SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Kos en Wyn
Ná 186 jaar is Jongwynskou nog relevant

Al strek die SA Jongwynskou se bestaan al byna oor twee eeue, is dit nog net so relevant soos daardie eerste een.

Saterdag is die 186ste Jongwynskou asook die 67ste keer dat die Generaal Smuts-trofee aan die algehele wenwyn toegeken is. Die skitterwyne van die 2018-oesjaar is op ’n glansryke gala-aand, wat deur die Agri-Expo aangebied is, in die Stellenbosse Stadsaal bekendgemaak

Al die wenners van die SA Jongwynskou. Altesaam 17 SA kampioen-trofeë, die Generaal Smuts-trofee en die Pietman Hugo-trofee is aan produsente toegeken. Op die foto is die wenners saam met Johan Ehlers (uitvoerende hoof van Agri-Expo) en Christo Pienaar (voorsitter van die SA Jongwynskou) in die agterste ry.Foto: ANDREW GORMAN

As die oudste skou in sy soort ter wêreld het Christo Pienaar, voorsitter van die Jongwynskou, in sy toespraak op die relevansie van die skou gefokus.

“Die Jongwynskou is relevant, want dit is die eerste kompetisie van die jaar waar ons die kwaliteit van die nuwe oesjaar se wyne kan toets,” het Pienaar gesê.

Volgens hom is die skou ’n geleentheid vir wingerdboukundiges om na nuwe opleistelsels en klone te kyk en dit te laat beoordeel, asook na nuwe aanplantings, grond, ryrigtings en meer.

Vir wynmakers is dit ’n geleentheid om nuwe versnitte en kultivars uit te toets en giste te toets en te vergelyk. Hulle kry ook die geleentheid om alternatiewe gebruike in die kelder te toets, soos die gebruik van houtstawe en ander tenks.

“Boonop is dié geleentheid die ideale plek vir wynmakers om mekaar se wyne te toets en sodoende inligting en raad met mekaar te deel,” sê Pienaar.

Hy sê struikelblokke soos die droogte, waterbeperking en selfs ryp was nie gunstig vir die 2018-oesjaar nie. Dit het egter bewys dat klein druiwekorreltjies goeie sap gee en die gehalte van die wyne goed is.

“Dus is die oudste wynskou in Suid-Afrika na 186 jaar steeds baie relevant,” sê Pienaar.

Die beste jongwyne vereer

Bo: Wellington Wyne se gehoute pinotage is vanjaar met die Generaal Smuts-trofee vir die beste wyn van 2018 vereer. Buiten dié hoofftrofee, is hul pinotage ook as die SA Kampioen-pinotage aangewys. Op die foto is die span (agter) Reon Richter met die AI Perold-trofee vir die SA kampioen-pinotage en (voor) Chris Smit, Francois van Niekerk (keldermeester) en Erik van Wyk met die Generaal Smuts-trofee.

Wellington Wyne is Saterdag op die SA Jongwynskou in Stellenbosch as die groot wenner aangewys nadat hy die Generaal Smuts-trofee opgeraap het.

Met sy gehoute pinotage het hy dié gesogte trofee asook die SA kampioen-trofee vir die beste pinotage ontvang.

Orange River Cellars (ORC) Keimoes was ook ’n groot wenner en het vier trofeë ontvang.

Orange River Cellars (Keimoes) was die aand se groot wenner met vier trofeë, onder meer die Pietman Hugo-trofee. Op die foto is Rianco van Rooyen, Johan (Mosdop) Dippenaar en Wouter Loubser.

Hy het die Pietman Hugo-trofee vir die hoogste punte met sy vyf beste inskrywings gewen. Verder het hy die SA kampioen- sauvignon blanc, SA kampioen ander wit kultivar (colombar) en die SA kampioen- witversnitwyn (colombar/sauvignon blanc) opgelewer. ORC Groblershoop is ook vereer met ’n SA kampioen dessertwyn-trofee.

Bon Courage van Robertson het twee SA kampioentrofeë opgeraap vir sy natuurlike soet witwyn én edellaatoes.

Vanjaar se witwyntrofeë is toegeken aan De Wetshof (SA kampioen-chardonnay (gehout)), Spier (SA kampioen- chenin blanc (gehout)) en La Motte (SA kampioen-sémillon).

Wenners van die rooiwyntrofeë is Babylonstoren (SA kampioen- cabernet sauvignon (gehout)), Stellenbosch Hills (SA kampioen- merlot (gehout)), Darling Cellars (SA kampioen-shiraz (gehout)), Le Bonheur (SA kampioen ander rooi kultivar vir gehoute petit verdot)) en die KWV (SA kampioen-rooiversnit vir ’n versnit van pinotage, cabernet sauvignon, shiraz en malbec).

De Krans Wyne is het die SA kampioen port-trofee (vintage) en Slanghoek Wynkelder die SA kampioen-muskadel-trofee (rooi muskadel-jerepiko) ontvang.

Regs: Bennie Howard (ondervoorsitter van die SA Jongwynskou), Johan Ehlers (uitvoerende hoof van Agri-Expo), Hugo Lochner (president van Agri-Expo) en Christo Pienaar (voorsitter van die SA Jongwynskou).

Altesaam 1 680 wyne is vir die wynskou ingeskryf, waarvan  17 wyne met SA kampioen-trofeë vereer is, 49 wyne het klaswenner-status behaal en 99 wyne het gouemedaljes ontvang.

Meer as 130 beoordelaars wat 16 panele opgemaak het, moes die wyne proe om die wenners te kies.

Dit is die tweede agtereenvolgende jaar dat die shiraz-klas die meeste inskrywings ontvang het (152), gevolg deur chenin blanc (149), enige rooi kultivarversnit (143), cabernet sauvignon (129) en sauvignon blanc (126).

Meer oor:  Wyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.