Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Kostelik:
Ons bak saam vir teeparty!

Ek het ’n rukkie gelede saam met die formidabele prof. Elain Vlok, Clover se bestuurder van korporatiewe dienste, gewerk en tog te lekker gebak en -brou (ekke, nie Prof nie) uit die nuwe bakboek Teepartytjie, waarvan sy die skrywer is.

Teepartytjie deur prof. Elain Vlok

Elain vertel: “Die meeste van ons het ’n kosbare herinnering of twee van ’n gunsteling- gebakte eetdingetjie. Of dit nou Ouma se mosbolletjies, tannie Sarie se vetkoek met botter en stroop, of Ma se onverbeterlike melktert is, daar is darem net sekere gebak waarvan ’n mens nooit genoeg kan kry nie. Teepartytjie is ’n keur uit Clover se beste bakresepte van die afgelope 20 jaar, en ’n móét vir alle bakkers! Ek beskou dit as ’n bakbybel.

“Probeer gerus die flatervrye resepte vir brood, skons, muffins, beskuit, terte, soutterte, pasteie, koeke, poedings, soetgoed soos ystervarkies, plaatkoekies, vlaskywe en Florentynse koekies, asook beskuitjies en soutgebak. Lekker bak!”

Drie van die bestes

So deur die gebak en gelag het Elain my aangeraai om die volgende resepte te probeer: die sensasionele grenadellakoek, die dekadente meringue-rollade met sjokolade, karamel en haselneute en die romerige vlaskywe.

Ek gaan nie by als kan uitkom nie, so ek vra vir julle om saam te bak en vir my foto’s te stuur.

Teepartytjie het 55 smulresepte vir al daardie lekkernye wat op jou teetafel behoort te pronk as jy wil uithaal en wys. So, sit jou beste stringetjie pêrels aan en trek jou porseleinteepot nader, want te danke aan dié pragtige bakboek, het jy ’n teeparty om te beplan.

Groete uit my kombuis,

Anél

anelpot@telkomsa.net

Grenadellakoek

Grenadellasponskoek. Foto:

8 porsies

Koek

1 k (250 ml) volroommelk

4 e (60 ml) kookolie

4 e (60 ml) grenadellapulp

4 eiers

1 ½ k (375 ml) strooisuiker

2 k + 2 e (530 ml) koekmeel

2 t (10 ml) bakpoeier

knippie sout

½ t (2,5 ml) vanieljegeursel

botter om panne mee te smeer

Botterversiersel

¼ k botter

4 k versiersuiker, gesif

½ t (2,5 ml) vanieljegeursel

2 e (30 ml) grenadellapulp

Koek

Voorverhit die oond tot 180 °C. Verhit die melk en roer die olie en grenadellapulp daarby. Hou eenkant. Klits die eiers met ’n elektriese klitser tot liggeel. Voeg die strooisuiker bietjie vir bietjie by. Klits tot pofferig en liggeel, ongeveer 15 minute. Sif die koekmeel, bakpoeier en sout saam. Roer die meelmengsel en die melkmengsel beurtelings by die eiermengsel en roer tot ’n beslag vorm. Roer die vanieljegeursel by. Smeer twee ronde koekpanne met ’n deursnee van 20 cm goed met botter en voer uit met bakpapier. Verdeel die beslag so gelyk moontlik. Bak vir 25 minute, of tot die toetspen skoon uitkom. Laat ’n bietjie afkoel in die koekpan en keer dan die koeke uit op ’n afkoelrak om heeltemal af te koel.

Botterversiersel

Verroom die botter met ’n elektriese klitser tot liggeel. Gooi die versiersuiker bietjie vir bietjie by terwyl aanhoudend geklits word. Wanneer die versiersuiker te styf raak, gooi ’n bietjie grenadellapulp by. Voeg ook die vanieljegeursel by. Hou aan met klits tot dit romerig is. Plaas die een koeklaag op ’n koekbord. Smeer die helfte van die versiersel bo-oor. Plaas die volgende koek bo-op en smeer die oorblywende versiersel oor.

Meringue-rollade

Meringue-rollade met sjokolade, karamel en haselneute. Foto:

Genoeg vir 8-10

Meringue

1 t (5 ml) mielieblom

1 t (5 ml) vanieljegeursel

1 t (5 ml) asyn

1 e (15 ml) kakaopoeier

4 t (20 ml) water

4 eierwitte

1 k (250 ml) strooisuiker

Vulsel

1 k (250 ml) room, geklop

100 g sjokoladesmeer

100 g gekoopte karamelsous

1 k (250 ml) haselneute, gerooster en gekap

Meringue

Voorverhit die oond tot 150 °C. Voer ’n 33 x 23 cm-bakplaat met bakpapier. Meng die mielieblom, vanieljegeursel en asyn. Meng die kakaopoeier en water in ’n aparte bakkie. Plaas die eierwit in ’n groot, skoon en droë mengbak en klits met ’n elektriese klitser tot sagte punte vorm. Voeg ’n klein hoeveelheid van die suiker en mielieblommengsel geleidelik by. Voeg die res van die suiker en mielieblom by tot dit goed gemeng is en die meringue stywe punte vorm. Vou die kakaomengsel versigtig in. Skep die meringue op die bakplaat en versprei eweredig. Bak vir 40 tot 45 minute tot bros aan die buitekant, maar sag binne. Haal uit die oond en bedek losweg met foelie vir 15 minute. Plaas dan versigtig op ’n groot vel waspapier. Laat afkoel vir 15 tot 30 minute en trek dan die waspapier waarop jy dit gebak het, versigtig af.

Vulsel

Smeer die room in ’n enkellaag oor die meringue, maar laat ’n spasie van 2,5 cm aan die kante. Skep die sjokoladesmeer en karamelsous oor die room. Sprinkel die haselneute eweredig oor. Rol die rollade op en bedien in skywe.

Vlaskywe

Vlaskywe.Foto:

18 porsies

Koekielaag

1 pakkie (200 g) Cream Crackers

botter om mee te smeer

Vla

1 liter volroommelk

1 x 385 g blik kondensmelk

4 e (60 ml) botter

½ k (125 ml) koekmeel

6 e en 1 t (95 ml) mielieblom

3 e (45 ml) vlapoeier

1 ml sout

4 eiers, geskei

1 k (250 ml) room

1 t (5 ml) vanieljegeursel

Bolaag

2 k (500 ml) versiersuiker, gesif

2 e (30 ml) warm water

Koekielaag

Smeer ’n tertbak van ongeveer 30 x 22 cm met botter. Pak die Cream Crackers in ’n enkellaag op die bodem van die bak, sodat die halveringslyne van die kraakbeskuitjies almal in dieselfde rigting lê.

Vla

Verhit die melk en kondensmelk saam in ’n kastrol. Roer van tyd tot tyd. Roer die botter by die melkmengsel. Roer die koekmeel, mielieblom, vlapoeier en sout saam in ’n mengbak. Roer die eiergele by die room tot gemeng. Roer die meelmengsel by die roommengsel totdat dit ’n gladde vlamengsel vorm. Roer die vlamengsel stadig by die warm melkmengsel in die kastrol terwyl jy steeds aanhoudend roer. Laat prut vir twee tot drie minute. Verwyder van die stoofplaat. Roer die vanieljegeursel by die vlamengsel. Klits die eierwitte tot dit sagte punte vorm en vou by die vlamengsel in. Skep die vlamengsel versigtig oor die koekies. Smeer dit gelyk bo-op. Pak nog ’n enkellaag kraakbeskuitjies bo-op die vlamengsel, weer so dat die halveringslyne in dieselfde rigting wys. Laat die vlaskywe eers buite die yskas afkoel en plaas dan in die yskas om te verkoel.

Bolaag

Meng die versiersuiker en water tot ’n gladde pasta en smeer bo-oor die vlaskywe. Sny in skywe en bedien.

Foto:

Wen

Teepartytjie word uitgegee deur Lapa en kos R280. Vyf lesers kan elk ’n eksemplaar wen. SMS die woord “Tee” met jou naam en adres na 34581. Die kompetisie sluit op 23 Augustus 2019.

Meer oor:  Resepte  |  Resep  |  Kostelik
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.