Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
O patat, dis Moedersdag!

Ma Babs was nog haar hele lewe lank lief vir gesonde kos en vir die koninklike knolgroente patat. Sy kook dit heel in ’n potjie tot gaar, sny dit in skyfies, gooi ’n bietjie soet kaneel oor en eet dit dan net so met skil en al. Sonder botter. Sonder sout. Geen wonder haar 87-jarige lyfie is so sterk nie. Babs is tans in ’n rehabilitasiesentrum (nadat sy haar been gebreek het) en soos my niggie Nannie uit Vanwyksdorp laat weet het: “Dit is ’n absolute wonderwerk vir iemand van haar ouderdom en met so ’n besering om so goed te doen. Daar is hoop vir ons met dieselfde gene.”

Anél en haar ma, Babs Potgieter.

Hoe oud is die patat?

Die patat is ’n bietjie ouer as Babs, want volgens wetenskaplike berekeninge strek dié familie se voorouers tot so 800 000 jaar terug. Dit is baie gesond en maklik om te kweek en het oor die eeue heen die mensdom aan die lewe gehou. Wat ook interessant is, is dat die Ipomoea batatas soeter word nadat jy dit gepluk het.

Patats moet nie in die yskas gehou word nie.

As jy meer wil weet oor die DNS van dié groentesoort, gaan lees gerus die hele geskiedenis op Current Biology wat onlangs ’n verslag gepubliseer het met die titel “Reconciling Conflicting Phylogenies in the Origin of Sweet Potato and Dispersal to Polynesia”.

Gesonde patat

Die patat is baie gesond en ’n goeie bron van koolhidrate, maar dit is ’n koolhidraat waarvan jy gerus meer kan eet. Dit is vetvry, bevat geen cholesterol nie en die glusemiese indeks (GI) is lekker laag, so dit hou jou langer versadig. Patats is ook hoog in vesel, wat jou verder versadig sal laat voel en as jy patats met die veselryke skil eet, is dit nog beter.

Patatseisoen

Patat is ’n groente wat ons heeljaar kry, maar dit is ’n herfs- en wintergroente en dus nou meer seisoenaal.

Hoe lank kan jy patats stoor?

Onder gunstige omstandighede (koel en droog), kan jy die patat tot tien maande lank stoor sonder dat dit bederf of afneem in voedingswaarde. Patats moenie in die yskas gehou word nie, want die koue sal die stysel afbreek en die geur en tekstuur van die patat verander.

Foto’s: Anél potgieter

Kweek so jou eie patats

In die tydskrif Tuis skryf hulle: Patats is nie ideaal vir klein tuine nie omdat dit so wild rank, maar as jy ruimte het, plant patatranke tussen Oktober en Desember. Koop dan ’n gesonde patat by die supermark, en plant dit in klam grond. Hou klam. Dit loop vinnig uit, en binne twee maande kan jy steggies sny van die lote se bopunte. Sorg dat daar minstens drie ogies vir onder die grond en twee vir bo die grond is. Sny die stingel net onder die vyfde ogie af en sorg vir sowat 2,5 cm bo die boonste ogie. Maak die grond goed nat en plant die lote die volgende dag ten minste 60 cm uitmekaar. Dit sal binne drie weke begin groei. Moet nie te veel water gee nie – net so een keer per week. Patats word dan dié tyd van die jaar geoes.

Leipoldt se gestoofde patats met skaapstertvet

Die geur van ’n gebakte patat met kaneel en botter is vir my koester-kos. Leipoldt se gestoofde patatresep lees ’n bietjie anders: “Skil vier jong, klein patats, sny in stukke en plaas in soutwater (hy sê nie hoe lank nie). Haal uit en maak versigtig droog. Plaas in ysterpot met ’n groot homp skaapstertvet, ’n doppie heuning, bietjie gesifte koekmeel, ’n sprinkel kaneel, ’n mespunt foelie en ’n bietjie sout oor. Gooi ’n koppie kookwater by en laat dit baie stadig prut terwyl jy die pot skud – nie roer nie, want die patats moet heel bly.”

Ek het juis ’n vet skaapstertjie van die Karoo in my vrieskas en gaan die resep een van die dae probeer.

Patat-en-grondboontjie-koekies met lemmetjie en koljander

Ek het ’n bietjie in die internasionale sjef Yotam Ottolenghi se resepteboeke gaan inspirasie soek om my patats op te kikker. Alhoewel patat gewoonlik saam met warm speserye soos komyn, kaneel, neutmuskaat en gerookte paprika in die kombuis dans, het die lemmetjie, koljander en gemmer die patat ’n heerlike swierige, vars draai laat maak.

Dankie, Babs, dat jy my lief gemaak het vir patats, dat ek jou nog ’n klapsoen en druk op Moedersdag kan gee en vir my sterk Kleynhans-DNS. Lank sal ons lewe!

Gelukkige Moedersdag

Anél

lifeisazoobsicuit.com | anelpot@telkomsa.net

Patat-en-grondboontjie-koekies met lemmetjie en koljander

Maak 15 koekies

Nota: Onthou om ’n kleefwerende pan te gebruik. Maak net so vier op ’n slag gaar (die patat is nie te styf nie en jy het ruimte nodig om dit om te draai) en die jogurt is ’n baie belangrike element om die gereg se geure te balanseer.

700 g soetpatat, heel en ongeskil

5 ml sout

80 g gesoute grondboontjies, fyngemaak in voedselverwerker (ek het my pepermeul gebruik)

1 groen rissie, fyngekap

4 grasuie, fyngesny

5 cm vars gemmer, gerasper

20 g vars koljander, grof gekap

60 ml meel

1 lemmetjie, skil gerasper en sap uitgedruk

45 ml olie, vir braai

125 ml dik, gewone jogurt

ekstra vars grasui, fyngekap

ekstra vars koljander, grof gekap

1 lemmetjie, in kwarte gesny

Voorverhit die oond tot 220 °C. Bak patat vir 45-60 min. of tot sag en gaar. Haal uit oond en laat afkoel. Sny in die helfte, skep die vleis uit en druk fyn met ’n vurk. Jy moet omtrent 500 g patat hê. Meng die res van die bestanddele saam met die patat. Met effense nat hande maak koekies en bak in olie. Braai so vier (moet nie meer probeer nie, ek het en dit het nie gewerk nie) op ’n slag in olie oor matige hitte vir so twee tot drie minute aan elke kant of tot goudbruin aan albei kante. Plaas op papierhanddoek om te dreineer.

Bedien warm met ’n skeppie jogurt, grasuie, koljander en lemmetjie.

Meer oor:  Resepte  |  Patat  |  Resep  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.