Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
’n Restaurant vir almal

Met ’n hele klompie wynplase en bekroonde wyne in Durbanville om van te kies, is dit geen verrassing dat meeste van dié plase ook topklas-restaurante huisves.

Die Groot Phesantekraal-restaurant se varklies is dwarsdeur die jaar op die spyskaart met goeie rede: Dit is smullekker. Foto: Verskaf

Of jy soek na kaasborde en pizzas om saam met jou wyn te geniet, fynproewerskos wil probeer, of net saam met vriende of familie wil ontspan voor ’n lekker bord kos – daar is iets vir almal.

Die restaurant by Groot Phesantekraal is altyd ’n gunsteling. Nie net is daar lekker wyn nie, maar die restaurant dien smullekker kos op.

Dís wat jy kan verwag

Die spyskaart is ’n kombinasie van kontemporêre plaaskos en tradisionele kookkuns. Die porsies is dus nie net groot nie, maar ook propvol geur.

Van die gunstelinge soos steak, varklies, lam en die vis van die dag bly altyd op die spyskaart, maar die bykosse wissel afhangend van die seisoen. Daar is ook ander seisoenale veranderinge aan die spyskaart.

Gunstelinge sluit in die varklies (R165) met onder meer aartappel-fondant, ertjiepuree, kool, sitrus en uie. Dié stukkie lekkerte is perfek gaargemaak met die vleis wat sag is en die vel krakerig.

Probeer ook die lynvis-risotto (R165) met groente wat sonder die vis as ’n vegetariese dis dien, of die lam-noisette (R175) met roosmaryn-en-knoffel-geur saam met groente en ’n lamfrikkadel. Vir nagereg is daar wit sjokolade panna cotta of ’n granadilla-tert.

Elke dis op die spyskaart word voorgestel saam met ’n spesifieke wyn, maar jy kan nooit verkeerd gaan met die Sauvignon Blanc 2019, Anna De Koning Chenin Blanc 2017 of die Pino-tage Berliet 2017 nie – wenners op hul eie óf saam met die kos.

Sluit gerus ook by hulle aan vir ontbyt wat ’n vol plaasontbyt, omelette en wafels insluit.

Smul aan pizzas uit die houtoond op Saterdae – ’n heerlike pasmaat vir enige van die wyne. Foto: Verskaf

Ontspan op die gras

Met die restaurant wat slegs vir laatontbyt oop is Saterdae, word die grasperk omskep in ’n witwarm bestemming – veral op warmer dae.

Saterdae kan jy ’n wynproe geniet by die proelokaal waarna jy ’n bottel van jou gunstelingwyn op die gras kan geniet. Daar is tafels en stoele in die koelte én sonskyn.

’n Beperkte spyskaart word ook aangebied vir peusel: ’n kaas- en vleisbord met brood, en pizzas van die hout-pizzaoond. Van die pizza-opsies sluit in ’n pizza met chorizo, bloukaas, peer en mozzarella; en sampioen met feta, rooi-ui, truffelolie en mozzarella.

  • Groot Phesantekraal se restaurant is van Dinsdae tot Vrydae oop vir middagete en van Dinsdae tot Saterdae vir ontbyt. Saterdae kan pizzas en kaasborde op die stoep of grasperk geniet word.
  • Jou kontak: 021 825 0060
Durbanville Hills:

Dié wynplaas se Tangram-restaurant het onlangs drie pryse by die Haute Grandeur Global Restaurant Awards gekry vir onder meer die beste Suid-Afrikaanse kookkuns op ’n internasionale vlak, beste restaurantbestuurder in Suid-Afrika en beste fynproewer-kookkuns in Afrika.

Sien uit na ’n prentjiemooi uitsig vanuit die restaurant en disse wat met die varsste bestanddele gemaak word. Van steak tot seekos en hoender tot eend – die opsies is pure lekkerte.

Die restaurant is oop vir ontbyt, middagete en aandete.

Jou kontak: 021 558 1300

Klein Roosboom:

Die nuwe Jéan-restaurant het gou ’n gunsteling in die omgewing geword danksy die Sondag-familie-middagetes waar die tafels kreun onder lekker kos.

Die spyskaart bevat gunstelinge soos Karoolam, steak en burgers en ook ’n paar ander, interessante disse.

Hulle is oop vir ontbyt, middagete en aandete.

Jou kontak: 079 693 9646

Meer oor:  Kos  |  Restaurant  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.