Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
‘Napoleon se sopie’ haal miljoen
’n 375 ml-bottel 1821-Grand Constance, ’n natuurlike soetwyn van Suid-Afrika se oudste wynlandgoed, Groot Constantia, is gisteraand vir R967 000 opgeveil.

'n Anonieme koper het gisteraand amper R1 miljoen betaal vir ’n bottel natuurlike soetwyn van Suid-Afrika se oudste wynlandgoed.

Die 375 ml-bottel 1821-Grand Constance van Groot Constantia is op ’n eksklusiewe regstreekse aanlyn veiling van die afslaer Strauss & Co vir R967 000 opgeveil. Dit beteken een 60 ml-sopie kos ongeveer R161 166.

“Die pryse wat die Suid-Afrikaanse wyne op vanaand se veiling behaal het, getuig van ons land se wyn se skaarsheid en geskiedkundige agtergrond,” het Frank Kilbourne, Strauss & Co se voorsitter, Dinsdagaand kort ná die veiling gesê.

Dis nie net die Grand Constance wat ’n uitskieter was nie. Wyne ten bedrae van altesaam R1 274 560 is opgeveil.

Die eerste lot van die aand, ’n bottel 1957-Chateau Libertas – ’n rooiwynversnit van cinsaut, cabernet sauvignon en pinotage – se voorveilingsberaming was sowat R25 000.

Ná ’n vurige mededingende sessie het die afslaer, Alastair Meredith, sy hamer op R80 000 laat val. Die finale prys was R91 040, as die afslaer se kommissie bygereken word.

Higgo Jacobs, Strauss & Co se wynspesialis, het bevestig dit is ’n wêreldrekord vir ’n Suid-Afrikaanse rooiwynversnit – die hoogste prys nog wat vir dié soort wyn op ’n kommersiële veiling betaal is. Dit het die stemming van die res van die aand gestel.

Die bieëry op die bottel Grand Constance het ook vurig begin. Ten tyde van die lot se sessie was daar meer as 200 deelnemers aan die veiling.

Die wêreldrekord van R420 000 wat vroeër vanjaar behaal is by die Cape Fine & Rare Wine-veiling in Stellenbosch, is sommer blitsvinnig verbygesteek.

Uiteindelik het die anonieme bieër die hamer op R850 000 laat val. Saam met die afslaer se kommissie is die finale prys R967 300. Dit is ’n wêreldrekord, die meeste wat nog vir ’n bottel Grand Constance en ’n Suid-Afrikaanse wyn betaal is.

Die eerste lot van die aand, ’n bottel 1957-Chateau Libertas – ’n rooiwynversnit van cinsaut, cabernet sauvignon en pinotage – is vir R91 040, saam met die afslaer se kommissie, verkoop.

Grand Constance-soetwyn het beroemdheid verwerf as die Franse keiser Napoleon Bona­parte se mees geliefde knertsie en is 200 jaar gelede slegs volgens toewysing verkoop. Die meeste bottels van die 1821-oesjaar was vir St. Helena-eiland bestem waar Napoleon tydens sy ballingskap daar glo ’n bottel ’n dag geniet het. Die Franse keiser het glo ’n laaste glasie daarvan op sy sterfbed versoek voordat hy die hiernamaals betree het.

Ná sy dood het ’n voorraad van die gesogte wyn op die mark gekom.

Die wyn wat gisteraand verkoop is, is gebottel in ’n handgeblaasde glasbottel en bestaan uit ’n versnit van rooi en wit muskadeldruiwe, sê Jacobs.

Daar word bespiegel dat daar wêreldwyd net 12 van die botteltjies soetwyn oor is, elkeen van hulle ’n unieke historiese artefak.

Die einste 200 jaar oue botteltjie is in 1983 deur die legendariese (wyle) Frans Malan van Simonsig op ’n Londense wynveiling gekoop en is tot nou toe in die Simonsig-wynlandgoed se kelder geberg.

“Vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is dit ’n ongelooflik belangrike oomblik,” sê Kilbourne.

“Dit is ’n feit dat Suid-Afrikaanse wyn ’n sterk geskiedkundige grondslag het. Dit bevestig ook kontemporêre Suid-Afrikaanse wyne se waarde en erfenis, en beklemtoon die agtergrond van ons wyngeskiedenis.

“Die pryse getuig daarvan dat internasionale kopers bereid is om groot geld uit te haal vir Suid-Afrikaanse wyne. Versamelaars besef nou die waarde van dié items as gesogte beleggings,” meen hy.

Die vyf wyne wat op gisteraand se Strauss & Co-veiling verkoop is, verteenwoordig 574 jaar van Suid-Afrikaanse wyngeskiedenis.

Benewens die Grand Constance en Chateau Libertas is ’n botteltjie 1987-Vin de Constance van Klein Constantia vir R34 140, ’n bottel GS 1966 Cabernet van befaamde wynmaker George Spies vir R91 040, en ’n bottel Jaubert Family Muscat d’Alexandrie 1800, Suid-Afrika se oudste lewende wyn, vir R91 040 verkoop.

Meer oor:  Napoleon  |  Grand Constance  |  Soetwyn  |  Geskiedenis  |  Veiling
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.