Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Paar kostendense vir 2019

Aan die begin van ’n nuwe jaar is dit pret om te kyk na wat voorspel word as witwarm kostendense in die komende maande. In 2019 is daar heelwat tendense om oor opgewonde te raak, van die geure van Afrika tot meer saadbotter in ons dieet.

Volg een van 2019 se kostendense en maak jou eie konfyt.Foto: iSTOCK

Tendense, of dit nou in die mode- of kosbedryf is, kan vlietend en selfs eenvoudig vreemd wees, maar ander is weer baie interessant en maklik om toe te pas in jou eie leefstyl. As ’n mens so ’n bietjie op die internet navorsing doen, is daar heelwat webwerwe met lyste en lyste van kostendense wat vir 2019 voorspel word.

Ek het my eie kortlys van vyf opgestel en is daardeur geïnspireer om vandag se resep te deel.

Botter, met ’n kinkel

Ons het al almal gesien hoe staan neutbotter, van kasjoe tot amandel, die winkelrakke vol. Neutbotter hou egter die gevaar van allergieë in, en daarom voorspel USA Today dat ons in 2019 meer “saadbotter” gaan sien. Botter gemaak van sade soos sonneblom, pampoen en selfs waatlemoen is iets om voor op die uitkyk te wees.

Gesonde vet is oor die algemeen ’n tendens wat voortduur van verlede jaar af, en al hoe meer mense volg die keto- of paleo-manier van eet. Dus is hoë-proteïen-, laekoolhidraat- en gesondevette-diëte steeds “in”.

Die “pegan”-dieet, ’n samevoeging van “paleo” en “vegan” is ook ’n gonswoord as ’n mens op Instagram of Pinterest rondsnuffel.

Selfs al het jy net ’n klein tuintjie of ’n balkon kan jy ’n paar groente self kweek.

Eko-bewuste verpakking

As jy dit nie reeds doen nie, is 2019 die jaar om “nee” te sê vir plastiek, van sakke tot strooitjies en natuurlik ook voedselverpakking. Volgens Forbes gaan meer vervaardigers en verskaffers vanjaar poog om enkelverbruikplastiek te verminder, en daar gaan ’n groter fokus wees op die hergebruik van items.

Volg dié tendens deur vir jou ’n moeseliensakkie of twee aan te skaf van die aanlyn organiese winkel Faithful to Nature (faithful-to-nature.co.za) en koop los groente en vrugte eerder as dié wat vooraf verpak is in kleefplastiek, plastieksakke en polistireen. Koop in grootmaat indien moontlik en neem ook jou eie bakkie saam as jy gaan uiteet vir enige oorskiet pleks daarvan om vir ’n braksakkie te vra.

Proe die geure van Afrika

Geregte, speserye en geurmiddels met hul wortels in Afrika is ’n groot tendens vir 2019 volgens USA Today. Piri-piri van Mosambiek en harissa van Marokko is witwarm en word nou baie gewild in Europa en Noord-Amerika. Veral geregte van Wes-Afrika-lande soos Ghana, Nigerië, Senegal en Mali is iets om dop te hou.

Dié kos is geurig, pikant en vullend en kan ’n mededinger wees vir Indiese kos as ’n gunsteling-wegneem-maaltyd.

Sit dalk jou volgende kerrie of bredie voor met die Wes-Afrika-gunsteling jollof-rys (’n pikante tamatie-rysgereg) en beïndruk jou gaste!

Karla Janse van Vuuren

Peusel, peusel

Volgens Business Insider gaan peuselhappies en mini-maaltye in 2019 al hoe meer fênsie word aangesien baie mense se besige roetines hulle verhoed om drie maaltye per dag te eet, en gaan hulle dus een maaltyd met peuselhappies vervang.

Ons gaan ook al hoe meer happies sien gemaak met bestanddele van hoë gehalte en geskik vir dié wat ’n sekere manier van eet volg. So is daar peuselstafies verryk met klapperolie vir diegene wat die laekoolhidraat-, hoëpro­teïen-, gesondevet-manier van eet volg, asook umami-ryk happies soos “biltong” gemaak van sampioene vir vegetariërs.

Plant jou eie, maak jou eie

Die groot tendens om jou eie groente en vrugte te kweek, en dan daarmee kreatief te raak in die kombuis, duur voort in 2019. Volgens die webwerf Popsugar is ’n groot tendens in 2019 veral om jou eie konfyt te maak. Dit is verspot maklik en verskaf groot satisfaksie as jy die kokende soetigheid in mooi gesteriliseerde flessies skep (boonop is dit uitste­kende geskenkies vir al die verjaardae wat vanjaar voorlê!)

Selfs al het jy net ’n klein tuintjie of ’n balkon kan jy ’n paar groente self kweek.

Goeie opsies is blaarslaai en tamaties wat dan altyd kraakvars uit jou eie tuin in ’n slaai gebruik kan word.

Boonop spaar jy al die verpakking as jy slaai kan gaan pluk pleks om dit te koop.

Tamatieplante is geneig om met oorvloed hul rooi juwele te deel – maak dan soos my ma onlangs en kook jou eie tamatieblatjang – absoluut heerlik saam met kaas en beskuitjies!

Mag 2019 ’n jaar wees van lekker eet en goeie geselskap, of jy nou hierdie tendense volg of nie!

Meer oor:  Kos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.