Dis ’n nuwe era vir sauvignon blanc in Suid-Afrika nadat dié druifsoort se groep verlede week groot veranderings aangekondig het om te help met die bevordering van sauvignon blanc.
Die Sauvignon Blanc Belangegroep (SBIG) sal voortaan as Sauvignon Blanc Suid-Afrika bekend staan en het saam met die naamverandering ook ’n splinternuwe logo gekry.
Hierdie druifsoort is ’n belangrike deel van Suid-Afrika en is die derde grootste witdruif-aanplanting in die Kaapse Wynlande. Dit is ook een van die land se mees gewilde druifsoorte – 40% van alle witwynverkope is sauvignon blanc.

Die nuwe logo van Sauvignon Blanc Suid-Afrika.
“Die vorige benaming as SBIG het nie ons boodskap sterk genoeg beklemtoon nie. Nou sal enigeen in die wêreld weet waarvoor ons staan en waar ons vandaan kom.
“Die verandering het ons saak met vars energie versterk. Hieronder is gesprekke rondom Sauvignon Blanc-dag 2020 en Concours Mondial du Sauvignon 2021 wat reeds aan die gang is, en ons is baie opgewonde oor dié vooruitsigte,” sê RJ Botha, Sauvignon Blanc SA se voorsitter.
Volgens hom is die veranderinge al lank op die horison. Dit sluit ook die aanstel van ’n nuwe bemarking-en-ondersteuningagentskap in. Agri-Expo, die gevestigde landbousektor promosie- en bemarkingsmaatskappy, is aangestel om die daaglikse bestuur oor te neem.
Die hulp van die wynnavorser dr. Carien Coetzee van Basic Wine, wat ’n reeks eksklusiewe tegniese verslae skryf, is ook ingeroep en lede van die groep sal toegang tot haar insigte hê. Sy het ’n PhD Agric (wynkunde) van die Universiteit Stellenbosch, sy was deel van die International Sauvignon Blanc Celebration in Nieu-Seeland en sy dien op die proepaneel van die Concours Mondial du Sauvignon internasionale wynkompetisie.
Nog veranderinge sluit in die herontwerp van die webtuiste (sauvignonblanc.com).
“Die vorige bestuurskomitee het die afgelope agt jaar ’n stewige fondament gelê, met ondersteuning van onskatbare waarde van mense soos die promosie-dinamo Elsabe Ferreira.
“Die nuwe span sal voortbou op hierdie sukses, met die oog daarop om nog meer geleenthede vir ons lede én vir Suid-Afrikaanse sauvignon blanc te skep,” sê Botha.
Om nog meer erkenning aan die druifsoort te gee, word die FNB Sauvignon Blanc Top 10-kompetisie steeds elke jaar aangebied.
Dié kompetisie is in 2007 gestig om die produsente van uitstaan sauvignon blanc-wyne te vereer. Dr. Winifred Bowman, Kaapse wynmeester en ervare wynbeoordelaar, is die paneel-sameroeper hiervan.
Die Sauvignon Blanc SA se komiteelede is die voorsitter RJ Botha (Kleine Zalze), ondervoorsitter Thys Louw (Diemersdal), Carien Coetzee (Basic Wine), JD Pretorius (Warwick), Lukas Wentzel (Groote Post), CP Conradie (Conradie Penhill), Emul Ross (Hamilton Russell) en Daniel Keulder (Nitida).
- Inskrywings vir die FNB Sauvignon Blanc Top 10 open einde Julie. Beoordeling sal van 3 tot 6 September plaasvind en die wenners word op 9 Oktober aangekondig.
- Besoek sauvignonblanc.com of skakel 021 975 4440 vir meer inligting of om in te teken op die Sauvignon Blanc SA-nuusbrief.
- Volg die groep op Twitter as @SauvignonSA en op Facebook en Instagram as @sauvignonblancsa.