Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Om-nom-nomop N1 langs

Kos is meer as net petrol vir ons pense. Dit verklap iets van die eter. En dis ook ’n bewys dat biltong eet ook die myle van die langpad opeet. Of so beweer Leon-Ben Lamprecht.

reis, eet,

Reis, so lui die ou cliché, gaan oor meer as net die bestemming. Dis ook in die hoe jy daar kom en bla-bla-bla.

Die ding is, natuurlik, dat iets ’n cliché is om ’n rede: omdat dit ’n brokkie waarheid saamdra. Dink maar aan ander clichés. Soos byvoorbeeld dat ’n politikus lieg as hy sy mond oopmaak. Maar ek dwaal af.

Die punt is: Reis gaan oor meer as net van Putsonderwater tot PE beweeg. Dis ook in die hipnotiserende landskap tussenin. Of die praatjies oor RSG of musiek wat jy luister. Of die bakleiery van jou kinders op die backseat. Of hoe iemand wil gaan piepie net wanneer jy op die verste moontlike punt van ’n Shell One Stop is. En les bes, wat jy eet as jy ry.

Ek sal ruiterlik erken ek is ’n pad-eter. Min dinge is darem so heilsaam en heerlik soos ’n stukkie biltong met geelvet as jy iewers in die Karoo tussen byvoorbeeld Carnarvon en Loxton ry.

Want, jy weet, Karoo-windpompe getuig dalk soos bakens van lewe dat die gestrooptheid wel mense (en merino’s) huisves, en dis mooi, maar ná honderde kilometers daarvan raak dit ’n bietjie soos ’n Liewe Heksie-liedjie: Dit bly op een noot.

Die oplossing is gedeeltelik eet. Padkos weer verveling af. Padkos hou jou wakker. Padkos laat myle verdwyn. Padkos hou die kinders se monde met iets anders as baklei besig. (Hoewel dit soms weer tot bakleiery lei want “Sussa het meer biltong as ek gekry”. Hulle sê mos ’n sib is iemand vir wie jy jou nier sal gee, maar nie jou laaste Kit-Kat-vinger nie.)

Die reëls

Dit is egter so dat nie alle padkos uit dieselfde lap gesny word nie. Daar is minstens drie, nee, vier eienskappe waaraan enige padkos met ’n sweempie selfrespek moet voldoen. Vir duidelikheid: Dis nou vir ry-en-eet-padkos.

Vir eers moet dit maklik met een hand geëet kan word. Dis veral kritiek as jy die bestuurder is. Ek meen, waterblommetjiebredie is heerlik, maar tensy jy daai heilsaamheid in ’n skilferkors gaan skink en as pastei aanbied, het dit geen plek by ry-en-eet nie.

In die tweede plek: Dit moet verkieslik nie ’n morsige affêre wees nie. Pasteikrummels is verskoonbaar, maar niemand wil ná tien lang ure op die pad met tamatiesousvlekke op sy kortbroek by sy bestemming aankom nie.

’n Piepieplek is ook van kardinale belang.

Die derde ding van belang is verskeidenheid. My pa sê altyd “pasop vir enige te, behalwe te voet, te perd en tevrede”. Dis ’n wekroep teen oordadigheid, of dan te veel. Geelvet-biltong is byvoorbeeld lekker, maar as jy net dit eet op die pad tussen Centurion en Hartenbos gaan jy sterf van óf die cholesterol óf van die bloeddruk weens al die sout. Nee, jy wil dit kan afwissel met ietsie ligter (dalk ’n vrug), of ietsie soets (dalk weer ’n vrug).

Vierde, en waarskynlik die belangrikste, is smaak. Jy kan die mooiste pastei in die Tankwa-Karoo bak, wat glad nie mors nie, maar as hy soos karton proe, is dit ’n mislukking. Kos is meer as net kilojoules wat jou liggaam aan die gang moet hou. Lekker kos is ’n lewensvreugde.

Kos is immers kultuurgoed – dit kom nie uit ’n vakuum nie. Dit verklap iets oor identiteit – van sowel die gereg as die eter. Familieresepte word geheimsinnig bewaar soos staatsgeheime of trots gedeel met almal wat net lyk of hulle belang stel. Met mense wat net eet omdat hulle moet, dink ek nie het ek veel in gemeen nie.

Voorbeelde van goeie padkos, dan, vir die uwe: geelvet-biltong (indien dit nie reeds duidelik was nie). ’n Lekker pastei (maar nie daai wat jy by kettingwinkels kry nie – dis sielloos, en jy kan proe die liefde, indien daar enige was, is te dun verdeel tussen al die pasteie).

Die klassiekes is ook gepas: Tuisgebakte koekies en koue wors en hardgekookte eiers. Maar asseblief tog nie blou gekook nie. Dis ’n reuse bug bear van my: Daai hoender het moeite gedoen om daai eier te lê, die minste wat ons kan doen, is om dit met die nodige ontsag te hanteer en te sorg dat die geel, wel, geel is.

Ek dink nou nog soms terug aan van die padkos-treffers oor die jare: ’n bobotie-pastei van Ou Meul op Riviersonderend; handmelktertjies van Spensjolyt op Heidelberg; spek-kaas-en-appelkooskonfyt-roosterkoeke by Buffeljagsrivier se BP.

As jy kan aftrek

Die ander kategorie van padkos is waar jy stilhou en eet voordat jy verder ry. Uiteraard is daar raakpunte met bostaande relaas: Dit moet steeds smaaklik wees. Maar hier is ander dinge ook van belang.

As jy elk geval gaan stilhou, moet daar darem behoorlik plek wees vir bene rek, veral vir kinders, of as jy met ’n hond reis. Daar waar hulle kan hardloop en ’n bietjie energie kan afskud.

’n Piepieplek is ook van kardinale belang. En nee, nie alle piepieplekke is gelyk geskape nie: Sommige skitter soos die sterre; jy sal dit selfs, onder dwang, oorweeg om jou gemorste skilferkorskrummels van die vloer te eet. Ander is weer so vuil, as jy daar instap voel jy hoe jy sommer long- én blaasontsteking opdoen.

Daar is basies dan twee opsies, in die breë: Óf jy hou by ’n vulstasie stil, en gooi sommer petrol in, óf jy snuffel ’n padstal uit. Soms is jy gelukkig, en is daar ’n vulstasie met ’n padstal, of ’n padstal met ’n petrolpomp.

As ons wintervakansies donkeroggend van Wellington na my plaassuster in Springbok ry, stop ons gewoonlik by Klawer se Wimpy. Hier kan die kinders lekker speel, en die hond (en ons) piepie. En hul kaaswors-ontbyt is nogal lekker.

Een jaar het ons by Dassiesfontein tussen Botrivier en Caledon gestop op pad na Hartenbos. Die kos was heerlik, maar sonder ruimte vir die kinders om te speel was dit bykans ’n marteling.

Meestal is ek nie gekant teen bekende handelsmerke nie, en ek verstaan die aantrekkingskrag – jy weet immers wat om te verwag. Dis seker maar kontekstueel: Ek gee nie noodwendig om vir Wimpy se eiers as ek dan nou mall toe moet gaan nie. Maar as ek op die pad is, is daar ’n oer-deel van my wat wil voel ek verken iets, ek ontdek nuwe goed, daarom verkies ek nuwe plekke en dinge.

Net nie blou eiers nie

Soms mis ek dit dat ’n mens nie meer sommer net enige plek langs die pad kan stilhou en jou roomysbak vol hardgekookte eiers en koue wors en ’n koffiefles met blikbekers kan uitpluk nie.

Die aftrekplekke langs die pad is deesdae verwaarloos – die betonbankies en tafels is gekraak of heeltemal aan flarde, rommel lê gestrooi, en as die tafelblaaie nog bestaan, is daar baie keer vieslike graffiti op. En dan praat ek nie eens oor veiligheid nie: Ek is doodgewoon te bang om so weerloos langs die pad met my vrou en twee kinders stil te hou.

En dan dink ek aan die verlies daarmee saam – nie net die feit dat jy nie meer veilig voel nie, maar ook aan ander dinge. Hoe mense jare gelede skaapboud of hoender in die kar se enjin gaar gemaak het, of langs die pad stilgehou en vuur opgesteek het om te braai.

Destyds, toe ek nog ’n reisjoernalis was, het ek een keer ’n oom ontmoet wat vertel het hoe hulle die land platgereis het, sonder om ’n sent vir verblyf te betaal. Hulle het sommer so langs die pad tent opgeslaan – “wild camping” het hy dit genoem. Ek kan my nie indink dat jy dit vandag sou kon waag nie.

Dis natuurlik nie alles sleg nie – kultuur (en by verlenging kos) is, soos reeds genoem, ’n uitdrukking van identiteit, ja. Dit kan egter ook ’n boks wees om in te pas. Gelukkig is dit ook soos water en dus vloeibaar.

Laat my dus ’n laaste cliché toe: Verandering is onvermydelik. Kom ons vat die goeie uit die verlede, en bou ’n beter toekoms daarmee. Kom ons begin sommer om te sorg dat die hardgekookte eiers wat ons op die pad eet, nie blou is nie . . .

Ons skuld ons kinders dit!

Meer oor:  Kos  |  Biltong  |  Langpad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.