Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Nuwe kampioene dra shiraz-kroon

As jy gewonder het watter winterwyne om die kas mee te vul vir knus aande voor die kaggel, het die Shiraz-uitdaging die antwoord vir jou.

Die wenners van die sewende Shiraz-uitdaging is verlede week tydens ’n spoggeleentheid by Ashanti in die Paarl aangekondig en daar is nou 15 wyne wat jy hierdie winter kan geniet.

Minki van der Westhuizen was die seremoniemeester.

Die wenners van vanjaar se Shiraz-uitdagingpryse spog met hul trofees en sertifikate. Voor van links is Grant Newton (Eikendal), Charl du Toit (Driehoek), Minki van der Westhuizen, Andri le Roux (KWV) en Louwritz Louw (KWV). In die tweede ry is Edmund Terblanche (voorsitter Shiraz SA), Rolanie Lotz (Rhebokskloof), Jackie Rabe (Strandveld), Johan Conradie (Vinventions Suid-Afrika) en Jacques Maree (Quoin Rock). In die derde ry is Klaas Stoffberg (Babylonstoren), Marina Laubser (Babylonstoren), Mia Boonzaaier (Flagstone) en Monique Fourie (Stellenview). In die agterste ry is Francois van Niekerk (Wellington Wines), Riaan Marais (Alvi’s Drift) en De Wet Viljoen (Neethlingshof). Foto’s: ANDREW GORMAN

Die 12 shiraz-kampioene én die topdrie shiraz-versnitte is by die prysgeleentheid aangekondig.

Die top12-shiraz-wenners vir 2019 is: Babylonstoren Shiraz 2017, Neethlingshof Shiraz 2015, Bellingham The Bernard Series Basket Press Syrah 2016, Quoin Rock Shiraz 2015, Driehoek Shiraz 2017, Rhebokskloof Black Marble Hill Syrah 2016, Driehoek Shiraz 2016, Kruger Family Reserve Shiraz 2016 (Stellenview), Flagstone Dark Horse Shiraz 2015, Strandveld First Sighting Shiraz 2017, KWV Cathedral Cellar Shiraz 2016 en La Cave Shiraz 2017 (Wellington Wines).

Edmund Terblanche, Shiraz SA se voorsitter, en Minki van der Westhuizen, vanjaar se seremoniemeester.

Die drie shiraz-versnit-wenners is: Alvi’s Drift Albertus Viljoen Bismarck 2017, Babylonstoren Babel 2017 en Eikendal Charisma 2017.

Benewens vir die bogenoemde wenners is die KWV ook vanjaar spesiaal vereer omdat hulle vir die afgelope sewe jaar elke jaar ’n wenner in die kompetisie gehad het. Babylonstoren is ook vereer oor dit die tweede jaar is wat hulle ’n shiraz- en versnit-wenner lewer.

Volgens dr. Andy Roediger, die sameroeper van die beoordelaarspaneel, het die voortgesette pas waarteen die inskrywings se gehalte jaarliks groei, die beoordelaars beïndruk. Hy is ook ’n Kaapse Wynmeester wat die afgelope ses jaar reeds die voorsitter van die uitdaging se paneel is.

“Al die wyne se kwaliteit was beter en dit wil voorkom asof die wynmakers hul hout-praktyke onder die knie het.

“Baie min wyne was swaar gehout – ’n neiging waarvan daar ál meer wegbeweeg word. Dit wil voorkom asof Oos-Europese eikehout al hoe meer die keuse bó Amerikaanse eikehout word en dit lei tot meer speseryagtigheid.

“Die jongste oesjare het ’n soeter vrugtigheid. Die wynstyle is ook op ’n jonger ouderdom meer toeganklik. Die wyne is elegant; vertoon vrug-suiwerheid en gebalanseerde hout-gebruik,” sê Roediger.

Meer oor die kompetisie

Altesaam 207 wyne, waarvan 36 versnitte is, is vanjaar vir die kompetisie ingeskryf en die inskrywings het vanuit elke wynstreek gekom.

Saam met Roediger was die res van die paneel as volg: Edmund Terblanche (Shiraz SA-voorsitter en La Motte se keldermeester), Charles Hopkins (De Grendel se keldermeester), Samarie Smith (Benguela Cove), Elsie Pells (Kaapse Wynmeester) en Jeanne-Marie de Villiers (wynkonsultant en plaaslike beoordelaar).

Claus Fischer van Duitsland was ook deel van die paneel – hy is onder meer die hoof-kwaliteitstegnikus vir die internasionale maatskappy Vinventions.

De Grendel se intern Morgan Steyn, ’n protégée onder mentorskap van die uitgelese Kaapse Wynmakersgilde, was ook deel van die paneel.

Die hoofborg van 2019 se Shiraz-uitdaging was Vinventions, met bydraes van Nederburg (waar die beoordeling tradisioneel plaasvind), die sagteware- en ondersteuningsverskaffer Wine MS en die Exceed-groep, wat toesig hou oor die beoordeling en ook sorg vir die oudit van die resultate.

Shiraz SA is in 2008 gestig en is ’n lede-organisasie wat SA shiraz-produsente verteenwoordig. Dit is die grootste kultivar-organisasie en het meer as 230 lede.

Vanjaar se wenwyne van die top12-shiraz én die top3-shiraz-versnitte van die Shiraz-uitdaging 2019.
Meer oor:  Shiraz-Uitdaging  |  Paarl  |  Kos En Wyn  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.