Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Nuwe planne en produkte: Kook en proe aanlyn

Creation Wine Estate se proeboks.
Selfs in ’n tyd wat dit voel asof die lewe stilstaan, stel verskeie ondernemings nu­we planne, idees en produk­te bekend. Hier is ’n paar.

Asof jy aansit in ’n restaurant

Uiteindelik mag jy weer aansit by jou gunsteling-restaurant . . . onder streng voorwaardes, soos dat jy nie ’n glasie wyn saam met jou ete mag geniet nie.

As jy steeds liewer tuis wil eet én restaurantkos geniet, bied UCook vir jou ’n heerlike alternatief.

Elkeen wat kan, moet natuurlik ’n restaurant ondersteun. Maar as jy steeds liewer tuis wil eet én restaurantkos geniet, bied UCook vir jou ’n heerlike alternatief. UCook for Restaurants is ’n inisiatief om restaurante te ondersteun. Hulle lewer soos altyd jou boks vol bestanddele af. Jy berei dit dan voor op ’n afgespreekte aand, terwyl die sjef aanlyn aanwysings gee. “Kykers sal kan vrae vra, wenke kry en die sjef se kook-persoonlikheid beleef,” vertel David Torr, UCook se uitvoerende hoof.

Volgende week kan jy eendborsies met ’n soetsuur appelliefie-sous kook saam met Franck Dangereux van The Foodbarn in Noordhoek. Daarna kom Reuben Riffel van Jerusalem (14 Julie) en Daniel Toledo van Il Leone Mastrantonio (21 Julie) aan die beurt. ’n Deel van die winste word direk aan die restaurant oorbetaal.

Boland Kelder het ’n nuwe lae­alkohol-wynreeks.
Skink ’n glasie op die bye

Selfs voor die inperking het alkoholvrye- en lae-alkohol-drankies al hoe gewilder geword. Nou het Boland Kelder ook hul Melita-reeks met twee lae-alkohol-opsies, ’n Chenin Blanc en Pinotage, bekend gestel. Albei bevat 8% alkohol.

Jy ondersteun ook die kelder se nuwe bye-inisiatief deur ’n bottel te koop. ’n Gedeelte van die winste gaan aan die Boland Bome vir Bye-program om spesifiek bome te plant wat stuifmeel aan bye verskaf.

Wynproe saam met ’n meester

Jy mag nog nie weer van plaas tot plaas gaan wynproe nie, maar dit beteken nie jy kan nie jou palet uitdaag en meer leer oor nuwe wyne nie.

Creation Wine Estate van die Hemel-en-Aarde-vallei buite Hermanus het ’n proe-boks met ses van hul wyne saamgestel wat jy dan tuis, via ’n aanlyn sessie, saam met een van hul wynkenners proe. In die boks is ses klein bottels (50 ml) met Creation se Estate Pinot Noir, Estate Chardonnay, Sauvignon Blanc, Grenache Noir Viognier, Syrah-Grenache en Estate Merlot. Dit kos R425 en word gratis afgelewer.

Foto’s van die tye

Die RMB Turbine Art Fair vind vanjaar vir die agtste keer plaas. Dié keer virtueel. ’n Spesiale projek is Stilled Life, ’n reeks van 100 foto’s wat die tye van die Covid-19-pandemie uitbeeld. Enigeen kan foto’s instuur en die bestes sal uitgestal en opgeveil word. Strauss & Co hanteer die veiling en die winste word geskenk aan die Business and Arts South Africa-hulpfonds. Besoek zealous.co/turbineartfair om in te skryf. Inskrywings sluit 19 Julie.

Nuwe inspirasie

As jy op soek is na maklike resepte wat jy hierdie week kan maak, besoek gerus Food24 (www.food24.com) se nuwe webtuiste. Daar’s ’n 18 jaar lange argief van meer as 15 000 resepte en 7 000 kosartikels, so jy sal beslis iets vind wat in jou gesin se smaak val.

Besoekers aan die webtuiste kan nou hul soektog verfyn deur te kies uit ’n lang lys opsies, soos byvoorbeeld die kategorie, die tipe dis, die grootte van die porsie, die tyd wat dit sal neem om voorberei te word, dieetkundige voorkeure of slegs braairesepte.

Meer oor:  Idees  |  Produkte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.