Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Plaaskuier vir smulpape

Besoekers aan die Groot Plaasproe kan solank ’n nota maak sodat hulle nie volgende maand dié fees vir oud en jonk misloop nie.

Hierdie Stellenbosse fees is nie net vir liefhebbers van die plaaslewe nie, maar ook ’n lekker uitstappie vir die hele gesin.

Terwyl die man(ne) in jou lewe by die Agri-Expo Livestock besig is, kan die res van die gesin weer vanjaar die Groot Plaasproe geniet.

Of jy nou die kinders of vriende saamneem, elkeen sal hier iets vind om te geniet.

Jy kan smul aan plaaskos soos onder meer roosterkoek, wildsvleis en skaapstertjies, en daar is ook verskeie wynstalletjies.

Kuier vanjaar by die Groot Plaasproe en smul aan unieke kombinasies soos bok en bier.Foto: VERSKAF

Iets opwindends om na uit te sien is die unieke koskombinasies wat die fees bied. Vanjaar is Bok&Bier (boerbokvleis en boetiekbier) deel van die aanbiedinge en iets wat jy nie moet misloop nie.

Gewilde stalletjies met onder meer Karoolam-sosaties, wagyu-hamburgers en handgemaakte roomys is ook terug.

Behalwe die ongelooflike proe-ervaring is daar ook meer as 300 plaasdiere wat wag om die kleinspan te ontmoet.

Die hele gesin kan ook saam kyk hoe skaaphonde te werk gaan, en hoe wol gespin en koeie gemelk word.

Verder kan kinders ’n melkbok rondlei, op ’n ponie ry en saam met miniatuurperde en -donkies kuier.

Daar sal ook musiekvermaak deur Die Broers en Wynand & Chereé wees – net die regte klanke vir lekker sokkie en langarm.

Leer ook lyndans saam met 250 lyndansers op die maat van musiek deur Die Wildberries.

Wanneer? Donderdag 11 Oktober tot Saterdag 13 Oktober van 08:00 tot 18:00.

Waar? Sandringham, Stellenbosch.

Kaartjies: R100 vir volwassenes, R30 vir leerlinge en gratis vir kinders onder ses. Leerlinge kry die Donderdag en Vrydag gratis toegang terwyl pensioentrekkers R50 sal betaal. Kry jou kaartjies by Computicket.

Meer inligting: Kontak Agri-Expo by 021 975 4440 of admin@agriexpo.co.za. Besoek ook die webwerf www.diegrootplaasproe.co.za

WEN met jou braaivernuf by die Groot Plaasproe

Staan nader, braai-entoesiaste, want die Groot Plaasproe is op soek na die beste braaibroodjie- en steakbraaiers in die Kaap.

Die braaibroodjiekompetisie, vir tradisionele én gourmet-braaibroodjies, en die steakbraaikompetisie vind albei op Saterdag 13 Oktober plaas.

Deelnemers moet hul eie bestanddele en roosters verskaf. Braaidromme, hout en vuur­aanstekers sal voorsien word.

Voorafinskrywing gee braaiers ook gratis toegang tot die Groot Plaasproe.

Groot pryse is op die spel vir die topdriebraaiers in elke kategorie, insluitend Spar-geskenkbewyse ter waarde van R6 500. Die wenner van die steakbraai-kompetisie ontvang ’n R1 500­geskenkbewys en die wenners van die twee braaibroodjie­kategorieë ’n R750-geskenkbewys elk.

Die braaikompetisies word in samewerking met Die Braai Crew aangebied en die beoordelaars is bekende kospersoonlikhede en -bloggers asook lede van Die Braai Crew.

Wanneer?Die braaibroodjie­kompetisie vind van 12:00 tot 13:00 plaas en die steakbraai-kompetisie van 14:00 tot 15:00.

Inskrywings: Skryf op www.diegrootplaasproe.co.za in. Vir meer inligting, kontak Jacques Jordaan van Die Braai Crew by info@braaicrew.co.za of stuur ’n WhatsApp na 079 553 6767.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.