teen R59,99.

Dit het ook ’n effense suur bessie-smaak, maar daar is geen geurmiddels bygevoeg nie.

Dis alles net die produk van suiwer kakaobone, beloof ’n mediaverklaring op Barry Callebaut se webblad.

Robyn-sjokolade is reeds in September 2017 in Shanghai, China, bekend gestel, maar dit het eers die afgelope paar maande meer geredelik beskikbaar geraak in Suid-Afrika.

Jy kan ’n Kit Kat van robyn-sjokolade koop teen R24,99 by Pick n Pay.

Nestlé het ’n Kit Kat-sjokoladestafie gedoop in robyn-sjokolade bekend gestel. Dis beskikbaar by Pick n Pay.

Vir Valentynsdag kan jy by Woolworths robyn-sjokolade-harte gevul met vonkelwyn (MCC) vir jou geliefde koop. Hulle het ook ’n Paaseier van robyn-sjokolade op die rak.

Die sjefs by die 54 on Bath-hotel in Rosebank maak nagereg met robyn-sjokolade.

Ál meer restaurante gebruik dit ook in hul geregte. Hier in Rosebank, Johannesburg, het ek byvoorbeeld verlede jaar ’n robyn-sjokolade-goudstaaf gevul met karamelmousse by die 54 on Bath-hotel se Level Four-restaurant geëet. Heerlik! Hulle het nou ’n aarbeijellie, rooswater en robyn-sjokolade-panna cotta vir R95 op die nagereg­spyskaart.

Daar is diegene wat voel die produk is nie die titel “vierde sjokoladevariëteit” werd nie omdat dit slegs ’n nuwe manier is om dieselfde bone wat vir ander sjokolade gebruik word, te verwerk. Die meeste verpakking skep die indruk dat ’n “nuwe robyn-kakaoboon” ontdek is. Dis nie waar nie. Tog het die Amerikaanse voedsel-en-medisyne-owerheid voorlopig ’n lisensie toegeken dat dit so bemark mag word.

’n Bietjie geskiedenis
  • Etimoloë kan die woord sjokolade terugspeur na die Asteekse woord xocoatl, wat verwys het na ’n bitter drankie wat van kakaobone gemaak is. Die Asteekse keiserryk was tussen die 1300’s en 1500’s in Mexiko gevestig.
  • Sjokoladedrankies is na Europa gebring deur die Spaanse seevaarder Hernán Cortés. Hy en sy skeepsmaats het dit glo die eerste keer by die Asteke geproe en niks van die bitter drankie gehou nie. Maar nadat dit met suiker of heuning gemeng is, het dit gewild geraak in Spanje.
  • Daar word algemeen aanvaar dat Joseph Fry die eerste sjokoladestafie, of minstens massa-geproduseerde sjokoladestafie, in 1847 gemaak het. Die familiemaatskappy Fry’s Chocolate het ook in 1873 die eerste sjokoladepaaseiers in die Verenigde Koninkryk gemaak. Voor dit was daar minstens al sjokolade-eiers in Frankryk en Duitsland, maar dit was glo nie baie lekker nie.) Bronne: Ancient.eu; museums.bristol.gov.uk; smithsonianmag.com; cadbury.com.au; barry-callebaut.com.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.