Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Nuwe reserwereeks van Bellevue beslis ’n wenner

In die Stellenbosch-wynland is Bellevue sinoniem met pinotage, maar met hul nuwe wynreeks wys hulle dat hulle ook kenners in ander velde is.

Hul nuwe reserwereeks is onlangs aanlyn met ’n Zoom-vergadering bekend gestel en bestaan uit ’n chardonnay, cabernet sauvignon, ’n Bordeaux-versnit Tumara, en natuurlik ’n pinotage.

Hierdie wynlandgoed spog met van die oudste wingerdblokke in die land en wat hulle met dié wingerde maak, is voorwaar produkte om op trots te wees.

Die wynmaker Wilhelm Kritzing­er het onder meer vir die proe en bekendstelling ’n liedjie vir elke wyn gekies wat meer van die wyn verduidelik.

Die Bellevue Chardonnay Reserve 2019 (R209) is vatverouderd en spog onder meer met die mineraliteit en smake van sitrus. Dit kom van wingerde wat 23 jaar oud is en die wyn bring 12 maande in verskillende Franse eikehoutvate deur. Kritzinger sê “Sensitive Kind” van JJ Cale is sy keuse van liedjie vir hierdie wyn.

Vir die eerste keer het Bellevue ook Stellenbosch se staatmaker-druifsoort, cabernet sauvignon, gebruik om hul eerste enkeldruifsoortwyn hiervan te maak.

Die Reserve Cabernet Sauvignon 2018 (R220) se druiwe is in 1991 aangeplant.

Die wyn is vrugtig, sappig en wys mooi die vrug se potensiaal en lekkerte. Dit bring twee jaar in houtvate deur en lewer ’n goed gebalanseerde wyn. Die liedjiekeuse hiervoor is Nirvana se “About a Girl”.

As dit by pinotage kom, weet die span reeds wat om te doen, so die Bellevue Reserve Pinotage 2016 (R220) is natuurlik lekker. Dit is ’n tipiese pinotage met diep rooibessiegeure en ’n tikkie koffie en ’n bietjie rokerigheid op die nasmaak.

Die pinotage-wingerd staan op ’n verskeidenheid van grondtipes op die plaas en is in verskillende jare geplant, wat beslis vir ’n kompleksiteit in die wyn sorg. Dit bring ook oor twee jaar in Franse eikehoutvate deur. Bruce Springsteen se “Tougher Than the Rest” is deur Kritzing­er gekies om die wyn te beskryf.

Laastens is die Tumara 2018 (R235), ’n versnit van cabernet sauvignon, malbec, petit verdot, merlot en cabernet franc.

Hierdie Bordeaux-versnit is vernoem na die arabiermerrie op die plaas.

Elke druifsoort gaan deur sy eie fermentasie, waarna die versnit saamgestel word en die wyn weer tyd in vate deurbring.

Die wyn is ’n wonderlike versnit met cabernet sauvignon wat voorvat en die ander druifsoorte wat dit goed komplementeer en struktuur verleen – ’n mooi balans tussen al die druifsoorte. Vir die versnit is “Six Blade Knife” van Dire Straits gekies.

Om ’n gunsteling tussen al die wyne te gekies het, was moeilik. Vir my het die pinotage en chardonnay uitgestaan, maar die ander twee is wyne wat ek steeds elke dag wil drink. Jy kan nie verkeerd gaan met een (of twee of almal) van hierdie wyne op jou tafel en in jou glas nie.

Bellevue het beslis oortref met hul reserwereeks.

Meer oor:  Stellenbosch  |  Bellevue  |  Chardonnay  |  Wyn  |  Pinotage
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.