Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
‘Napoleon se drank’ opgeveil

Die Engelse skrywer Jane Austen het dit as die perfekte doepa vir ’n gebroke hart bestempel. Die Franse keiser Napoleon Bonaparte het glo ’n laaste glasie daarvan op sy sterfbed versoek voordat hy die hiernamaals betree het.

’n Bottel Grand Constance van Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, Groot Constantia, word volgende week opgeveil. Dié bottel natuurlike soetwyn se oesjaar is 1821. Foto: Strauss & Co

’n Bottel 1821-Grand Constance, ’n natuurlike soetwyn van Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, Groot Constantia, word volgende week deur die afslaer Strauss & Co. opgeveil.

Gegrond op vorige veilingpryse kan ’n versamelaar na aan ’n halfmiljoen rand vir dié 375 ml-bottel van Napoleon se mees geliefde knertsie opdok.

Die voorveilingsraming vir die 200 jaar oue Grand Constance is luidens die veilingskatalogus tussen R200 000 en R500 000. ’n Soortgelyke bottel Grand Constance van dieselfde oesjaar is in Mei vanjaar vir R420 000 aan ’n Britse versamelaar op die Cape Fine & Rare Wine-veiling in Stellenbosch verkoop.

Daar word bespiegel dat daar wêreldwyd net 12 van die botteltjies soetwyn oor is, elkeen van hulle ’n unieke historiese artefak.

Die wyn is in handgeblaasde glas gebottel en bestaan uit ’n versnit van rooi en wit muskadeldruiwe, sê Higgo Jacobs, Strauss & Co. se wynspesialis.

Die Kaapse wynkenner Michael Fridjhon en sommelier Jean Vincent Ridon het in 2019 die geleentheid gekry om die wyn te proe.

Hulle beskryf dit as “buitengewoon geparfumeer, maar subtiel, met tone van lemoenskil, molasse, piment en versuikerde vrugte”.

Die bottel Grande Constance is besonders omdat daar nie baie ou bottels Suid-Afrikaanse wyn beskikbaar is wat reg geberg is nie, verduidelik Jacobs.

“Die herkoms van die wyn wat ons opveil en hoe dit geberg word, is ontsettend belangrik. Onlangse proetoetse het ook bevestig dat die vinositeit (die karaktereienskappe, kleur en geur van die wyn) aan ons streng standaarde voldoen. Die bottel wat ons opveil, se herkoms is onverbeterlik.”

Die einste 200 jaar oue botteltjie is in 1983 deur die wynlegende wyle Frans Malan van Simonsig op ’n Londense wynveiling gekoop.

Dit is tot nou toe in die Simonsig-wynlandgoed se kelder geberg.

Strauss & Co. se kenners vermoed die bottel is voorheen geberg in die kelder van Apsley House, die tuiste van die hertog van Wellington in die Londense spogbuurt Hyde Park.

Grand Constance was berug daarvoor dat dit die “humeure van ministers kon beteuel en die lippe van koninklikes versoet het”, aldus Groot Constantia se webwerf.

200 jaar gelede is Grand Constance volgens toewysing verkoop en die meeste bottels van die 1821-oesjaar was vir St. Helena-eiland bestem, waar Napoleon tydens sy ballingskap daar glo ’n bottel ’n dag geniet het.

Toe hy dood is, het ’n voorraad van die gesogte wyn op die mark gekom.

Die 200 jaar oue bottel Grand Constance is een van 90 lotte in Strauss & Co. se regstreekse virtuele veiling volgende week getiteld Impression /Expression: from Hugo Naudé to Georgina Gratrix.

Benewens ikoniese Suid-Afrikaanse wyn word Suid-Afrikaanse kunswerke in ’n impressionistiese en ekspressionistiese styl opgeveil. Ander hoogtepunte sluit in Hugo Naudé se Namaqualand Flowers and Quiver Tree, skilderye van Kaapse impressioniste soos Gwelo Goodman en Pieter Wenning en staatmakers soos JH Pierneef en Irma Stern.

Die kunswerke kan tot Dinsdag 14 September by Strauss & Co. se hoofkantoor in Houghton, Johannesburg, besigtig word.

Vir meer inligting of om te registreer, besoek www.straussart.co.za.

Meer oor:  Napoleon Bonaparte  |  Drank  |  Bie  |  Opgeveil
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.