Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kos en Wyn
Ons land se kultuurerfenis is van onskatbare waarde

Op Donderdag 24 September vier Suid-Afrikaners Erfenisdag, ’n dag waarop hulle ook graag saam braai. Belinda Jackson, ’n Suid-Afrikaner wat trots is op haar Khoi/San-herkoms, besin oor die ware betekenis van erfenis en wat dit vir haar beteken.

!Garu Zenzile Khoisan, ’n Khoi-hoofleier van die Gorinhaiqua, by ’n Erfenisdag-viering in die Overberg. Foto: Debbie Hendricks

In ’n toespraak ter viering van Erfenisdag in 1996 het wyle pres.Nelson Mandela gesê: “Die demokraties verkose regering het Erfenisdag ’n nasionale dag gemaak omdat ons geweet het ons ryk en uiteenlopende kultuurerfenis het die diepsinnige vermoë om ons te help bou aan ons ‘nuwe’ nasie.”

Die donker dae van inperking tydens die Covid-19-pandemie het my diep laat wonder oor dinge wat werklik saakmaak en hoe ons as Suid-Afrikaners aan die anderkant gaan uitkom.

Vrese oor ons gesondheid, vlakke van veiligheid teen die koronavirus, wydverspreide korrupsie en onaanvaarbare vlakke van gender-gebaseerde geweld, om ’n paar te noem, het die vermoë om jou op ’n negatiewe spoor van donkerte saam te sleur.

Dis in hierdie besinning dat ek besef, al is jy van ander afgesny, is jy tog saam met ander Suid-Afrikaners in hierdie ding, saamgevoeg teen ’n gemeenskaplike vyand, amper soos in die tye voor 1994, waarna ’n dag soos Erfenisdag noodsaaklik geword het vir die doel van nasiebou.

Ons land se leuse !ke e: /xarra //ke, in die taal van die /Xam-groep, ’n lid van die Eerste Nasies in Suid-Afrika, kry opnuut nuwe betekenis vir my, want in Afrikaans beteken dit “Mense wat verskillend is, kom saam.”

Waar baie van ons vanjaar op Erfenisdag gaan saamkom om te braai, Covid-19-regulasies inaggenome, mag ons nie vergeet waaroor hierdie dag werklik gaan nie: om ons uiteenlopende kultuurerfenis te erken, te waardeer en te vier.

Hoofleier Khoisan verwelkom Pearl Means, leier van die Navajo- Eerste Nasie van Amerika, by dieselfde Erfenisdag-viering in die Overberg. Foto: Debbie Hendricks

En terwyl ons so om die braaivuur staan en tereg gesellig verkeer, dalk ook te dink aan mý mense, die Eerste Nasies in Suid-Afrika.

Ek deel graag insigte hieroor uit ’n gesprek met !Garu Zenzile Khoisan, ’n Khoi-hoofleier van die formidabele Eerste Nasie-groep, Gorinhaiqua en ook senior ondersoekbeampte van die Waarheid-en-versoeningskommisie. Hy speel tans ’n vername rol in die nuwe River Club-ontwikkeling in Kaapstad, waardeur Eerste Nasie-afstammelinge se erfenis erken en uitgebou sal word.

“Erfenisdag is bedoel om ’n viering te wees van ons uiteenlopende nasies se kosbare kultuurskatte wat ryk verweef is in die ontelbare stories en ondervindinge wat ons ware natuuraard omskryf.

“As ’n ten volle verklaarde inheemse afstammeling van die Khoi en San wie se daaglikse lewe gevoed word deur hierdie bewustheid, lê hierdie dag se waardigheid en ware potensiaal vir my in sy vermoë om ons as ’n volk saam te bind in ’n eenheid wat so baie het om aan die wêreld te bied; as die voedingstof wat ons saambind in een verhaal wat geanker is in tasbare en ontasbare kulturele samehorigheid, ’n dag wat ons eiesoortige reis weerspieël wat eeue gelede begin het tot waar ons vandag is.

“Ek benader dus Erfenisdag – dikwels rondom ’n gesellige braaivuur saam met familie, vriende of uiteenlopende landgenote – as ’n besonderse geleentheid om regstreeks deel te wees van die post-Apartheid Khoi en San wat nou na vore tree en wie se geskiedenis in Suid-Afrika steeds ontken word.

Hy bring hulde aan ’n Khoi-stryder. Foto: Debbie Hendricks

“Op Erfenisdag vier ek my kulturele erfenis en inheemse kennis van my mense in die rooibos, als, boegoe, wynruik, Khoigoed, en aalwyn X elemente van genesing en suiwering.

“Ek vier die boodskappe van my mense wat praat deur rotstekeninge, antieke visvangstrikke, skulphope en klipkrale vol diep geheime as bewys van eienaarskap van ons land se Eerste Nasies. Ek dans oor ikoniese figure soos Doman, Autshumato, Krotoa, Rachel, Regopstaan Kruiper, Klaas Lucas, Sarah Baartmann. En ek onthou ons mense as die eerste vryheidsvegters in die Slag van die Gorinhaiqua in 1510.

“Op Erfenisdag wy ek my opnuut toe aan die strewe van my mense vir erkenning, restitusie en herstel van ons mense om ’n volhoubare nalatenskap vir die sewe Eerste Nasie-geslagte te verseker.”

En dít is wat Erfenisdag vir mý beteken. Om saam te kom met familie en vriende, verenig in ’n gemeenskaplike deel van geure en smake rondom ’n braaivuur of aan ’n lekker tradisionele langtafel, om te onthou die dinge wat saakmaak oor my eie kultuurerfenis, om bewus te wees en te leer van ander kulture se spesiale erfenis om so uiteenlopendheid van landgenote te vier, om te deel in vreugde en in pyn, om te help met nasiebou.

Geseënde Erfenisdag. !ke e: /xarra //ke.

Meer oor:  Erfenisdag  |  Erfenis  |  Braaidag2020  |  Braaidag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.