Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
O, wee! O, nee! Daar waai ons drank toe al weer!

Ná ’n drankverbod wat soos jare gevoel het, was daar vreugde in die drankbedryf toe verkope, aflewerings en drankwinkels weer kon terugkeer na normaal. Dit was egter van korte duur.

Slegs ses weke ná die verbod gelig is, het die tweede een ons soos emmer koue water in die gesig getref – of sal ek sê ’n loesing met die tong met komplimente van die president.

Foto: istock

Alhoewel aanlyn verkope goed gedoen het tydens én na die verbod, was dit nie genoeg om die bedryf te red nie en nou moet die bedryf wéér swaarkry.

Ek lees aanlyn dat daar ná die eerste verbod geraam is dat byna 80 kelders en 350 wyndruifprodusente hul ondernemings binne die volgende jaar sal sluit. Wat beteken feitlik 18 000 mense kan hul werk verloor. Boonop het die bedryf sowat R3 miljard verloor tydens die vyf weke lange inperking – om nie eens te praat van die belastinginkomste wat ons land verloor het nie.

Waar gaan die syfer hierdie keer draai? As die wynbedryf 300 000 mense in diens het, kan jy net dink. En ons praat nog nie eens van die bier- en spiritusprodusente nie.

n Mate van verstaan

Wel, Poppie is nie ’n onredelike vrou wat heeldag wyn drink nie en kan ook die ander kant van die saak insien.

Om hospitaalbeddens beset te hê met drankverwante beserings terwyl daar pasiënte met Covid-19 is, is natuurlik ’n groot probleem en kan tot mense se dood lei.

Hospitaalbeddens moet tydens hierdie pandemie versigtig uitgedeel word om seker te maak dat mense se lewens gered kan word.

Die regering moet egter besef dat werksverliese ook tot sterftes lei weens honger, depressie en baie ander faktore. Mense se lewensaar word “afgesny” as hulle werkloos is, nie letterlik nie, maar figuurlik.

Die afname in traumagevalle tydens die eerste drankverbod kan ook nie noodwendig toegeskryf word aan die verbod op alkohol nie, want die regering moet onthou: feitlik almal was veilig tuis en min voertuie was op die pad. Padongelukke is ook ’n groot bron van kommer in Suid-Afrika wat tot trauma-insidente lei.

Tot die lig aan die einde van die tonnel sigbaar is, het Poppie ongelukkig nie goeie nuus om te deel nie. Juis daarom is hierdie rubriek geskryf met meer woede as die normale trant van humor.

Asseblief, mnr. die president! Help die drankbedryf met ’n beter oplossing as ’n totale verbod. Jy het miskien nie drank nodig nie, maar die bedryf het jou nou nodiger as ooit.

  • Poppie Borrels is ’n kenner en drinker van wyn wat maandeliks haar opinie met Versnit deel. Stuur ’n e-pos aan versnit@dieburger.com gemerk “Poppie Borrels” as jy haar iets wil vra.
Meer oor:  Wyn  |  Wynbedryf  |  Drankverbod  |  Versnit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.